Hans Christian Andersen (* 2 April 1805; † 4 Augustus 1875) was 'n Deense digter en skrywer van sprokies en feëverhale (feëverhaal). Hy is veral bekend vir verhale soos "Die sneeukoningin" en "Die lelike eendjie".HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Andersen is in Odense op die eiland Fyn gebore. Sy ouers was arm, 'n skoenmaker en wasvrou onderskeidelik. Sy pa het baie aan hom voorgelees en ook vir hom 'n poppeteater gebou. Hans het baie by sy ma oor Deense volksoorlewering en bygelowe geleer. Sy pa is in 1816 oorlede nadat sy gesondheid deur sy diens in die Napoleontiese Oorloë geknak is, en sy ma moes elke dag was om geld te verdien. Hy het nie skool toe gegaan nie en elke dag by die huis gebly en gedagdroom. Op die ouderdom van veertien het hy die huis verlaat en na Kopenhagen gegaan met die woorde aan sy ma: Ek gaan beroemd raak.
Hy kry werk by die Koninklike Teater en werk by die ballet- en koorafdelings. Die hele tyd het hy stories, tragedies en gedigte geskryf wat hy aan die direkteur van die teater gegee het. Op die ouderdom van sewentien het die teater 'n beurs aan hom toegeken en skool toe gestuur. Hy woon die skool vir ses jaar by en slaag sy universiteitseksamen. Hy begin voltyds skryf en dig. Sy eerste sukses was Improvisatoren ("Die improvisator"), 'n storie wat in Italië afspeel. Hy skryf altesaam 156 sprokies, wat in nege bundels verskyn het en in meer as 125 tale vertaal is; ouer bronne gee die getal wisselend as 159 of 168, na gelang van wat as 'n afsonderlike verhaal getel word.
Herkoms en agtergrond duimnael|Andersen se kinderhuis in Odense Andersen is op 2 April 1805 in Odense gebore en op 15 April in die Sint Hanskerk in dieselfde stad gedoop; volgens sy geboortesertifikaat, wat eers in November 1823 opgestel is, was ses doopgetuies teenwoordig. Hy het 'n halfsuster, Karen, gehad. Sy vader, ook Hans, het gemeen dat die familie aan die adel verwant was – 'n oorlewering wat latere ondersoek weerlê het – en daar is al bespiegel, hoewel dit bevraagteken word, dat Andersen 'n buite-egtelike seun van koning Christiaan VIII was; die Deense geskiedkundige Jens Jørgensen het dié gedagte in sy boek H.C. Andersen, en sand myte verdedig.
Sy moeder, Anne Marie Andersdatter, was 'n ongeletterde wasvrou. Andersen is na 'n plaaslike skool vir arm kinders gestuur, waar hy net 'n basiese opleiding gekry het, en hy moes homself onderhou deur eers by 'n wewer en later by 'n kleremaker in die leer te gaan. Benewens die Latynskool op Slagelse het hy tot 1827 ook skool in Helsingør bygewoon, en hy het later gesê dat sy jare op dié skole die donkerste en bitterste van sy lewe was: by een skool het hy in die skoolhoof se huis gewoon, waar hy mishandel is.
'n Baie vroeë sprokie van Andersen, "Die kersvet" (Tællelyset), is in Oktober 2012 in 'n Deense argief ontdek. Die verhaal, wat in die 1820's geskryf is toe hy nog op skool was, gaan oor 'n kers wat voel dat sy waarde nie besef word nie en was aan een van sy beskermhere opgedra.
Lewe Die lewensverhaal van Hans Christian Andersen klink soos een van sy eie sprokies. Sy pa was 'n arm, dromerige en sukkelrige skoenmaker. Hoewel arm aan wêreldsgoed, het hy sy seun tog iets gegee wat niemand ooit van hom kon wegneem nie - 'n liefde vir die skone kunste en 'n kinderlike vertroue in die Voorsienigheid.
Hy het vir hom gereeld voorgelees uit goeie boeke, onder meer uit die dramas van Shakespeare en die Duisend-en-een Nagte, en vir hom 'n klein poppespelteater gebou. Toe Hans nog baie jonk was, het sy pa vertrek om in die Napoleontiese Oorloë te veg. Die oorloë het die skoenmaker se gesondheid egter geknak en hy is kort daarna oorlede.
