Die Klas 25 is 'n tipe stoomlokomotief wat deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë gebruik is. Hierdie lokomotiewe is ontwerp om die Klas 23-lokomotiewe op die Touwsrivier - De Aar hooflyn te vervang. Hierdie hooflyn is 550 km (345 myl) lank deur die Karoo en het destyds 'n groot waterbehoefte vir stoomtreine gehad - water wat gedurende die winter skaars kon raak. Die Klas 25 is ontwerp met 'n kondenseerder wat tot 60% water kon bespaar. Hierdie klas is toegerus met Walschaerts-klepratwerk.
Kondenseerders Hierdie klas se ontwerp is beïnvloed deur eksperimente wat gedoen was met Klas 20 en kondenseerders. Daar is 90 van die lokomotiewe bestel. Henschel het slegs een lokomotief en 60 kondenseerders en North British Locomotive Company het 89 lokomotiewe en 30 kondenseerders afgelewer. Dit is omrede Henschel die meeste ervaring met kondenseerders gehad het.
By lokomotiewe met kondenseerders word die gebruikte stoom nie in die lug weggeblaas nie maar teruggevoer na 'n lugverkoelde kondenseerder in die kolewa. Nadat die stoom afgekoel en water gevorm het, word dit hersirkuleer na die stoomketel toe. Die proses het ook doeltreffendheid verbeter omrede die hersirkulerende water reeds warm was, en minder hitte dus nodig was om weer stoom te vorm in die stoomketel van die lokomotief.
Die kondenseerder het ook 'n nadeel. By gewone stoomlokomotiewe word die stoom wat van die siliders kom deur die skoorsteen uitgeblaas via die blaaspyp. Dit veroorsaak dat warm lug uit die vuurkas deur die stoomketel na die skoorsteen gesuig word en in die proses die water verhit tot stoom. Met kondenseerders moet 'n stoomaangedrewe turbine in die skoorsteen geïnstalleer word om dieselfde effek te kry. Hierdie turbine het die Klas 25-stoomlokomotief 'n unieke klank gegee.
In die kondenseertender was vyf stoomaangedrewe waaiers om lug deur die kondenseerder te blaas wat 550 perdekrag benodig het om operasioneel te wees.
Klas 25NC As gevolg van die baie en moeilike instandhoudingsvereistes van die kondenseerders is al die Klas 25-lokomotiewe behalwe twee se kondenseerders verwyder. Hulle is hergeklassifiseer as Klas 25 NC. Daar is 'n watertenk in die plek van die kondenseerder op die kolewa gebou. Terselfdertyd is nog 50 Klas 25NC-lokomotiewe bestel by North British Locomotive Co en 39 by Henschel & Son.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Spoorvervoer in Suid-Afrika Kategorie:Treine