Die Gereformeerde kerk Johannesburg was die tweede gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aan die Witwatersrand naas die gemeente Krugersdorp, wat net ’n maand vroeër gestig is.
Op 1 April 1943 is die grense tussen Johannesburg en Johannesburg-Wes (gestig 13 Desember 1930) opgehef en het dit die gemeente Johannesburg-Wes geword. Op 22 Oktober 1950 is Johannesburg herstig en vanaf 1952 het dit bekendgestaan as Johannesburg-Mayfair. In 1986 het dit met Johannesburg-Oos (gestig op 29 Februarie 1924) en Johannesburg-Sentraal saamgesmelt as Johannesburg (herstig), maar het die meeste van die voorstede wat binne Johannesburg-Melville geval het, deel geword van Johannesburg-Wes. In 1997 het Johannesburg (herstig) en Johannesburg-Noord (gestig op 1 Maart 1924) saamgesmelt as Johannesburg-Melville. In 1998 het Johannesburg-Wes en Delarey saamgesmelt as Bergbron. Johannesburg-Melville is daarna in 2002 ingelyf by Randburg, waarby Randburg-Oos in 2003 ingelyf is.
Agtergrond duimnael|regs|200px|Ds. Martinus Postma het op 28 Augustus 1897 die eerste leraar van die Gereformeerde Kerk op die Witwatersrand geword.
duimnael|links|320px|Die Transvaalse Algemene Vergadering waarop die besluit geneem is om twee gemeentes aan die Rand te stig.
Hoewel baie lidmate van die Gereformeerde Kerk hulle in Johannesburg gevestig het, is tydens die eerste 10 jaar van die Goudstad se bestaan geen afsonderlike gemeente vir die Witwatersrand gestig nie. Voor 1896 is lidmate deur Pretoria se predikant bedien. 'n Aantal lidmate het 'n paar standplase in Mintweg, Fordsburg, aangekoop en 'n kerkgebou ter waarde van £719 daar opgerig. Tydens die dinamietontploffing op 19 Februarie 1896 is hierdie geboutjie verwoes. Die Relief Comitee het £750 aan die gemeente betaal uit die fonds wat ná die ramp gestig is.
Op die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk van die Zuid-Afrikaansche Republiek wat op 16 Maart 1896 en volgende dae op Heidelberg, Transvaal sitting geneem het, is daar toestemming verleen om twee gemeentes op die Witwatersrand af te stig, naamlik dié van Krugersdorp en dié van Johannesburg. Op 25 April 1896 is dan afgestig van Rustenburg die Gereformeerde kerk Krugersdorp in teenwoordigheid van die volgende deputate: ds. Johannes de Ridder, ouderlinge. H.P. Steyn en A. Venter (Rustenburg), ds. J.L. Murray en ouderlinge. J.A. Bezuidenhout en G.A. van der Walt (Potchefstroom). Die gemeente is in twee wyke verdeel, naamlik Hekpoort en Hoogeveld, en dit het gestrek oor Krugersdorp tot by Die Moot na die noorde; oor Randfontein en omgewing weswaarts tot by Stenekoppies en Manhaarrand. In April van die volgende jaar het Rietfontein en omgewing ook bygekom.
Tot konsulent is gekies ds. P.S. Snyman van Heidelberg. Die lidmate van Krugersdorp het blykens die notule van hierdie gemeente eers sorteer onder die gemeente van Rustenburg, want hiervan is opgeteken: "In den loop van het jaar 1895 werd door byna al de manslidmaten van de wyk Hekpoort resorteerende onder de Gemeente Rustenburg, Z.A.R., een beleefd verzoekschrift ingediend om als zelfstandige Gemeente te Krugersdorp gesticht te worden. De Kerkraad van Rustenburg genoemd verzoekschrift al dadelyk in behandeling nemende, besloot te antwoorden, dat hy dat verzoekschrift naar de e.k. Algemene Vergadering zou zenden en krachtig zou ondersteunen het verzoek daarin gedaan. Den 16 Maart 1896 en volgende dagen zat de Algemene Vergadering te Heidelberg, Z.A.R. en daar werd besloten dat de wyk Hekpoort als gemeente te Krugersdorp zou gesticht worden."
