Akira Kurosawa (Japannees: 黒澤 明, 23 Maart 1910 – 6 September 1998) was 'n Japannese rolprentregisseur, en . Hy word beskou as een van die belangrikste en invloedrykste rolprentmakers in die geskiedenis van die rolprentwese; hy het 30 rolprente geregisseer in sy loopbaan van 57 jaar.

Met 'n gedurfde en dinamiese styl wat sterk deur die Westerse rolprentkuns beïnvloed is, maar tog daarvan verskil, word hy wyd beskou as een van die grootste en invloedrykste rolprentmakers in die geskiedenis van die rolprentkuns. Hy was bekend as 'n rolprentmaker wat self hand bysit en was intens by alle aspekte van die produksie betrokke – as regisseur, skrywer, vervaardiger en snyer.Galbraith (2002), bl. 14–15.

Lewe en loopbaan Kurosawa het in 1936 in die rolprentbedryf betrokke geraak ná 'n kort loopbaan as skilder. Nadat hy jare lank as hulpregisseur en draaiboekskrywer gewerk het, het hy sy debuut as regisseur in 1943 tydens die Tweede Wêreldoorlog gemaak met die gewilde aksieprent Sanshiro Sugata (ook bekend as Judo Saga). Ná die oorlog het Drunken Angel (1948) hom 'n gerekende regisseur in Japan gemaak. Een van die hoofspelers was die toe onbekende akteur Toshiro Mifune. Die twee mans het later nog 15 prente saam gemaak. Sy vrou, Yōko Yaguchi, het ook in een van sy prente gespeel.

Kinderjare tot die oorlogsjare (1910–1945) Kinderjare en jeug (1910–1935) Kurosawa is op 23 Maart 1910 in Ōi, in die distrik Ebara (nou deel van die Shinagawa-wyk van Tokio), gebore. Hy het egter een keer beweer dat hy in Akita gebore is en later as suigling na Tokio gekom het. Sy moeder, Shima (1870–1952), het uit 'n handelaarsfamilie in Osaka gekom; sy vader, Isamu (1864–1948), was 'n lid van 'n samoeraifamilie uit die Akita-prefektuur en het as die direkteur van die weermag se Instituut vir Liggaamlike Opvoeding se laer sekondêre skool gewerk. Akira was die agtste en jongste kind van die redelik welgestelde familie; twee van sy broers en susters was met sy geboorte al grootmens en een was oorlede, sodat hy met drie susters en 'n broer opgegroei het.

Benewens die bevordering van liggaamlike oefening was Isamu ontvanklik vir Westerse tradisies en het hy die teater en die rolprentkuns as opvoedkundig waardevol beskou. Hy het sy kinders aangemoedig om rolprente te kyk, en die jong Kurosawa het sy eerste prent op sesjarige ouderdom gesien. Hy het laerskool bygewoon en bevriend geraak met Keinosuke Uekusa, terwyl sy onderwyser mnr. Tachikawa 'n belangrike vormende invloed was: dié se progressiewe onderwyspraktyke het eers 'n liefde vir tekenkuns en daarna 'n belangstelling in die onderwys as sodanig by hom aangesteek. Gedurende dié tyd het hy ook kalligrafie en die kendo-swaardvegkuns gestudeer.Galbraith (2002), bl. 16.

Nog 'n groot invloed in sy kinderjare was Kurosawa se broer Heigo (1906–1933), vier jaar sy senior. Ná die groot Kanto-aardbewing van 1923 en die daaropvolgende Kanto-slagting het Heigo die 13-jarige Kurosawa geneem om die verwoesting te aanskou. Toe Kurosawa van die menslike en dierlike lyke wat oral rondgelê het, wou wegkyk, het Heigo hom verbied om dit te doen en hom eerder aangemoedig om sy vrese in die oë te kyk deur hulle direk te trotseer. Sommige kommentators het gesuggereer dat dié voorval Kurosawa se latere kunsloopbaan sou beïnvloed, aangesien hy geredelik bereid was om onaangename waarhede in sy werk te trotseer en te ondersoek. Heigo was akademies begaafd, maar nadat hy nie 'n plek in Tokio se voorste hoërskool kon kry nie, het hy hom van die res van die familie begin losmaak en verkies om op sy belangstelling in buitelandse letterkunde te konsentreer. In die laat 1920's het Heigo hom gou 'n naam gemaak as 'n benshi (verteller by stilprente) vir Tokio se teaters wat buitelandse rolprente vertoon het. Kurosawa, wat op daardie stadium beplan het om skilder te word, het by Heigo ingetrek en die twee het onafskeidbaar geword.Galbraith (2002), bl. 19.

