Die Vallei van die Konings (Arabies: وادي الملوك, Wādī al Mulūk) is ’n vallei in Egipte waar grafkelders in die 16de tot 11de eeu v.C. byna 500 jaar lank gebou is vir farao's en ander adellikes van die Nuwe Ryk (die 18de tot 20ste Dinastie van Antieke Egipte).Maspero (1913), p.182 Die vallei is aan die westeroewer van die Nylrivier geleë, oorkant Thebe (die moderne Luxor), in die hart van die Thebaanse Dodeakker.Siliotti (1997), p.13 Die wadi bestaan uit twee valleie, die Oostelike Vallei (waar die meeste koninklike grafkelders is) en die Westelike Vallei.
Sedert die ontdekking in 2005 van ’n nuwe grafkelder (KV63) en in 2008 van nog twee grafkelderingange, huisves die vallei 65 bekende grafkelders wat in grootte wissel van KV54, ’n eenvoudige put, tot KV5, ’n komplekse kelder met meer as 120 grafkamers. Die koninklike grafkelders is versier met tonele uit die Egiptiese mitologie en gee aanduidings van die geloof en begrafnisrituele van die tydperk. Dit lyk of al die kelders in antieke tye al geopen en beroof is, maar dit gee steeds ’n blik op die weelde en mag van die farao's.
Groot argeologiese en Egiptologiese uitgrawings vind sedert die einde van die 18de eeu hier plaas en dit is ’n bron van voortdurende belangstelling en navorsing. In die moderne tyd het die vallei beroemd geraak met die ontdekking van Toetankamen se grafkelder met sy gerugte van die vloek van die farao's. Dit is een van die bekendste argeologiese terreine in die wêreld en in 1979 het dit ’n Unesco-wêrelderfenisterrein geword saam met die res van die Thebaanse dodeakker.
Uitgrawings en die bewaring van artefakte duur voort en ’n nuwe toeristesentrum is onlangs geopen.
Geologie Die soorte grond in die vallei wissel van digte kalksteen en ander afsettingsgesteente wat die kranse van die vallei en die nabygeleë Deir el-Bahri vorm, tot sagte lae kleigrond. Die afsettingsgesteente het tussen 35 miljoen en 56 miljoen jaar gelede gevorm. Gedurende die Pleistoseen is die vallei deur bestendige reën uitgekalwe. Daar is tans min reën dwarsdeur die jaar in hierdie deel van Egipte, maar soms is daar oorstromings wat ook die vallei raak en tonne grond in die oop grafte stort.Sampsell (2003), p.78
Omdat die soorte grond wissel en onbestendig is, bemoeilik dit uitgrawings. Van die rotse sit ook uit in water en dit dwing die gesteente daaromheen uitmekaar. Daar word geglo sommige grafkelders se vorm en grootte het mettertyd verander, na gelang van die soorte rots waarin dit gebou is.
Geskiedenis duimnael|300px|Die piek al-Qurn oorheers die vallei. Die Thebaanse Heuwels word oorheers deur die piek van al-Qurn, wat die Antieke Egiptenare ta dehent, of "Die Piek", genoem het. Dit het ’n piramide-agtige voorkoms en dit is moontlik dat dit die vorm van die piramides uit die Ou Ryk beïnvloed het, meer as duisend jaar voordat die eerste grafkelders in die vallei gegrawe is.Dodson (1991), pp.5-7Reeves en Wilkinson (1996), p.17
Hoewel die piramides van die Giza-plato kenmerkend van Antieke Egipte geword het, is die meeste grafkelders in rotse uitgekap. Die meeste piramides en mastabas bevat dele wat in die grond uitgegrawe is en daar is grafkelders wat ten volle in die gesteende uitgekap is wat uit die Ou Ryk dateer.
Ná die oorwinning oor die Hyksos en die hereniging van Egipte onder Ahmoses I, het die Thebaanse heersers van die 18de Dinastie uitgebreide grafkelders laat bou om hul nuutgevonde mag te weerspieël.Baines and Malik (2000), p.99 Ahmoses self se grafkelder is waarskynlik elders (dit is nog nie ontdek nie). Die eerste koninklike grafte in die vallei was dié van Amenhotep I (hoewel die identifikasie betwis word)Reeves and Wilkinson (1996), p.89 en Toetmoses I.
Die vallei is van omstreeks 1539 tot 1075 v.C. vir begrafnisse gebruik en bevat minstens 65 grafkelders, tot by dié van Ramses X of Ramses XI, hoewel niekoninklikie begrafnisse daarna steeds hier plaasgevind het.