Die aanvangsjare van die gemeente Krugersdorp word gekenmerk deur die ywer om grond vir die kerk in hande te kry, soos dit maar die geval is met elke pas gestigte gemeente. Nou was dit die gewoonte in die tyd van die Republiek dat die regering plase aan die kerke present gee. Oudl. S. Potgieter, wat hom besonder vir hierdie saak beywer het, ontvang dan ook opdrag van die kerkraad om grond vir die kerk aan te vra. Die Gemeente ontvang nou twee plase: Vrye Gunst in die Piet Retiefse en Nooitgedacht in die Rustenburgse distrik. In Oktober 1899 meld die notule dat die Gemeente ook nog erwe 15, 16, 17 en 136 van die Republikeinse regering ontvang het. In Mei 1904, agt jaar ná die stigting, het die gemeente 'n sierlike kerkgebou en pastorie in gebruik geneem. Dit het egter nie gebeur sonder baie worsteling op finansiële gebied nie. Dinge het op die Witwatersrand vinnig uitgebrei. Dit word baie duidelik weerspieël in die geskiedenisse van die verskillende gemeentes: Op die heel eerste kerkraadsvergadering van die Krugersdorpse gemeente (20 Oktober 1896) word daar alreeds 'n brief van die pas gestigte gemeente Johannesburg voorgelees waarin gevra word dat die twee gemeentes kombineer om 'n predikant te beroep.
Johannesburg gestig duimnael|links|300px|Die tweede kerkgebou van die Johannesburgse gemeente, nes die eerste in Mintweg, Fordsburg. Dis in 1903 in gebruik geneem teen 'n koste van £3 750 nadat die ou gebou verkoop is vir £3 000. duimnael|regs|220px|Die kerkgebou in Mintweg in 2017. Johannesburg se gemeente is slegs 'n maand na dié van Krugersdorp gestig en wel op 23 Mei 1896 met 200 belydende lede. Die stigting is goedgekeur op dieselfde Algemene Vergadering van Transvaal hierbo genoem. As deputate het hier opgetree namens Pretoria (Pretoria het toe reeds al die lidmate in Johannesburg vir 'n geruime tyd bedien): ds. Petrus Postma, ouderlinge. R. Turkstra en P.P. Jordaan (afwesig met kennisgewing) en namens Heidelberg: ds. P.S. Snyman (konsulent van Krugersdorp) en ouderlinge S.J.S. du Preez en W.H. Ackermann.
Om aan te dui hoe uitgestrek die grense van die Johannesburgse gemeente was, word aangehaal uit die stigtingsnotule, art. 4 : "De gemeente Johannesburg zal bestaan uit de lidmaten wonende op die volgende plaatsen en dorpen: Boksburg, Elandsfontein, Germiston, Rietfontein, Jeppestown, Doornfontein, Braamfontein, Johannesburg, Ophirton, Turffontein, Booysens, Langlaagte, Maraisburg, Florida, Auckland Park." Die gemeente is in vier wyke verdeel met die volgende broers as ampsdraers: Tjaart van der Walt, Jacob Petrus Kruger, Petrus Carolus Duvenhage, Johannes Coetsee (ouderlinge) en Johannes Lodewikus Venter, Pieter Stoker, Andries Gerhardus Nienaber en Louis Stephanus Steyn (diakens).
Eers die tweede beroep van Krugersdorp-Johannesburg was geslaagd. Die eerste beroep is uitgebring op ds. P.S. Snyman. Ds. Marthinus Postma van die Middelburg, Kaap, het hom die beroep laat welgeval en is op 28 Augustus 1897 in Johannesburg as die eerste Gereformeerde predikant in hierdie wêreldstad, soos hy dit altyd genoem het, bevestig. Deur die genade was hy die man, die uitverkore dissipel, wat in hierdie groot werkkring baanbrekerswerk vir die Gereformeerde Kerk sou doen. Ook in die gemeente Johannesburg is toe hard geywer vir 'n eie kerkgebou en pastorie. Eienaardig genoeg dat ook hier (en dit in 'n goudstad) geweldig swaar geworstel is om op stoflik gebied kop bo water te hou. Die worsteling van koop en verkoop van gronde word gedurig in die notule weerspieël. Nog voor die stigting van die gemeente het 'n aantal lidmate 'n paar standplase gekoop en 'n kerkgeboutjie daar opgerig. Dit was in Mintweg, Fordsburg. Tydens die dinamietontploffing in 1896 is hierdie gebou egter beskadig waarvoor die gemeente £750 ontvang het van die "Relief Committee". Hierdie gebou is later verkoop asook die standplase in Fordsburg vir die som van £1 050. 'n Tweede kerkgebou is opgerig, ook in Mintweg, om ná die dood van ds. M. Postma weer verkoop te word.