Die jong Hans is bederf deur sy moeder, wat twee jaar na sy vader se dood weer getrou het, en deur sy ouma. Hoewel hy in die skool nie juis uitgeblink het nie, was hy vol selfvertroue dat hy eendag iemand van betekenis sou word. Hy het hom eenkant gehou, want die ander seuns het hom gespot; hy het die grootste deel van sy tyd alleen deurgebring met toneelstukke en verhale uitdink. Aangesien hy redelik goed kon sing, het hy dikwels in die huise van ryk mense opgetree. Toe Hans veertien jaar oud was, het hy alleen vertrek na Kopenhagen, die hoofstad van Denemarke, om daar sy geluk te gaan soek.
In sy sak het hy 'n brief van aanbeveling gehad aan die solodanseres by die Koninklike Skouburg, Madame Schall, en hy was seker dat die direkteure van die teater sy talente na waarde sou kon skat. Hans het glad nie die erkenning gekry wat hy verwag het nie. Madame Schall was glad nie geïmponeer deur sy dansery nie, en die hoofdirekteur van die Koninklike Teater het aan hom gesê dat hy te lank en skraal vir 'n verhoogkunstenaar is; in elk geval was daar nie plek vir onopgeleide persone by die teater nie.
Op moedverloor se vlakte besluit Hans om vir oulaas by Siboni, die sangmeester van die teater, om hulp te gaan aanklop. Siboni het dadelik van die seun gehou en aangebied om hom as leerling te aanvaar. Maar Hans se vreugde was van korte duur. Na ses maande het sy stem gebreek en moes hy die singery staak. Daarna het hy ballet probeer, maar ook dit was ʼn mislukking. Hans het egter nie tou opgegooi nie. Sy eerste twee treurspele is summier afgekeur. So ook die derde stuk. Maar saam met die afgekeurde manuskrip het die uitkoms ook gekom - ʼn beurs om die Latynskool (hoërskool) by te woon.
Hierdie beurs is bewerkstellig deur Jonas Collin, 'n invloedryke amptenaar en lid van die direksie van die skouburg. Collin was tot met sy dood Andersen se beskermheer en vriend. Hans was sewentien toe hy na die skool op Slagelse gegaan het, en hy het vyf jaar lank daar gebly. Dit was nie maklike jare nie. Sy veel jonger skoolmaats het met hom die spot gedryf, en die skoolhoof, Meisling, het hom verag en sy lewe vergal. Op 22-jarige ouderdom het hy in Kopenhagen teruggekeer. Hoewel hy baie toegewyde vriende gehad het, het Hans nooit getrou nie; ook het hy nooit vir hom 'n huis gekoop nie.
Hy het maar van kamer tot kamer en woonstel tot woonstel rondgeswerf, of by van sy vername vriende op hul landgoedere gewoon. Nadat hy twee digbundels uitgegee het, het sy vriend Collin hom aangeraai om 'n bietjie in die buiteland te gaan reis. Die gevolg was dat hy 'n groot liefde vir reis ontwikkel en baie tyd buite Denemarke deurgebring het - eers as 'n arm skrywer, wat feitlik van die hand na die tand geleef het, en later as 'n geëerde gas van konings en koninginne, rykes en mede-skrywers, onder meer die befaamde Engelse skrywer Charles Dickens.
Na sy terugkeer uit Italië in 1835 het hy ʼn geslaagde roman, Die Improvisators, geskryf, wat in Italië afspeel en die stryd van 'n jong digter uitbeeld. Om 'n bietjie geld te bekom terwyl die boek in die pers was, het hy sy eerste kinderverhale geskryf, drie waarvan op ou volksverhale gebaseer was.
Erkenning Hierdie verhale was 'n onmiddellike sukses en hulle het Hans erkenning en bekendheid as skrywer besorg. Hoewel sy toneelstukke, novelles en gedigte dikwels kwaai kritiek moes verduur, is elke nuwe kinderverhaal met loftuitinge ontvang. Baie van sy verhale het herinneringe uit sy jeug uitgebeeld. Die armoede van sy moeder se kinderjare word verhaal in Die Meisie met die Swawelhoutjies. Aan die kleinste en onbelangrikste goeters - 'n knoop, 'n lepel, 'n tol – kon hy 'n nuwe betekenis gee deur sy wonderlike verbeelding.
Niks was so klein dat dit sy opmerksame oog ontsnap het nie. Die lewe self is die wonderlikste feeverhaal, het hy in sy outobiografie, Die Ware Verhaal van My Lewe, geskryf. Hoewel hy self die sprokies as onbelangrik beskou en sy lewe lank gehunker het na erkenning as skrywer van volwasse romans en dramas, het altesame 159 sprokies en verhale uit sy pen gevloei. Met sy volwasse werk het hy nooit sukses behaal nie, maar as skrywer van sprokies het hy onsterflik geword.
