Ina Rousseau (1926–2005) was 'n Suid-Afrikaanse digter en skrywer van kortverhale. Sy het in 1953 die Reina Prinsen Geerligs-prys vir Die Verlate Tuin gewen. In 1996 is sy met die Hertzogprys vir haar 'n Onbekende jaartal bekroon.Profiel op humanrousseau.com , besoek op 22 Desember 2014Botha, Amanda Oulitnet: http://www.oulitnet.co.za/inmemoriam/ina_penstrepies.asp

Lewe en werk Marthina Cornelia Rousseau is op 3 Februarie 1926 op Roodepoort gebore as die oudste van drie kinders, twee dogters (haar suster Thea is vier jaar jonger as sy) en ’n broer, Danie.Geni: https://www.geni.com/people/Marthina-Noel/6000000039181653108 Danie is tien jaar jonger as sy en sterf enkele maande voor sy 22ste verjaarsdag in ’n vliegtuigongeluk.

Sy word groot in Roodepoort en Krugersdorp. Haar hoërskooljare bring sy in Krugersdorp in die koshuis van die Hoërskool Monument deur en matrikuleer ook hier.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/rousseau.html Sy studeer verder aan die Universiteit Stellenbosch,Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Rousseau,_Ina waar sy die B.A.-graad behaal met Duits en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Hier dien sy op die redaksie van Die Stellenbosse Student.

Ná afloop van haar universiteitsloopbaan help sy F.E.J. Malherbe met die redaksie van Ons Eie Boek. Vanaf 1948 tot 1952 is sy op Stellenbosch as tegniese assistent verbonde aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en doen vir ’n ruk vryskutwerk. In Februarie 1950 ontmoet sy vir Peter Blum en hulle het ’n kortstondige verhouding, wat sy in September daardie jaar verbreek.

Vanaf 1953 gee sy vir ’n rukkie Afrikaans vir standerds ses en sewe aan die Hoërskool P.J. Olivier op Grahamstad en doseer ook op hierdie dorp Afrikaans onder professor Rob Antonissen aan die Rhodes-universiteit. By die universiteit ontmoet sy in 1955 haar toekomstige man, Anthony Robert Alistair (Bob) Noël, ’n lektor in Plantkunde.

In 1956 kry sy ’n beurs van die Italiaanse regering om in Florence te gaan studeer en sy bly nog ’n paar maande agter om Italiaans aan te leer. Sy kon ook Frans lees.

Sy trou op 28 Februarie 1958 met Bob Noël en een seun, Darwin John Robert, word uit die huwelik gebore. Hulle bly vir agt jaar (1959–1966) in die destydse Salisbury, Rhodesië, waar haar man as senior lektor verbonde was aan die Universiteitskollege van Rhodesië en Njassaland. Bob doen hier navorsing oor die heling van wonde aan boomstamme. Hierna trek hulle in 1966 na Pietermaritzburg, waar haar man professor was in die Departement Plantkunde aan die Universiteit van Natal. Hulle onderneem ’n hele paar oorsese reise, veral deur Europa. Na haar man se dood weens beroerte verhuis sy in 1984 na Kaapstad en woon eers in ’n woonstel en kort daarna in ’n meenthuis in Tuine.

Op 13 Augustus 2005 is sy in Kaapstad weens kanker van die pankreas oorledeMouton, Carla “Ina Rousseau op 79 oorlede” “Beeld” 15 Augustus 2005 en haar as word ses maande later in die Eersterivier op Stellenbosch gestrooi.

Skryfwerk

 Poësie Van kleins af is sy lief vir lees en verdiep haar veral in die poësie. Sy skryf haar eerste gedig, My blomtuintjie, wanneer sy slegs elf jaar oud is en begin dan op hoërskool ernstig skryf. Interessant genoeg bly die tuin regdeur haar lewe ’n belangrike gegewe in haar werk. Haar eerste gedigte word opgeneem in Die Stellenbosse Student en Die Huisgenoot en later ook in letterkundige tydskrifte soos Standpunte. Saam met Peter Blum, Barend Toerien, Sheila Cussons, G.A. Watermeyer en andere debuteer sy in 1946 wanneer haar verse deur D.J. Opperman en Fred le Roux in die versamelbundel Stiebeuel opgeneem word.Louw, W.E.G. “Van die stiebeuel in die saal” “Standpunte” Jaargang 2, no. 1, 1946Van Heerden, Ernst “Rekenskap” Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe Tweede druk 1971

