Li Bai (701 tot 762), ook bekend as Li Po, is 'n Chinese digter wat in sy leeftyd al vereer is en tot vandag nog geprys word as 'n genie en romantikus wat tradisionele poësievorme tot nuwe hoogtes geneem het. Hy, saam met sy vriend Du Fu, was die vernaamste bydraers in die bloeitydperk van Chinese digkuns tydens die Tang-dinastie. Die Tang-dinastie word beskryf as "China se goue era" en die uitdrukking "Drie wonders" verwys na Li Bai se digkuns, Pei Min se skermkuns en Zhang Xu se kalligrafie. Die nuwe boek van Tang 文宗時,詔以白歌詩、裴旻劍舞、張旭草書為「三絕」

Nagenoeg 'n duisend gedigte wat aan Li Bai toegeskryf word, het behoue gebly. Dit is saamgevoeg in vier bloemlesings uit die Tang-dinastie, 河嶽英靈集, 唐寫本唐人選唐詩, 又玄集, en 才調集 terwyl vier-en-dertig van sy gedigte ingesluit is by die bloemlesing Driehonderd Tang-gedigte, wat vir die eerste keer in die 18de eeu gepubliseer is. Vertalings van sy gedigte word ook in hierdie tyd in Europa gepubliseer. Die gedigte dien as modelle om die plesier van vriendskap, die diepte van die natuur, afsondering en wyn te vier. Onder die beroemdste gedigte tel Om wakker te word uit dronkenskap, Die moeilike pad na Shu en Op 'n stil nag, wat steeds in Chinese skooltekste voorkom. In die Weste word nog voortdurend meertalig vertaalde tekste van Li se gedigte gepubliseer, Afrikaans ingesluit. Sy lewe self het 'n legendariese gedaante aangeneem met stories van dronkenskap, ridderlikheid asook die bekende mite dat hy in 'n rivier verdrink het na 'n poging om die maan se waterweerkaatsing vanuit 'n boot te omhels.

Groot gedeeltes van Li se lewe word deur sy gedigte ontbloot: plekke waar besoek afgelê is, vriende wat afgesien is op hul reis na verafgeleë bestemmings en dalk nooit weer te sien gekry is nie, sy eie dromerige verbeeldingsvlugte verweef met sjamanistiese botone, aktuele gebeure waarvan hy te hore gekom het, beskrywings uit die natuur gesny en vervat in tydlose poësie en so meer. Spesifiek van belang egter is die veranderinge wat in sy leeftyd plaasgevind het. Sy vroeëre gedigte is geskryf binne die milieu van 'n "goue era" van vrede en voorspoed in die Tang-dinastie, onder die gesag van 'n keiser wat die kunste aktief ondersteun en aan deelgeneem het. Die omgewing verander nogtans skielik en drasties met generaal An Lushan se rebellie, waartydens die hele noordelike China deur oorlog en hongersnood verwoes is. Li se poësie neem hierna ook 'n nuwe toon en kwaliteit aan. Anders as in die geval van Li se jonger vriend, Du Fu, sou hy nie lank genoeg leef om die einde van die chaos te beleef nie. Groot gedeeltes van Li se digkuns is nietemin vir die nageslagte bewaar met blywende gewildheid in China en elders.

Familienaam en van Li (李) is die agternaam of van. Li Bai, Li Po, Li Bo, Ri Haku, al die variante en nog meer, met of sonder woordafbreking, is histories aan hom toegeken en gebruik. Li Bai verwys algemeen na homself as "白"

Sy gegewe naam word met 'n Chinese karakter (白) geskryf, en word verrooms met variante soos Po, Bo, Bai en Pai. In Hanyu Pinjin wat moderne Mandaryns reflekteer, is die vernaamste omgangsvariant vir dié karakter Bái; Bó is egter die korrekte letterkundige variant en 'n algemene uitspraak vir sy familienaam. Die "P" in Wade-Giles Po dui op ’n gebrek aan aspirasie in die konsonant, sodoende nader aan /b/ as aan /p/ en kan geskryf word as "p'", /p/ gevolg deur ’n apostroof. Die Kantonese weergawe is baak met 'n finale /k/. Die gerekonstrueerde weergawe van hoe hy en ander uit die Tang-dinastie dit sou uitspreek is Bhæk. Sy stylnaam (zi) is Taibai (Tai-pai; 太白), letterlik "Groot Witte" wat Venus beteken (in die Chinees van sy tyd en later deur die term "Goue ster" vervang is as planeetnaam). Deur dus die familienaam en die stylnaam te kombineer kom variante soos Li Taibo, Li Taibai en Li Tai-po onder meer na vore.

