Cornelia Hilda Kühn (*11 Desember 1944, Kuilsrivier-) is bekend onder die skryfnaam Corlia Fourie. Sy skryf dramas, kinderboeke, kortverhale en romans.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Fourie,_Corlia Sy het onder meer die ATKV-prys vir die kortverhaalbundel Liefde en geweld en die MER-prys vir Die towersak en ander stories gewen. Haar drama Moeders en dogters is vir televisie en radio aangepas sowel as deur Kruik vir die verhoog opgevoer.
Sy is die dogter van die skrywer Mikro (C H Kühn).Profiel op stellenboschwriters.com, besoek op 22 Desember 2014
Lewe en werk Cornelia Hilda Kühn is op 11 Desember 1944 in KuilsrivierEsat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Corlia_Fourie naby Kaapstad gebore as oudste dogter van die skrywer MikroNB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/Authors/1001 (C.H. Kühn) se tweede huwelik met Ora Steyn. Sy het ’n jonger broer (Herman) en suster (Lucia). Vir die eerste vyf jaar van haar lewe bly hulle op Kuilsrivier, waarna hulle in 1950 na Oudtshoorn verhuis. In 1956 verhuis hulle na Pretoria, waar sy haar skoolopleiding aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd voltooi. Sy studeer verder aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy in 1965 die B.A.-graad behaal met Sielkunde en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Vir twee jaar werk sy hierna as verslaggewer by Die Burger in Kaapstad en dan is sy vanaf 1968 tot 1972 op die redaksie van Sarie in Johannesburg.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/fouriec.html Hier ontmoet sy vir Frans Fourie, met wie sy trou. Hulle het twee dogters, Marianne en Carina.
Ná die kinders se geboorte werk sy as vryskutjoernalis by onder meer Beeld en Huisgenoot. Sy en haar man woon vanaf 1980 drie jaar lank in Londen, waar hy korrespondent is vir ’n Afrikaanse tydskrifgroep. Hier loop sy 'n jaar lank fotografieklasse en doen steeds vryskutwerk vir Suid-Afrikaanse publikasies. Met hulle terugkeer na Suid-Afrika in 1984 gaan woon hulle in Northcliff in Johannesburg. Hier werk sy as joernalis by Rooi Rose en word later verhaleredakteur. Sy help ook in 1999 met die aanbied van die ATKV se jaarlikse skryfskool en in 2002 is sy ’n aanbieder by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse slypskool. Gedurende Junie 2008 neem sy ook deel aan die skryfkursus van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Die enigste organisasies waaraan sy behoort het, is Vroue vir Vrede in die tagtigerjare en later dien sy ook op die bestuur van die Afrikaanse Skrywersgilde.Storiewerf: http://www.storiewerf.co.za/cvs/cv_corliafourie.htm
Skryfwerk
Drama Sy skryf die drama Moeders en dogters in Londen. Hierdie drama besorg in 1983 aan haar ’n merietetoekenning in die beoordeling vir die Amstel-prys en dit word in Johannesburg en Kaapstad opgevoer en vir sowel die radio as die televisie verwerk. Die drama ondersoek ’n gesinskrisis wanneer die vader van die huis (die prominente skilder Gert Cilliers-Smit) sterf en die moeder (Ma) en drie dogters (Anna, Susan en Gertjie) agterlaat met groot finansiële probleme. Die moeder het in so ’n mate op die vader gesteun dat sy dit moeilik vind om in die veranderende omstandighede onafhanklik voort te bestaan. Anna is vasgevang in ’n huwelik waarin sy ondergeskik is aan die gesinsbehoeftes en haar eie persoonlikheid nie kan ontwikkel nie; Susan is ’n aktrise wie se loopbaan glans verloor het en Gertjie is opstandig teenoor haar moeder en het met haar kunstalent meer aanklank gevind by haar pa. Met die sterfte van die pa word die disfunksionele interpersoonlike verhoudings tot ’n spits gedryf. Dit geskied egter teenoor ’n baie breër doek, want hierdie gebeure vind plaas tydens die politieke oproer van 1976, waarin die huishulp (Susie) haar dogter (Sera) in die onluste verloor. Susie moedig bruin leerlinge dan tot brandstigting aan en sy en haar oorblywende dogter, Lina, word gearresteer. Die teenstelling tussen die wit en bruin wêrelde sorg dat die gebeure ’n groter maatskaplike en politieke betekenis verkry. ’n Dramatiese swakheid is dat meeste van die aksie van die verhoog af plaasvind en slegs gerapporteer word, sodat die konflik nie voldoende dramatiese gestalte kry nie.Blumer, Arnold. Die Burger, 11 Oktober 1995Brink, André P. Rapport, 15 September 1985Odendaal, L.B. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 26 no. 3, September 1986Schutte, H.J. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 25 no. 1, Februarie 1987Van Ryswyk, Esther. Rapport, 10 November 1985 In 1986 is hierdie drama op die kortlys vir die toekenning van die Rapportprys.