Haar oeuvre word gekenmerk deur fyn waarnemings met die vermoë om stemming te skep deur die woordgevoeligheid, die spel met kontraste en die eksploitasie van klank. Sekere motiewe kom ook gereeld voor, soos die natuur; musiek; die mens as eensame outsider in sy strewe na ’n paradys wat onbereikbaar skyn te wees; die saamhoort van alle dinge en die sirkelgang van natuurlike en kreatiewe prosesse wat ewigdurende metamorfose en verandering teweegbring (maar waarby ook aftakeling en verwording inbegrepe is).Hugo, Daniel “Ina Rousseau – digter van die tuin” “Tydskrif vir Letterkunde” Februarie-Mei 2000

Reeds in Die verlate tuin (waar die titel simbool is van die gevolge van die sondeval) word ’n fyn vormbeheer geopenbaar in die strak versvorme. Die taalgebruik is nog oorwegend verhewe en in ’n ietwat ouer idioom, maar dit doen weinig afbreuk aan ’n besondere sterk debuut. Daar is hoofsaaklik vier groepe gedigte, naamlik Bybelse verse, elegiese verse oor ’n afgestorwene, landskapgedigte en kwatryne met aktuele temas. Hierdie bundel word gerig deur ’n sterk religieuse bewussyn, wat afspeel buite die verlate tuin (of die “mislukte tuin”) van Eden na die sondeval. Die tuin van Eden word ’n beeld vir die geskonde aardse paradys waarin ons leef, met die mens self as skender van hierdie utopie, gedoem om vir altyd te leef in die skadu van verderf en die dood.Antonissen, Rob “Standpunte” Nuwe reeks no.2, 1954Antonissen, Rob “Kern en tooi” Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963 Die verlate tuin is reeds in manuskripvorm in 1953 met die Reina Prinsen Geerligs-prys bekroon.

Na ’n stilswye van sestien jaar verskyn Taxa, waar sy die vermoë demonstreer om groter gehele uit kleiner momente te laat ontstaan en veral beïndruk met haar teenstelling van skepping en vernietiging. Die titel Taxa (meervoud van taxon) is ’n term uit die Biologie wat klassifisering van spesies in eenhede, versamelings of strukture aandui en ook as rangskikkings beskryf kan word. Binne hierdie begrip is die eenhede permanent maar nie staties nie.Brink, André P. “Voorlopige Rapport” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976De Lange, Johann. Oulitnet: http://www.oulitnet.co.za/mond/de_lange_rousseau.asp

Die bundeltitel Kwiksilwersirkel dui enersyds daarop dat die sirkelgang van lewe en van skepping voltooi moet word, maar kwik kan nie gevat word nie en suggereer dat die wese van die menslike bestaan ook nie raakgevat kan word nie. Kwik is giftig, wat suggereer dat die sirkelgang ’n bedreiging vir voortbestaan veronderstel. In wese is kwiksilwer ook ’n paradoks, want dit is ’n vloeibare metaal. Die aard van die verhouding tussen mens en natuur word teen hierdie negatiewe agtergrond ondersoek. Die digter ondersoek ook die aard van die mens onderling (soms in positiewe, sterk liefdesgedigte) en haar verhouding met God.Brink, André P. “Rapport” 25 Februarie 1979Brink, André P. “Tweede Voorlopige Rapport” Human & Rousseau Kaapstad Pretoria Johannesburg  Eerste uitgawe 1980Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 19 no. 3, September 1979Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 19 no. 2, Mei 1981Van Zyl, Dorothea “Beeld” 9 April 1979

Heuningsteen se titel verwys fisies na die geologiese begrip melliet, wat metaal opgeneem in ’n aardkors is, dus ’n voorheen vloeibare maar nou verstarde steen wat ook sy kleur verloor. Simbolies verwys dit na die vreugde en soet van die lewe. Die bundeltitel kom voor in die gedig Bodem, waar die bodem van graniet alle natuurlike aanslae teenstaan, maar daar tog ’n vrees is dat dit kan smelt en net soos die heuningsteen ’n indringende verandering ondergaan. Met die geel omslag (kleur van sonskyn, warmte en vreugde), word die lewendige toonaard van die bundel verhoog. Dit bevat dan ook verse wat getuig van die ontdekking van die vreugde en musiek in die lewe, met ’n sterk besef van die afhanklikheid van die mens en die wonder van die natuur. Daarteenoor word dan gestel die besef van verganklikheid en verstarring.Brink, André P. “Standpunte” Nuwe reeks 154, Augustus 1981Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 21 no. 2, Junie 1981Johl, Ronél “Die Transvaler” 13 April 1981Olivier, Fanie “Beeld” 6 April 1981

