Ds. Schalk Willem Pienaar (Ceres, 8 November 1878 - Merweville, 4 November 1918) was die eerste leraar van die NG gemeente Merweville, wat ook sy eerste en enigste gemeente was omdat hy daar vier dae voor sy veertigste verjaardag 'n slagoffer van die Griepepidemie geword het.
Schalk Pienaar is in 1904 gelegitimeer aan die Kweekskool op Stellenbosch. In 1907 is hy getroud met Sara Christina (Sarie) Roos, dogter van Gielie Roos van Stellenbosch. Haar broer was die bekende rugbyman Paul Roos. Ds. Pienaar se oudste en jongste susters was getroud met Nicolaas Jacobus Marais, 'n lidmaat van die gemeente Merweville. Nadat die oudste suster oorlede is, het ds. en mev. Pienaar hul dogtertjie Elsje aangeneem. Die oudste suster is blykbaar op 'n plaas in die distrik Laingsburg begrawe en die jongste suster op die plaas Buffelsvlei in die familiekerkhof. Die jongste suster was Cecilia Aletta Marais, gebore 28 Junie 1889 en oorlede 28 Junie 1947.
Sy kinders Die egpaar se eerste kind is eers 'n paar jaar ná hul huwelik gebore en wel nadat hulle Elsje aangeneem het. Al drie die pastoriepaar se eie kinders was seuns: Johannes, Gideon en Schalk. Johannes was 'n brigadier in die weermag en was getroud met Eileen Allen. Haar pa, Willy Allen, was in 'n stadium die gemeente se orrelis en ook nieamptelik Merweville se dokter omdat hy altyd raad vir die siekes gehad het. Johannes en Eileen se huwelik was kinderloos. Dr. Gideon Pienaar het sy doktersgraad cum laude geslaag en het 'n mediese praktyk op Wellington in die Boland gehad. Sy vrou was 'n nooi Montgomery en hulle het twee seuns en 'n dogter gehad. Sy oudste seun was ook S.W. Pienaar, nes dié se oupa.
Ds. en mev. Pienaar se jongste seun, ook Schalk (gebore in 1916), was 'n joernalis en redakteur van die Sondagblad Die Beeld, die Nasionale Pers se publikasie wat in die tweede helfte van die 1960's in 'n hewige stryd gewikkel was met Dagbreek, tot albei opgegaan het in Rapport. Schalk jr. was later ook redakteur van die dagblad Beeld, wat deur Naspers opgerig is om in die Transvaalse oggendmark mee te ding met Die Transvaler. Uit Schalk jr. se pen het twee boeke verskyn: 10 jaar politieke kommentaar en Getuie van groot tye. Uit sy huwelik met Antoinette is vyf kinders gebore van wie die oudste seun ook S.W. Pienaar genoem is en die jongste dogter Sarah Christina Pienaar, na haar ouma.
Sy beroep na Merweville duimnael|regs|240px|Ds. en mev. Pienaar op hul troudag, September 1907. duimnael|links|250px|Ds. Pienaar is in September 1907 met Sarie Roos getroud, suster van die rugbylegende Paul Roos. Op 13 Maart 1905 het die kerkraad van die drie en 'n half maande oue NG gemeente Merweville 'n gekombineerde vergadering gehou onder voorsitterskap van die konsulent. Die dienende lede sowel as die rustende lede, wat gedien het toe die gemeente nog deel was van Beaufort-Wes, het die vergadering bygewoon. Vier proponente is benoem, naamlik Schalk Pienaar, Antonie Johannes Troskie, Gideon Jacobus Rousseau en Matthys Michielse du Toit. By die eerste stemming het prop. Pienaar ses uit 11 stemme gekry, 'n volstrekte meerderheid. Pienaar neem die beroep aan en op 15 April 1905 is 'n kerkraadsvergadering gehou onder voorsitterskap van ds. G.A. Maeder van Victoria-Wes waartydens die broeders C.F. Snyman en J. van Huyssteen aangestel is as kommissie om reëlings vir die predikant se ontvangs te tref.