Ondanks die naam Vallei van die Konings is talle adellikes en die vroue en kinders van sowel farao's as adellikes ook hier begrawe. Net sowat 20 van die grafkelders was vir konings.Siliotti (1996), p.29 Omstreeks die tyd van Ramses I (omstreeks 1301 v.C.) is die bou van grafkelders voortgesit in die aparte Vallei van die Koninginne.Siliotti (1996), p.70
Koninklike dodeakker Die amptelike naam van die dodeakker in die tyd van Antieke Egipte was "Die Groot en Majestueuse Nekropolis van die Miljoene Jare van die Farao's, die Lewe, Krag en Gesondheid in die Weste van Thebe", of meer algemeen Ta-sechet-maät (die "Groot Veld").Siliotti (1997), pp.12-13 Die naam in hiërogliewe is:
G41-G1-Aa1:D21-O1-O29:Y1-A50-s-Z4:Y1-G7-N35-C11-Z2:N35-M4-M4-M4-t:Z2:N35-O29:O1*O1-G7-S34-U28-s-D2:Z1-R14-t:t-N23*Z1:N35-R19-t:O49-G7
Aan die begin van die 18de Dinastie is net die farao's in groot grafkelders in die vallei begrawe; ander adellikes is in klein kamers begrawe, naby die grafkelders van hul meester. Amenhotep III se grafkelder is in die Westelike Vallei gebou, maar sy seun Achenaten het sy grafkelder in Amarna laat bou. Ná die terugkeer na die tradisionele Egiptiese godsdiens aan die einde van die 18de Dinastie het Toetankamen, Ai en Horemheb teruggekeer na die bou van grafkelders in die koninklike dodeakker.
Tydens die 19de en die 20ste Dinastie was daar ’n toename in bouwerk in die vallei, asook in die Vallei van die Koninginne. Ramses II het ’n enorme graftombe laat bou en Ramses III het een laat bou vir sy seuns. Sommige konings van dié tyd is nie hier begrawe nie of hul grafkelders is nog nie ontdek nie: Toetmoses II is dalk by Dra' Aboe el-Naga' begrawe en Smenchkare se grafkelder is nog nie opgespoor nie. Ramses VIII is waarskynlik ook elders begrawe.
Tydens die Ou Ryk is die grafkelder van die farao's verbind met ’n dodetempel wat ’n ent verder weg geleë was. Tydens feeste is hierdie tempels besoek; die interessantste van dié geleenthede was die "Mooi Fees van die Vallei" wanneer die heilige bote van Amoen-Ra, sy vrou, Moet, en sy seun, Chonsoe, uit die tempel van Karnak gebring is om die dodetempels van afgestorwe konings op die westeroewer en hul altare in die Thebaanse Dodeakker te besoek.Strudwick and Strudwick (1999) p.78
Grafrowers Feitlik al die grafkelders is geplunder. Verskeie geskrifte is ontdek wat die verhoor van sulke rowers beskryf, hoofsaaklik uit die 20ste Dinastie
Die vallei is ook amptelik verniel tydens die burgeroorlog wat tydens Ramses XI se bewind begin het. Die grafte is oopgemaak, al die waardevolle artikels verwyder en die mummies is uitgehaal en in twee groot kiste geplaas. Die een in die grafkelder van Amenhotep II het sestien mummies bevat en die ander is in Amenhotep I se grafkelder versteek. ’n Paar jaar later is die meeste van hulle na Deir el-Bahri geskuif, waar sowat 50 mummies en hul kiste ontdek is.Weigall (1910), p.191
Verkenning van die vallei thumb|180px|1820: Belzoni se Vallei van die Konings. thumb|220px|1830: John Gardner Wilkinson se nommering van die grafte, wat vandag nog gebruik word. thumb|links|160px|Die ingang van 'n koninklike graf. Dit is in 1821 geteken.
Die Vallei van die Konings is die afgelope twee eeue 'n gewilde terrein onder Egiptoloë. Voorheen was dit 'n toerismeattraksie in antieke tye (veral in die tyd van antieke Rome). Die gebied toon die veranderings in die studie van antieke Egipte, van antieke jagtogte tot wetenskaplike uitgrawings van die hele nekropolis van Thebe. Ondanks al die uitgrawings is net 11 van die grafte noukeurig beskryf.
Baie grafte bevat graffiti wat deur antieke toeriste geskryf is. Jules Baillet het meer as 2 100 gevalle van Griekse en Latynse graffiti aangeteken, asook 'n kleiner getal in Fenisies, Sipries, Kopties en ander tale. Die meeste, amper duisend, is in graf KV9 ontdek. Die vroegte wat definitief gedateer is, kom uit 278 v.C.Reeves and Wilkinson (1996), p. 51
In 1799 het lede van Napoleon se ekspedisie na Egipte (veral Vivant Denon) kaarte en planne van die grafte geteken. Hulle het vir die eerste keer die Westelike Vallei opgemerk (waar Prosper Jollois en Édouard de Villiers du Terrage die graf ontdek het van Amenhotep III, graf WV22).Siliotti (1997), p.16 Description de l'Égypte bevat twee volumes (van altesaam 24) oor die gebied om Thebe.