Die kerkgebou wat toe vir die gemeente Johannesburg diens gedoen het voordat die gemeente in 1930 met dié van Johannesburg-Wes kombineer het, is gedurende die leeftyd van ds. W.J. de Klerk opgerig. Die gemeente Johannesburg het vinnig gegroei in ledetal. In 1897 was daar 350 belydende lede en in die volgende jaar alreeds 900 tesame met die dooplede.
Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het die lidmate van Benoni, Brakpan en Springs ook aan die gemeente Johannesburg behoort, sodat die arbeidsveld van ds. M. Postma gestrek het vanaf die teenswoordige Randfontein tot by Springs – 'n afstand van ongeveer 70 myl (meer as 110 km). Die werk het nou so omvangryk geword dat in daardie selfde jaar (1899) daar volgens die notule ernstig gespreek is oor die beroeping van 'n tweede leraar. Maar voor dat dit sover kon kom, sou daar eers donker oorlogswolke saampak en die lewe van die gelowiges op die Witwatersrand, soos ook elders in Suid-Afrika, tot die uiterste toe beproef word. Die derde Gereformeerde gemeente op die Witwatersrand is in 1905 op Germiston gestig.
Oorlogsjare duimnael|regs|180px|Ds. Willem Johannes de Klerk was twee maal leraar van Johannesburg, van 1904-1907 en weer van 1928 tot hy sy emeritaat aanvaar het in 1943. Hy is op 21 September daardie jaar oorlede. Sy seun Jan de Klerk was 'n kabinetsminister en sy kleinseun F.W. de Klerk staatspresident van Suid-Afrika.
duimnael|links|320px|Die gemeente se kerkgebou by Thorastraat 5, Mayfair. Die argitek was Jan Koelewyn, maar hy is in 'n motorongeluk oorlede voor die gebou voltooi is.
Die spore van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) word op ondubbelsinnige wyse in die notule van die destydse (enigste twee) Gereformeerde gemeentes op die Witwatersrand gemerk. Die bloed en trane wat daar op die kerklike erf gevloei het, is ’n bewys van hoe diep hierdie goudoorlog die Kerk getref het. Uit hierdie geskiedenisse blyk hoe 'n belangrike aandeel die Gereformeerde Kerk op die Witwatersrand gehad het aan die aangeleenthede van die volk. Die Tweede Vryheidsoorlog het gekom op agitasie van die vreemde elemente op die Rand wat seggenskap wou gehad het in die Regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Die Republikeinse regering, met president Paul Kruger, ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk aan die hoof, het egter geweet dat Engeland die goud van die Witwatersrand wou hê. Toe pak die oorlogswolke saam oor die Republiek van Transvaal.
Op die kerkraadsvergadering van 9 September 1899 op Krugersdorp het ds. M. Postma hierdie naderende onweer betrag. In verband met die Heilige Nagmaal op die tweede Sondag van Oktober word dit aan die leraar en oudl. S. Potgieter met die oog op die "buitengewone landsomstandigheden met het oog op eenen mogenlyken oorlog tusschen Engeland en deze Republiek" opgedra om sekere reëlings te tref in verband met die Nagmaal. Hieroor staan geskryf: "De leraar spreekt ook over het huisbezoek in October maar de Kerkeraad is van oordeel dat met de kritieke landsomstandigheden er geene bepaling kan gemaakt worden." Met die vergadering van 3 Desember 1899 is slegs die helfte van die kerkraadslede teenwoordig; die ander "en vele der broeders" van die gemeente is op die oorlogsveld. Van hierdie kerkraadsvergadering sê art. 2: "De leraar spreekt een ernstig en gemoedelik woord tot den Kerkeraad er op wyzende dat de oorlog tusschen Engeland en de beide Republieken – de Z.A. Republiek en den O. Vrystaat – in de maand October uitgebroken is."
Daadwerklike reëlings met die oog op die kerklike werk word nou getref. In geval kerkraadslede op kommando gaan, moet hulle onmiddellik iemand uit die gemeente in hulle plek aanstel om tydelik die werk waar te neem. So het dit dan gebeur dat ná die vergadering van 30 Maart 1900 die kerkraadslede uiteen is om eers weer op 8 November 1901 te vergader en dit ook nog wel sonder ds. M. Postma, wat eers weer op 2 Junie 1903 teenwoordig sou wees. Intussen is die stryd gestry – en die offers gebring. Talle gemeentelede is as krygsgevangenes weggestuur na Ceylon en Portugal, terwyl ds. M. Postma self vir meer as twee jaar as krygsgevangene aangehou is en later op parool losgelaat is, waar hy ter wille van die brood van sy huisgesin in Oos-Londen onderwys gegee het.