In 1867 het Hans Christian Andersen, eens die seun van 'n arm skoenmaker, nou ʼn beroemde man, die ereburgerskap van sy geboortestad, Odense, ontvang. Agt jaar later, in 1875, is hy aan die huis van 'n ryk vriend naby Kopenhagen oorlede. In die Koningstuin in Kopenhagen staan vandag 'n standbeeld van Andersen met 'n boek in sy hand; die huis in Odense waarin hy gebore is, is ʼn museum. Die drome van die arm seun is verwerklik - soos in een van sy sprokies, waarin die lelike eendjie, na hartseer en swaarkry, op die ou end 'n swaan geword het.
Loopbaan Eerste werk In 1829 het Andersen aansienlike sukses behaal met die kortverhaal "'n Voetreis van Holmen se kanaal tot by die oospunt van Amager", waarin die hoofkarakter figure van Sint Petrus tot 'n pratende kat ontmoet. Hierop het 'n toneelstuk en 'n klein digbundel gevolg. Hy het min vordering met sy skryf- en uitgewerswerk gemaak, maar in 1833 'n klein reisbeurs van die koning ontvang, wat die eerste van baie reise deur Europa moontlik gemaak het. By Le Locle in Switserland het hy die verhaal "Agnete en die meerman" geskryf, en dieselfde jaar het 'n aand in die Italiaanse kusdorpie Sestri Levante hom die titel "Die baai van fabels" laat gee. Hy het in Oktober 1834 in Rome aangekom, en sy reise in Italië is in sy eerste roman, die gefiksionaliseerde outobiografie Improvisatoren (1835), weerspieël, wat onmiddellik byval gevind het.
Die sprokies Eventyr, fortalt for Børn ("Sprokies, vir kinders vertel") is die bundel van nege sprokies waarmee Andersen die genre die eerste keer betree het. Die verhale is tussen Mei 1835 en April 1837 in drie aflewerings deur C. A. Reitzel in Kopenhagen uitgegee. Die eerste aflewering, 'n bundeltjie van 61 ongebonde bladsye wat op 8 Mei 1835 verskyn het, het "Die vuurslag", "Klein Klaus en Groot Klaus", "Die prinses en die ertjie" en "Klein Ida se blomme" bevat; die eerste drie was op volksverhale gegrond wat Andersen in sy kinderjare gehoor het, en die vierde het hy vir Ida Thiele, die dogter van sy vroeë beskermheer, geskryf. Reitzel het hom dertig rigsdaler vir die manuskrip betaal.
Die tweede bundeltjie het op 16 Desember 1835 verskyn met "Die stoute seuntjie", "Die reisgenoot" en "Duimelientjie", en die derde op 7 April 1837 met "Die meerminnetjie" en "Die keiser se nuwe klere". Eersgenoemde, wat deur Friedrich de la Motte Fouqué se Undine en meerminlegendes beïnvloed is, het Andersen se internasionale reputasie gevestig. "Die keiser se nuwe klere" is op 'n Middeleeuse Spaanse verhaal met Arabiese en Joodse oorspronge gebaseer; op die vooraand van publikasie het Andersen die slot verander van 'n keiser wat bloot in optog stap na die beroemde einde waarin 'n kind uitroep dat die keiser glad nie klere aan het nie.
Andersen het in 1838 'n tweede reeks sprokies begin en in 1845 'n derde. Teen daardie tyd is hy in die hele Europa gevier, hoewel Denemarke self nog met 'n mate van weerstand op sy aansprake gereageer het. In die 1840's het sy aandag na die verhoog teruggekeer, met min sukses, maar die Prenteboek sonder prente (1840) is goed ontvang. Van 1844 af het Andersen die reeks onder die titel Nye Eventyr ("Nuwe sprokies") laat verskyn en die byvoegsel "vir kinders vertel" laat vaar – 'n aanduiding dat hy sy verhale nie meer as blote kinderlektuur beskou het nie. In 1852 het die titel weer verander na Eventyr og Historier ("Sprokies en verhale"), wat die twee soorte werk onderskei het: die sprokie met sy wonderelement teenoor die verhaal wat in die alledaagse wêreld afspeel. Groot versamelde uitgawes het in 1849 en 1862 verskyn, elk met illustrasies wat mede tot die verhale se sukses bygedra het: Vilhelm Pedersen was die eerste illustreerder van die sprokies en Lorenz Frølich het ná sy dood by hom oorgeneem. Die eerste Engelse vertalings het in 1846 verskyn, onder meer Mary Howitt se Wonderful Stories for Children, waarna die verhale vinnig in die res van Europa bekend geword het.
Reisverhale