Lewe Die twee "Boeke van Tang", Die Ou boek van die Tang en Die Nuwe boek van die Tang bly die primêre bronne van bibliografiese materiaal oor Li Bai. Ander bronne bevat interne leidrade uit gedigte van of deur Li Bai, en dan is daar ook sekere ander bronne, soos die voorwoord vir sy versamelde gedigte geskryf deur sy familielid en literêre eksekuteur, Li Yangbin.

Agtergrond en geboorte Li Bai is volgens algemene beskouing in 701 n.C. gebore in wat nou as Sentraal-Asië beskou word,Beckwith, 127 waar sy familie in sake gedy het op die grensgebied. Hierna, op ongeveer vyfjarige ouderdom, verhuis die familie onder leiding van sy vader, Li Ke (李客), na Jiangyou. Dit is naby moderne Chengdu in die Sichuan-provinsie. Daar heers 'n mate van geheimsinnigheid of onsekerheid rondom die omstandighede van die familie se verhuising. Die gebrek aan geregtelike toestemming wat nodig sou wees om vanuit grensgebiede te verhuis, veral as die familie daarheen beroep of verban is, laat vrae ontstaan. Ten spyte van heelwat spekulasie bly die feite egter dun gesaai.

Agtergrond Twee weergawes deur tydgenote, Li Yangbing (familielid) en Fan Chuanzheng, noem dat Li se familie oorspronklik kom uit wat nou bekend staan as suidoostelike Gansu. Li se voorgeslagte word tradisioneel terug geneem tot by Li Gao, die adellike stigter van die staat Westelike Liang. Hierdie feit verskaf 'n mate van ondersteuning vir Li se aanspraak dat hy verwant is aan die Li koninklike familie van die Tang-vorstehuis. Die Tang-keisers het ook aanspraak gemaak daarop dat hulle verwant is aan die Li-heersers van Westelike Liang. Bewysstukke toon egter dat Li se eie voorgeslagte tydens die Sui-dinastie weens een of ander rede sosiaal as nie-adelikes geklassifiseer is, en gedwing is tot 'n vorm van ballingskap vanuit hul oorspronklike huis (wat nou Gansu heet) na 'n plek of plekke verder wes. Tydens hul ballingskap in die verre weste bly die familie Li in die antieke Syroetestad Suiye (Suyab, tans 'n argeologiese terrein in hedendaagse Kirgistan), en moontlik selfs in Tiaoshi, 'n staat naby moderne Ghazni, Afghanistan. Hierdie gebiede lê langs die antieke Syroete en die familie Li was waarskynlik handelaars en was nogal welvarend.

Geboorte In een hagiografiese mededeling droom Li Bai se ma, terwyl sy hom verwag, van 'n groot wit verskietende ster. Dit moes bygedra het tot die idee dat hy 'n uitgeworpe onsterflike (een van sy byname) was. Dat die Groot Wit Ster sinoniem was met Venus, dra ook natuurlik by om sy stylnaam "Tai Bai" of "Venus" te verduidelik.

Huwelik en gesin Li was ten minste twee maal getroud. Hy tree in 727 in sy eerste huwelik met die kleindogter van ’n gewese minister. Later jare in 744 tree hy weer in die huwelik in die huidige Liangyuan-distrik van Henan. Die huwelik is met 'n ander digter met die van van Zong (宗), by wie hy kinders verwek en mee gedigte uitruil, onder meer verskeie verklarings van liefde teenoor haar en hulle kinders. Sy tweede vrou was 'n kleinkind van Zong Chuke (宗楚客, oorl. 710), ’n vername regeringsamptenaar tydens die Tang-dinastie en die oorgangstydperk van Wu Zetian.

Jeug In 705, Li Bai was vier, verhuis sy vader in die geheim met sy gesin na Sichuan naby Chengdu. Li bring dan ook sy jeug daar deur. Daar staan deesdae 'n gedenkteken in Zhongba-dorp, Jiangyou, Sichuan-provinsie (die gebied van die moderne provinsie wat toe as Shu bekend gestaan het, na 'n vorige onafhanklike staat wat deur die Sui-dinastie geannekseer is en later weer by die Tang-dinastie se grondgebied ingesluit is). Die jong Li spandeer die meeste van sy grootwordjare in Blou (ook vertaal as "groen", "asuur" of "natuurkleur") Lotus, ’n dorp in Chang-ming-distrik, Sichuan, China. Dit stem tans in naam ooreen met Qinglian-dorp (青莲镇) van die Jiangyou-stadsdistrik in die Sichuan-provinsie.