En die son skyn in Suid-Afrika is ’n komedie oor ’n uiteenlopende groep Suid-Afrikaners wat almal tuisgaan in die Londense huis van ’n Suid-Afrikaanse joernalis en sy vrou. Die karakters is die gefrustreerde huisvrou Esther, vrou van die joernalis Flip; die chauvinis Storm van der Merwe; die feminis Bettie Hamman; die bruin persfotograaf Adam Louw; die moderne maar rassistiese plaasvrou Engela Venter en die kunsstudent Emma. Flip is met sake in Wallis en in sy afwesigheid raak Esther baie vriendelik met die bruin Adam. Die verwikkeling kom wanneer Flip inderhaas en onverwags terugkom om sy vrou te red, nie van Adam nie, maar van Storm wat by ’n vorige geleentheid ’n meisie van hom afgevry het. Op ligte satiriese wyse lewer die drama kommentaar op die Suid-Afrikaanse politieke situasie tydens apartheid en ook die Suid-Afrikaanse lewenswyse en tradisionele lewensopvattings. Dit is koud in Engeland terwyl die son in Suid-Afrika skyn, maar wat die politiek betref, is Suid-Afrika juis besig om onder te gaan.Brink, André P. Rapport, 16 Maart 1986Olivier, Fanie. Rapport, 2 Junie 1985 Met hierdie drama verower Corlia Fourie in 1986 M-Net se prys vir ’n televisie-komedie en dit word ook deur TRUK opgevoer en oor die radio uitgesaai.
Leuens bestaan uit sewe tonele waarin ’n gekwelde vrou, die kinderboekskryfster Ina le Roux, onder ’n dekmantel onderhoude voer met ’n kindersielkundige, Anita. Stuksgewys openbaar Ina dan haar eie lewensverhaal, van ’n agtjarige meisie wat deur haar oupa verkrag word. Hoewel hierdie drama slegs twee karakters het, sorg die kwaliteit van die dialoog en die broksgewyse onthulling daarin dat spanning geskep en grotendeels behou word, al is die dramatiese konflik grotendeels interne konflik. Hierdie drama word ook gepubliseer en deur Die Bywoners opgevoer. Dit is voorheen onder die titel Hoer of heilige opgevoer.Keet, Rosa. Rapport, 22 Maart 1987Schutte, H.J. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 26, no. 4 November 1989
Die verhoogdramas Poppespel (deur SWARUK en by 1986 se ATKV Kampustoneel) en Erfgoed (by 1992 se ATKV Kampustoneel) word ook opgevoer, al word dit nie gepubliseer nie. Die eenbedryf My aaklige jonger sussie word deur Temple Hauptfleisch opgeneem in die versamelbundel Die magiese kring. Verder skryf sy ook radiodramas soos Om met ’n kat te speel, waarvoor sy in 1989 vir die Idem-prys vir draaiboeke genomineer word.
Prosa
Kinder- en jeugverhale Sedert 1980 publiseer sy verskeie kinderboeke. Slepie die dapper sleepbootjie vertel die verhaal van ’n sleepboot wat moeg raak vir sy lot en die oop see invaar, net om later tot inkeer te kom en terug te keer na die veilige hawe.
Marianne en die leeu in die pophuis is ’n fantasie vir kleuters waarin ’n lewende sirkusleeu aan Marianne verskyn en saam met haar al haar speletjies speel. Daar is egter ’n probleem wanneer die leeu in die venster van die pophuis vassit. Die leeutemmer en die nar kan hom nie daar uitkry nie, maar Marianne maak ’n slim plan en met seep en water word die leeu se kop nat en glad en kan hy maklik uitglip.