Onder Heigo se leiding het Kurosawa nie net gretig rolprente gekyk nie, maar ook teater- en sirkusopvoerings, terwyl hy sy skilderye uitgestal het en vir die linkse Bond van Proletariese Kunstenaars gewerk het. Hy kon nooit 'n bestaan uit sy kuns maak nie en het sy entoesiasme vir die skilderkuns verloor weens dit en sy groeiende oortuiging dat die grootste deel van die proletariese beweging daarop neergekom het om "onvervulde politieke ideale direk op die doek te plaas". Met die toenemende produksie van klankfilms in die vroeë 1930's het rolprentvertellers soos Heigo werk begin verloor, en Kurosawa het weer by sy ouers ingetrek. In Julie 1933 het Heigo sy eie lewe geneem; Kurosawa het gepraat oor die blywende gevoel van verlies wat hy oor sy broer se dood gevoel het, en die hoofstuk van Something Like an Autobiography waarin dit beskryf word – byna 50 jaar ná die gebeurtenis geskryf – is getitel "'n Verhaal wat ek nie wil vertel nie". Net vier maande ná Heigo se selfdood is Kurosawa se oudste broer ook oorlede, wat die 23-jarige Kurosawa as die enigste oorlewende broer onder sy drie susters gelaat het.

Regisseur in opleiding (1935–1941) duimnael|regs|200px|Van links: Kurosawa, Ishirō Honda en Senkichi Taniguchi met hul mentor Kajirō Yamamoto, laat 1930's In 1935 het die nuwe rolprentateljee Photo Chemical Laboratories, bekend as P.C.L. (wat later die groot ateljee Toho geword het), vir hulpregisseurs geadverteer. Hoewel hy geen vroeëre belangstelling in die rolprentkuns as beroep getoon het nie, het Kurosawa die vereiste opstel ingelewer, waarin aansoekers gevra is om die fundamentele gebreke van Japannese rolprente te bespreek en maniere te vind om hulle te oorkom. Sy half-spottende siening was dat as die gebreke fundamenteel was, daar geen manier was om hulle te regstel nie. Kurosawa se opstel het hom 'n uitnodiging na die opvolgeksamens besorg, en die regisseur Kajirō Yamamoto, een van die eksaminatore, het van Kurosawa gehou en daarop aangedring dat die ateljee hom aanstel. Kurosawa het in Februarie 1936, op die ouderdom van 25, by P.C.L. aangesluit.Galbraith (2002), bl. 25.

duimnael|regs|200px|Kurosawa (links) en Mikio Naruse (regs) tydens die verfilming van Avalanche (1937) Gedurende sy vyf jaar as hulpregisseur het Kurosawa onder talle regisseurs gewerk, maar die belangrikste figuur in sy ontwikkeling was by verre Yamamoto. Van sy 24 rolprente as hulpregisseur het hy 17 onder Yamamoto gewerk, baie daarvan komedies met die gewilde akteur Ken'ichi Enomoto, bekend as "Enoken". Yamamoto het Kurosawa se talent gekoester en hom ná 'n jaar direk van derde hulpregisseur tot hoofhulpregisseur bevorder. Kurosawa se verantwoordelikhede het toegeneem en hy het aan take gewerk wat gestrek het van die bou van dekors en rolprentontwikkeling tot die soek van lokasies, die verfyning van draaiboeke, repetisies, beligting, oorklanking, snywerk en tweede-eenheidregie. In die laaste van Kurosawa se rolprente as hulpregisseur vir Yamamoto, Horse (1941), het Kurosawa die grootste deel van die produksie oorgeneem, aangesien sy mentor met die verfilming van 'n ander prent besig was.Galbraith (2002), bl. 29–30, 35.

Yamamoto het Kurosawa aangeraai dat 'n goeie regisseur die draaiboekskryfkuns moet bemeester. Kurosawa het gou besef dat die moontlike verdienste uit sy draaiboeke veel hoër was as wat hy as hulpregisseur betaal is. Hy het later al sy rolprente self geskryf of mede-geskryf en gereeld draaiboeke vir ander regisseurs geskryf, soos Satsuo Yamamoto se A Triumph of Wings (Tsubasa no gaika, 1942). Dié buitewerk sou vir Kurosawa 'n winsgewende sylyn wees wat tot diep in die 1960's voortgeduur het, lank nadat hy bekend geword het.Galbraith (2002), bl. 658–707.