Die jong Li het wyd gelees, van onder meer klassieke Confucius soos die Boek van liedere en die Boek van dokumente, asook verskeie astrologiese en metafisiese werke wat Confucius geneig was om te vermy. Deel van die familie se literêre tradisie was om die "Honderd Outeurs" te lees en hy kon ook dig voor hy tien was. Die jeugdige Li was ook by ander aktiwiteite betrokke soos die tem van wilde voëls en skermkuns. Verdere aktiwiteite het ingesluit perdry, jag, reis en hulpverlening aan armes en onderdruktes deur geld of wapens te verskaf. Met verloop van tyd het die jong Li heel vaardig geword in vegkuns. 'n Outobiografiese aanhaling deur Li self getuig van en help ook om die wilde lewe wat hy in die Sichuan provinsie gelei het te illustreer. Hy noem dat toe hy vyftien was hy gaande was oor skermkuns en met die kuns heelwat groot manne uitgedaag het.Wu, 58. Neem kennis dat volgens Oos-Asiatiese ouderdomsbepaling dit veertien eerder as vyftien jaar oud sou wees

Voor sy twintigste verjaarsdag het Li reeds verskeie mans dood gemaak, klaarblyklik uit ridderlikheid volgens die dwalende ridder-tradisie (youxia).

In 720 voer Goewerneur Su Ting, wat Li as 'n genie beskou het, 'n onderhoud met hom. Hoewel hy die begeerte uitgespreek het om 'n amptenaar te word, het hy nooit die Chinese staatsdienseksamen afgelê nie. Die rede vir wat as 'n logiese stap vir hom sou wees blyk persoonlik van aard te wees.

Op pad na Chang'an duimnael|links|300px|alt=Kaart van die oos-binnelandse Chinese stede van Luoyang, Chang'an, Qinzhou, Chengdu, Kuizhou, en Tanzhou|Die China van Li Bai en Du Fu

Vertrek uit Sichuan Li Bai verlaat Sichuan rondom 725 in sy middel twintigs en seil die Yangtzerivier af oor die Dongtingmeer na Nanjing en lei hiermee sy swerfjare in. Hierna keer hy stroomop terug na Yunmeng, wat nou as Hubei bekendstaan, en trou met die kleindogter van 'n afgetrede eerste minister, Xu Yushi. Die huwelik blyk egter net 'n kort tussenpose te wees. Tydens die eerste jaar van sy reis ontmoet hy bekendes en gee heelwat van sy rykdom weg aan hulpbehoewende vriende.

Verder op reis In 730 bly Li Bai by Zhongan-berg naby die hoofstad Chang'an (Xi'an), en probeer tevergeefs om daar ’n pos los te slaan. Hierna seil hy stroomaf met die Geelrivier, vertoef in Luoyang en besoek Tiyuan voor hy huiswaarts keer. In 735 bevind Li Bai hom in Shanxi waar hy tydens ’n krygsverhoor teen Guo Ziyi tussen beide tree. Ziyi betaal die guns later terug tydens die An Shi-onruste, na hy een van die top Tang-generaals geword het. Teen ongeveer 740 verhuis Li na Shandong en word oor die tydperk deel van die groep wat bekend word as die "Ses leeglêers van die Bamboesspruit". Dit was 'n informele groep toegewy aan letterkunde en wyn. Verder swerf hy rond in die omgewing van Zhejiang en Jiangsu en maak uiteindelik vriende met Wu Yun, 'n bekende Daoïstiese priester. Wu Yun word in 742 deur die Keiser ontbied om die keiserlike hof by te woon en sy lof daar vir Li Bai was enorm.

By Chang'an duimnael|250px|Keiser Minghuang, sittende op die terras, observeer Li Bai besig om te dig terwyl sy stewels uitgetrek word (illustrasie uit die Qing-dinastie).

Wu Yun se lof vir Li Bai lei Keiser Xuanzong (gebore Li Lonji en ook bekend as Keiser Minghuan) om Li Bai na die keiserlike hof in Chang'an te ontbied. Li se persoonlikheid fassineer beide die aristokrate en gewone mense gelyk, insluitend 'n ander Taoïs (en digter) genaamd He Zhizhang. Zhizhang gee Li die bynaam van "Onsterflike uit die hemel verban." Na 'n aanvanklike oudiënsie, waartydens Li Bai uitgevra is oor sy politieke siening, was die Keiser so beïndruk dat hy 'n groot banket aangebied het in Li Bai se eer. Daar word genoem dat die Keiser tydens die banket sy guns tot so 'n mate bewys het deur persoonlik Li se sop te kruie.

Keiser Xuanzong neem Li in diens as 'n vertaler omrede hy ten minste een nie-Chinese taal geken het. Ming Huang gee hom op die ou einde 'n pos by die Hanlin-akademie, wat gemoeid is met die lewering van geleerde kundigheid en poësie vir die Keiser.

Wanneer Li Bay na die paleis ontbied is deur die keiser, was hy gereeld dronk, maar steeds bedrewe genoeg om op die plek op te tree.