Prop. Pienaar sou op Vrydag 16 Junie 1905 op Prins Albertweg aankom en vandaar deur 'n rytuig na die dorp vervoer word. Nadat hy omstreeks drie- of vieruur op Rietfontein sou aankom, sou die kerkraad hom hul adres daar of nader aan die dorp aanbied. Met die kar van die heer W.M. van der Westhuizen, van Koedoesfontein, het sy seun Wietsche prop. Pienaar en ds. W.A. Alheit van Ceres op die stasie gaan haal. Die samekoms vir die ontvangs is op Koedoeshoogte naby die dorp gereël. Die optog het bestaan uit perdekarre, donkiekarre en enkele perderuiters. Vooraan was diakens M.F. Erasmus en J.J.H. Alberts te perd en agter hulle het die ander rytuie gevolg. Die heer G.S. Snyman was in bevel en het te perd al langs die stoet gery. Op die hoogte is prop. Pienaar ontmoet en vandaar is hy geleide gedoen tot voor die "Boarding House", waar 'n lied gesing is en 'n welkomsadres hom aangebied is, waarop hy gepas geantwoord het na aanleiding van die laaste gedeelte van 2 Korintiërs 5:17: "... het oude is verby gegaan, zie, het is alles nieuw geworden."
Pastorie regs|300px|duimnael|Merweville se NG pastorie is in 1907 in gebruik geneem. Ds. en mev. Pienaar was die eerste bewoners daarvan. Aangesien die gemeente nog nie 'n pastorie gehad het nie, moes die leraar vir eers by die onderwyser tuisgaan. Eers in April 1906, op voorstel van diaken M.F. Erasmus, is besluit om 'n begin te maak met die bou van 'n predikantswoning. 'n Gemeentevergadering is gehou en die som van £343 is vir die boufonds ingesamel. Die kerkraad het volmag gekry om met die werk aan te gaan, solank hulle die som van £800 nie oorskry nie. In Junie daardie jaar is die plan vir die pastorie goedgekeur en 'n boukommissie aangestel om toesig oor die werk te hou. Na aanleiding van 'n geskenk van £400 van Prins Albert is dit aan die voorsitter opgedra om 'n brief van bedanking te skryf aan die kerkraad van Prins Albert en hul liefdesdaad ook in die Kerkbode te laat publiseer.
In September 1907 is ds. Pienaar met Sarie Roos, dogter van Gielie Roos van Stellenbosch, getroud en is die jong egpaar kort daarna in die nuwe pastoriegebou ontvang.
Kerkbou Voorbereidende werk links|240px|duimnael|Ds. Pieter van der Merwe het die NG kerk Merweville se hoeksteen op 24 Januarie 1914 gelê. Op 14 Januarie 1911 is 'n gemeentevergadering gehou om te beraadslaag oor die bou van 'n nuwe kerk. Op voorstel van die brs. C.F. Snyman en A.J. Swarts is besluit dat dit volgens die oordeel van die vergadering tyd geword het om 'n begin te maak met die insameling van geld vir die oprigting van 'n nuwe kerkgebou. Daardie selfde aand is 'n insameling gehou en £300 en 55 stuks kleinvee belowe. Op 'n later vergadering is besluit dat die leraar tydens huisbesoek vir die boufonds sou kollekteer.
In Mei 1913 is besluit om 'n gemeentevergadering te belê om sake te reël in verband met die bou van die kerk en is dit aan die voorsitter (ds. Pienaar) opgedra om planne te kry en ondersoek in te stel na die boukoste. Op 5 Julie 1913 is die gemeentevergadering toe gehou en is die argitek Folkert Wilko Hesse (1855-1923) aan die gemeente voorgestel. Van die ander NG kerke waarvoor hy verantwoordelik was, is McGregor (1904), Memel (1925), Petrusville (1925), Stellenbosch-Sentraal (1926), Steytlerville (1906), Vredenburg (1902/'04) en Warden (1918). Ná bespreking is op voorstel van F. Botes en C.F. Snyman met algemene stemme besluit dat dit aan die kerkraad opgedra word om 'n plan te kies en die kerk te laat bou. Daar is aanbeveel dat die gebou nie minder nie as 1 100 sitplekke sou hê en dat dit hoogstens £9 500 sou kos. Op 7 Julie is 'n kerkraadsvergadering gehou waarop argitek Hesse weer teenwoordig was. Die argitek is versoek om planne en spesifikasies op te stel sodat die kerkgebou, kompleet met meublement ens., afgelewer kon word vir die som van £9 500 nie te bogaande nie. Die argitek se fooi sou wees 5 persent op die boukoste plus spoorwegkaartjies. Hesse het toe verklaar dat hy 'n plan sou opstel volgens die voorbeeldplan wat hy aan die raad getoon het. Die getal sitplekke op die grond sou 750 wees en die hele gebou sou 1 134 hê, hoewel die banke op die twee galerye nooit aangebring is nie.