Oorlogsprente en huwelik (1942–1945) In die twee jaar ná die vrystelling van Horse in 1941 het Kurosawa gesoek na 'n verhaal waarmee hy sy regisseursloopbaan kon begin. Teen die einde van 1942, omtrent 'n jaar ná die Japannese aanval op Pearl Harbor, het die romanskrywer Tsuneo Tomita sy judo-roman Sanshiro Sugata gepubliseer, en die advertensies daarvoor het Kurosawa geïntrigeer. Hy het die boek op die dag van publikasie gekoop, dit in een sitting verslind en Toho onmiddellik gevra om die rolprentregte te bekom. Kurosawa se aanvanklike instink was reg: binne 'n paar dae het drie ander groot Japannese ateljees ook aangebied om die regte te koop. Toho het geseëvier en Kurosawa het met die voorproduksie van sy regisseursdebuut begin.Galbraith (2002), bl. 39.

Die verfilming van Sanshiro Sugata het in Desember 1942 op lokasie in Yokohama begin. Die produksie het glad verloop, maar om die voltooide prent by die sensors verby te kry, was 'n heel ander saak. Die sensuurkantoor het die werk volgens die standaarde van oorlogstydse Japan as aanstootlik "Brits-Amerikaans" beskou, en dit was slegs deur die tussenkoms van die regisseur Yasujirō Ozu, wat vir die prent in die bres getree het, dat Sanshiro Sugata uiteindelik op 25 Maart 1943 vir vrystelling aanvaar is. Kurosawa het pas 33 geword. Die prent was sowel 'n kritiese as 'n kommersiële sukses. Nietemin het die sensuurkantoor later besluit om 18 minute se materiaal uit te sny, waarvan die grootste deel vandag as verlore beskou word.Galbraith (2002), bl. 43, 45–46.

Hy het hom daarna tot die onderwerp van oorlogstydse vroulike fabriekswerkers gewend in The Most Beautiful, 'n propagandaprent wat hy vroeg in 1944 in 'n half-dokumentêre styl verfilm het. Om realistiese vertolkings uit sy aktrises te kry, het die regisseur hulle tydens die verfilming in 'n werklike fabriek laat woon, die fabriekskos laat eet en mekaar op hul karakters se name laat noem. Hy sou soortgelyke metodes met sy spelers deur sy hele loopbaan gebruik. Tydens die produksie is die aktrise wat die leier van die fabriekswerkers vertolk het, Yōko Yaguchi, deur haar kollegas gekies om hul eise aan die regisseur voor te lê. Sy en Kurosawa was voortdurend met mekaar oorhoop, en dit was juis deur dié argumente dat die twee paradoksaal naby aan mekaar gekom het. Hulle is op 21 Mei 1945 getroud, met Yaguchi twee maande swanger (sy het nooit haar akteursloopbaan hervat nie), en die paar het saam gebly tot haar dood in 1985. Hulle het twee kinders gehad: 'n seun, Hisao, gebore op 20 Desember 1945, wat as vervaardiger van sommige van sy vader se laaste projekte gedien het, en 'n dogter, Kazuko, gebore op 29 April 1954, wat 'n kostuumontwerper geword het.Galbraith (2002), bl. 46–51.Galbraith (2002), bl. 55–57.Galbraith (2002), bl. 64, 191.

duimnael|regs|Die verfilming van The Men Who Tread on the Tiger's Tail, 1945 Kort voor sy huwelik is Kurosawa deur die ateljee teen sy wil gedruk om 'n opvolger tot sy debuutprent te regisseer. Die dikwels onbeskaamd propagandistiese Sanshiro Sugata Part II, wat in Mei 1945 première gehad het, word oor die algemeen as een van sy swakste prente beskou. Kurosawa het besluit om die draaiboek te skryf vir 'n prent wat sowel sensorvriendelik as goedkoper sou wees om te vervaardig. The Men Who Tread on the Tiger's Tail, gebaseer op die kabuki-toneelstuk Kanjinchō en met die komediant Enoken in die hoofrol, is in September 1945 voltooi. Teen daardie tyd het Japan oorgegee en die besetting van Japan het begin. Die nuwe Amerikaanse sensors het die waardes wat na bewering in die prent bevorder is, as oormatig "feodaal" vertolk en die werk verban. Dit is eers in 1952 vrygestel, dieselfde jaar waarin nog 'n Kurosawa-prent, Ikiru, ook vrygestel is.Galbraith (2002), bl. 51–55.Galbraith (2002), bl. 660–661.

Vroeë naoorlogse jare tot Red Beard (1946–1965) Eerste naoorlogse werke (1946–1950)