In Versamelde gedigte 1954–1984 word al haar bundels tot op daardie stadium opgeneem (met verskeie gedigte wat opnuut deur haar verwerk en grootliks verbeter word), plus ’n twintigtal voorheen ongepubliseerde verse.Brink, André P. “Rapport” 30 Desember 1984Snyman, Henning “Die Burger” 21 Februarie 1985Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 24 no. 4, November 1986Grové, A.P. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 26 no. 3, September 1986 Hierdie verse vorm die kern van die bundel Grotwater, met die vernaamste tema die verlies van ’n geliefde deur die dood en ’n sterk bewussyn van verganklikheid, gekontrasteer met die vreugdes van lewe en natuur. Die titel van die bundel suggereer lewe in die dood, waar grot die dood of graf impliseer en water die simbool van lewe is. Die kontras tussen die somberheid van die dood en die verlange van hereniging met die geliefde en die vreugde van die lewe kry gestalte in fyn uitgewerkte verse wat van suiwer vakmanskap getuig. Ten spyte van die elegiese aard van die bundel is dit nie somber of neerdrukkend nie.Grové, A.P. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 30 no. 3, September 1990Hambidge, Joan “Insig” April 1990Kannemeyer, J.C. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 28 no. 3, Augustus 1990Snyman, Henning “Rapport” 11 Maart 1990Van Vuuren, Helize “Die Burger” 21 Desember 1989 Grotwater is in 1994 op die kortlys vir die toekenning van die Ou Mutual-prys.

’n Onbekende jaartal se titel suggereer ’n religieuse apokalips, wat op ’n onbepaalde tyd sal plaasvind en waardeur die heelal hervorm sal word. Die bundel bevat verse oor die alledaagse, maar kristalhelder beskryf met beelde wat mens dwing om anders na die doodgewone te kyk. Die eerste deel van die bundel word oorheers deur natuurverse en mooi herinnerings van vroeër tye en heengegane geliefdes en bekendes. Die toonaard van die res van die bundel is egter oorwegend pessimisties, met gedigte oor dood, geweld, natuurvernietiging en menslike gierigheid. Soos elders in haar digkuns slaag sy daarin om beelde, woorde en vergelykings met veelvuldige betekenisse te laai.Gouws, Tom “Beeld” 19 Februarie 1996Hambidge, Joan “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 34 no.3, Augustus 1996Kannemeyer, J.C. “Rapport” 10 Desember 1995Kannemeyer, J.C. “Op weg na 2000” Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998 In 1996 word die Hertzogprys toegeken aan ’n Onbekende jaartal en hierdie bundel is in hierdie jaar ook op die kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.Anoniem “Rousseau kry Hertzogprys vir poësie” “Rapport” 23 Junie 1996Van Niekerk, Danie “Ina kry die Hertzogprys” “Beeld” 15 Mei 1996

Daniel Hugo maak in Die stil middelpunt ’n keuse uit haar reeds gepubliseerde gedigte (waarvan sy talle grondig hersien en verwerk) en neem ook meer as twintig voorheen ongepubliseerde verse in hierdie bundel op. Die titel word geneem van ’n frase uit een van die nuwe gedigte. Onder die nuwe gedigte trek Sjampoe (herinnering aan haar huweliksverhouding), Aan my vriende van 1950 (waarin die verwording en morele verval in die demokratiese Suid-Afrika betreur word) en Kersfees 1996(’n spesifieke geval van geweld gekontrasteer met die Kerstyd) die aandag. Die vier gedigte in die reeks Die seuns en die dogters van die mense sluit die bundel af. Hierin vorm die generasiegaping en die verskille tussen die geslagte die tema.Brink, André P. “Rapport” 19 Oktober 2003Naudé, Charl-Pierre “Insig” Maart 2004Olivier, Fanie “Beeld” 17 November 2003

Deur die loop van 2004 (vanaf 17 April tot 10 Desember) begin sy met ’n projek om haar eie gedigte in Engels te vertaal, ’n projek waarmee sy ver vorder maar dan ophou wanneer die aftakelende siekte wat later haar dood veroorsaak haar kragte verminder.Hugo, Daniel. Versindaba: http://versindaba.co.za/2009/07/13/ina-rousseau-in-engels/

Versamelbundels