Die boukommissie sou bestaan uit die voorsitter, ds. Pienaar, die dorpslede van die kerkraad, naamlik L.W. Erasmus en M.S. Erasmus, en die rustende lede C.F. Snyman en M.F. Erasmus. Die gemeente Prins Albert het besluit om ook aan die bou van die kerk mee te help en het 'n geskenk van £200 gestuur. In November 1913 verskyn argitek Hesse saam met die bouaannemer, mnr. Masterton. Hesse rapporteer dat hy tenders gevra het vir die bouwerk, dat 'n halfdosyn ontvang is en dat hy die tender van mnre. Masterton en Kie. as die laagste aangeneem het. Die tender was £7 100 sonder meublement. Die voorsitter en argitek het in die teenwoordigheid van die kerkraad die nodige dokumente onderteken en die heer Masterton namens die here Masterton en Kie. Die duur van die kontrak was 12 maande, met ander woorde die gebou moes op 1 November 1914 gelewer word. Die hoeksteenlegging sou geskied op 24 Januarie 1914.
Die voorsitter rapporteer aan die kerkraad dat hy uitvoering gegee het aan die opdrag van die raad om 'n lening aan te gaan vir die bou van die kerk en dat hy 'n lening van £4 000 gesluit het. Die bedrag is as verband op die plaas geregistreer op 28 November 1914.
Hoeksteenlegging duimnael|regs|270px|Ds. Schalk Pienaar en sy vrou se drie seuns en hul aangenome dogter, Elsje. Hulle het haar aangeneem nadat haar ma, ds. Pienaar se oudste suster wat getroud was met N.J. Marais, oorlede is. Die seuns is waarskynlik Schalk jr. (voor), wat 'n koerantredakteur sou word, Gideon (agter), wat 'n dokter op Wellington was, en Johannes, wat 'n brigadier in die weermag was. Ds. Pieter van der Merwe, na wie die gemeente genoem is toe hy destyds predikant van die moedergemeente Beaufort-Wes was maar van 1912 tot 1925 sendingsekretaris van die Oranje-Vrystaat, het die hoeksteen gelê op 24 Januarie 1914. (Dit was ook hy wat die hoeksteen van die Nuwekerk, Graaff-Reinet, op 16 Maart 1929 gelê het. Hy was daardie gemeente se eerste leraar van daardie jaar tot sy aftrede in 1931.) Die steen van 2 voet by 2 voet by 2 voet 9 duim is van Paarlse graniet en ingebou buite aan die linkerkant van die hoofingang van die gebou. Die bewoording lui: "Jezus Christus is de uiterste hoeksteen. Deze steen gelegd door ds. P. van der Merwe. 24 Jan. 1914." Ds. Van der Merwe se boodskap aan die gemeente was na aanleiding van die woorde: "Jezus Christus ... de uiterste hoeksteen," wat kom uit Efesiërs 2:20.
Ds. Pienaar het omstreeks einde 1914 gerapporteer dat die boukommissie die £280 ekstra moes betaal aangesien die teëls weens die Eerste Wêreldoorlog nie betyds kon aankom nie en die dak teen reën tydelik met malthoid bedek moes word. Aan die begin van 1915 het die voorsitter namens die boukommissie berig dat die kontrakteurs 'n ekstra som van £255 10s. vir die bou van die kerk geëis het. Dit was glo weens 'n "misrekening in die hoeveelhede in die spesifikasies". Die kontrakteurs het meer gebruik as waarvoor hulle getender het en het daarom dié ekstra betaling geëis. Ds. Pienaar het opdrag gekry om saam met die heer M.F. Erasmus Kaapstad toe te gaan om regsadvies in te win. Op 22 Mei 1915 het die voorsitter gerapporteer dat op regsgeleerde advies £255 10s. aan die here Masterton en Kie. uitbetaal moet word en maak hy melding van 'n verdere eis van hulle van £487. In Augustus 1916 word berig dat die saak van Masterton en Kie. vs. die Kerkraad geskik is en dat die raad aan die kontrakteurs die som van £187 10s moes betaal. Elke party moes sy eie koste betaal. (In 1919 is die malthoid, wat toe aan die verweer was, vervang met 'n sinkdak teen 'n koste van £300.)
Inwyding