Europese verkenners het die gebied in die 19de eeu bly verken. Vroeg in die eeu het Giovanni Belzoni, wat vir die Egiptoloog Henry Salt gewerk het, die gebied besoek. Hy het verskeie grafte ontdek, insluitende dié van Ai in die Westelike Valli (WV23) in 1816 en van Seti I (KV17) die volgende jaar. Aan die einde van sy besoeke het Belzoni verklaar al die grafte is opgespoor en niks noemenswaardigs sal nog gekry word nie. Iemand wat terselfdertyd daar gewerk het, was Bernardino Drovetti, die Franse konsul-generaal en 'n groot mededinger van Belzoni en Salt.
John Gardner Wilkinson, wat van 1821 tot 1832 in Egipte gewoon het, het baie van die inskripsies en kunswerk in die grafte wat toe oop was, gekopieer. Die ontsyfering van hiërogliewe, hoewel dit nog nie in sy tyd in die vallei voltooi was nie, het hom in staat gestel om 'n chronologie van die leiers van die Nuwe Ryk op te stel, gebaseer op inskripsies in die grafkelders. Hy het ook die stelsel van grafnommering begin wat met sekere aanpassings vandag nog gebruik word.Reeves and Wilkinson (1996), pp. 61, 66
In die tweede helfte van die eeu was daar 'n groter gesamentlike poging om die antiekhede te bewaar, eerder as om dit te versamel. Auguste Mariette se Egiptiese Antiekdiens het die vallei begin verken, eers saam met Eugène Lefébure in 1883, toe Jules Baillet en Georges Bénédite vroeg in 1888 en eindelik Victor Loret in 1898 tot 1899. Loret het nog 16 grafte by die lys gevoeg en het verskeie verken wat reeds ontdek was.Reeves and Wilkinson (1996) p.69 In dié tyd het Georges Daressy graf KV9 verken.
thumb|220px|Die ingang na Horemheb se graf, kort ná die ontdekking daarvan in 1908. Nadat Gaston Maspero heraangestel is as hoof van die Egiptiese Antiekdiens, het die aard van die verkenning van die vallei weer verander. Maspero het die Engelse argeoloog Howard Carter as hoofinspekteur van Bo-Egipte aangestel, en die jong man het verskeie nuwe grafkelders ontdek en verskeie ander verken.Reeves and Wilkinson (1996) p. 71
Omstreeks die begin van die 20ste eeu het die Amerikaanse verkenner Theodore M. Davis die uitgrawingspermit vir die vallei gehad. Sy span, veral onder Edward R. Ayrton, het verskeie koninklike en niekoninklike grafkelders ontdek (insluitende KV43, KV46 en KV57). In 1907 het hulle die opgaarplek van mummies uit die Amarnatydperk in graf KV55 ontdek. Nadat hulle goedere ontdek het wat hulle geglo het al is wat van die begrafnis van Toetankamen oor was (voorwerpe wat in KV54 en KV58 gekry is), is aangekondig die vallei is ten volle verken en dat geen verdere grafte ontdek sal word nie. Davis se publikasie van 1912, The Tombs of Harmhabi and Touatânkhamanou, het afgesluit met die opmerking: "Ek is bevrees die Vallei van die Konings is nou uitgeput."Davis (2001) p. 37
Ná Davis se dood vroeg in 1915 het lord Carnarvon die konsessie bekom om uitgrawings in die vallei te doen, en hy het Howard Carter in diens geneem om dit te verken. Ná 'n stelselmatige soektog het hulle die eintlike graf van Toetankamen (KV62) in November 1922 ontdek.Reeves and Wilkinson (1996) p. 81
Verskeie ekspedisie het steeds die vallei verken en dit het tot 'n groter kennis van die gebied gelei. In 2001 het die Thebe-kaartprojek nuwe tekens vir die krafkelders ontwerp. Dit het inligting en planne van die oop grafkelders verskaf.
Grafontwikkeling
Ligging Die oudste grafkelders kom voor in kranse aan berghange, onder stormwatervalle (KV34 en KV43). Toe dié plekke vol was, is grafte laer af gebou tot op die valleibodem, en toe weer hoër op toe die valleibodem vol afvalmateriaal geraak het. Dit verduidelik die ligging van KV62 en KV63 in die valleibodem.
Argitektuur