Nog ’n kleuterverhaal is Die volstruisie wat graag wou vlieg, waarin die pa die babavolstruis inlig rondom die aard van ’n volstruis, om hom sodoende te leer om homself te aanvaar en af te sien van sy begeerte om soos ’n mossie te kan vlieg. Die volstruisie wat graag wou vlieg word in 1988 gekies vir die White Ravens-keurlys van die Internasionale Jeugbiblioteek in München.
Die meisie wat soos ’n bottervoël sing is ’n Afrika-fantasie, waarin ’n monster die meisie ontvoer sodat sy net vir hom kan sing. Haar drie broers, die sterke, die vinnige en die mooie, kan haar nie red nie en sy moet deur haar eie kreatiwiteit haar vryheid terugkry. Die verhaal is ’n variasie van die sprokie van Skoonlief en die Ondier, met ’n subtiele feministiese kleur aangesien sy haarself kan red.Steenberg, Elsabe. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 29 no. 2. Mei 1991 Hierdie boek word bekroon met die M.E.R.-prys en die Tienie Holloway-medalje in 1991 en is in dieselfde jaar die naaswenner van die ATKV-kinderboekprys vir ouderdomsgroep 3-5 jaar. Dit is opgeneem in die Kinderboekforum van Suid-Afrika se keurlys vir boeke wat in 1990 gepubliseer is en word ook deur die Kaapse komponis Peter Klatzow van musiek voorsien. Die werk is met orkes en verteller as Tintinyane in Johannesburg en Kaapstad opgevoer. Jakkalsstreke is oorvertelde Afrika-stories en bevat agt verhale oor die slinkse jakkals.
Haar belangstelling in en vermoë tot die skryf van Afrika-fantasieë kom ook tot uiting in Ganekwane en die groen draak en ander Afrika-sprokies, Die wit vlinder, Die towersak en ander stories en Nollito en die wonderwater.
Ganekwane en die groen draak en ander nuwe Afrika-sprokies bevat die titelverhaal, Hlaulu en die bosdier, Tombi en die reuse, Die middelste suster en die boom, Die meisie en die stem wat lag en Iquina en die man sonder hart. Soos die titel aandui is hierdie nie oorgelewerde vertellings nie maar vernuftige nuutskeppings. In hierdie verhale neem meisies telkens die tradisionele rol van die man suksesvol oor en oorwin deur hulle optrede, waardeur vindingrykheid oor krag en geweld seëvier. In die gees van sprokies speel die buitengewone in feitlik al die verhale ’n groot rol, met die draak in die titelverhaal wat deur stories oorwin word.Hough, Barrie. Insig, Augustus 1993Steenberg, Elsabe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 33 no. 1, Maart 1993Steenberg, Elsabe. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 31, no. 2, Mei 1993 Ganekwane en die groen draak is in 1993 die naaswenner van die ATKV Kinderboektoekennings in die ouderdomsgroep 8-9 jaar en is ook op die kortlys vir die toekenning van die Ou Mutual-prys. In Amerika word die boek uitgegee as Ganekwane and the green dragon.
Die wit vlinder bevat drie verhale, wat al drie ’n reis uitbeeld. Die reënmaker en ook die titelverhaal is beide moderne sprokies, waarin die verhaal ’n lessie bevat en beloning impliseer indien mens verantwoordelikheid aanvaar. In Die wit vlinder gaan ’n seun op reis omdat hy die wit vlinder wil vang wat hy een keer gesien het. Die vlinder is hier simbool van skoonheid en geestelike waardes. Wanneer hy eindelik die vlinder vang moet hy hom weer laat gaan, want hy verstaan toe vir die eerste keer die wyse vrou langs die pad se woorde dat hy die vlinder net met sy hart kan vang. Die derde verhaal is Swart ster, wonderster, wat ’n nuwe perspektief op Kersfees bied.Anoniem. Insig, Junie 1993Le Roux, Marina. Die Burger, 22 Junie 1993Steenberg, Elsabe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 34 no. 1, Maart 1994 Die wit vlinder is in 1994 die eerste Afrikaanse boek wat eervolle vermelding kry by die toekenning van die Noma-prys vir uitgawes in Afrika. In 1995 word Die wit vlinder en Die towersak en ander stories bekroon met die Alba Bouwer-prys, terwyl laasgenoemde boek in dieselfde jaar ook die M.E.R.-prys verower.