Die Slag van Rorke's Drift het op 22 Januarie 1879 plaasgevind tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog by Rorke's Drift. 'n Zoeloemag van ongeveer 4000 manne het die geboue wat as 'n tydelike hospitaal gedien het, aangeval.
Agtergrond Rorke's Drift is een van drie driwwe waar die Buffelsrivier gekruis kon word wat op daardie stadium die grens tussen Natal en Zoeloeland was. Die drif is vernoem na die Ier James Rorke wat sy huis hier gebou en geboer het aan die Natalkant van die rivier. Die huis was groot met verskeie vertrekke. Ná Rorke se dood het die sendeling Otto Witt, sy vrou en vier kinders in die huis getrek wat hy toe in 'n kerk omskep het. Toe die oorlog uitbreek in 1879 tussen die Britse Ryk en die Zoeloes, het lord Chelmsford die huis toegeëien en in 'n hospitaal laat omskep. 'n Gedeelte was ook gebruik as 'n stoor waar ammunisie, gewere en voorrade gestoor is. Toe die Zoeloemag die hospitaal aanval, was daar slegs 'n paar fikse soldate asook 39 siek mense in die hospitaal. Die slag het net ná die Slag van Isandlwana plaasgevind.
Die opbou duimnael|links|130px|Lt. John Chard duimnael|links|130px|Lt. Gonville Bromhead
Nadat die Britse magte Zoeloeland ingeval het op 10 Januarie 1879 was daar 104 soldate van die 2de Batteljon, 24ste Regiment en 39 siek manne en 300 lede van die Natal Native Contingent. Die mees senior offisier was Majoor Henry Spalding en luitenant Gonville Bromhead was tweede in bevel. 'n Paar dae voor die slag het luitenant John Chard van die Royal Engineers daar gearriveer. Vroeg in die oggend van die 22ste kry kolonel Durnford 'n boodskap om by lord Chelmsford aan te sluit as bystand, die eerste aanduiding dat die eerste aksie in Zoeloeland begin het. Luitenant Chard het ook vroeg die oggend na Isandlwana vertrek om sy bevele met lord Chelmsford uit te klaar. Toe hy daar aankom, was hy ontsteld toe hy verneem dat die Zoeloes weswaarts in die rigting van Rorke's Drift vertrek het. Hy keer toe onmiddellik terug na Rorke's Drift.
Later in die oggend is daar skote gehoor by Rorke's Drift en Spalding vertrek na Helpmekaar om versterkings te kry. Dit laat Bromhead en Chard in bevel. 'n Assistent-offisier, James Langley Dalton, wys daarop dat dit beter sal wees om in die huis te bly as om te vlug. Hulle bou toe 'n versperring om die hospitaal uit koekiebokse en groot sakke mieliemeel. Die sakke het 90 kg elk geweeg.
Intussen het die Zoeloes die Britte by Isandlwana verslaan en 4000 van hulle was op pad na Natal. By Rorke's Drift het van Durnford se soldate aangekom wat gevlug het van die Zoeloes by Isandlwana. Die 300 soldate van die Natal Native Contingent vlug toe hulle die nuus hoor. Dalton laat 'n tweede, kleiner versperring bou om die area wat verdedig moet word.
Die aanvalle Net hierna het die eerste Zoeloe-aanval plaasgevind uit die rigting van berg Shiyane. Die aanval is afgeweer met groot verliese vir die Zoeloes. 'n Tweede aanval uit die weste was ook afgeweer. Die Zoeloes het hulself toe aan die weste hergroepeer, oorkant die stoep van die hospitaal waar hulle naby die hospitaal was. Elke vertrek met 'n buitedeur het versperrings voor gehad met slegs 'n gat waardeur die Britte kon skiet met hulle Martini-Henry gewere. Die aanvallers het daarin geslaag om in die gebou te kom maar die verdedigers het gate in die kleimure gemaak om te ontsnap na aangrensende vertrekke. Elke gat is met 'n bajonet verdedig totdat alle persone die vertrek verlaat het. Die Zoeloes het toe uit pure frustrasie die grasdak aan die brand gesteek maar die gras was nat en het stadig gebrand. Die Britte het uit die brandende gebou ontsnap deur 'n klein venstertjie onder dekking van hulle kollegas agter die buite versperrings. Vrywilligers het die siek mense uit die brandende hospitaal gedra na veiligheid. Die Zoeloes het regdeur die nag aanvalle geloods en selfs een keer daarin geslaag om in die beeskraal te kom. Hulle is met 'n bajonetstormloop verdryf. Geleidelik het die aanvalle deur die nag verminder. Teen dagbreek het die Britte die aanvallers op 'n nabygeleë heuwel sien saamdrom en hulself voorberei vir nog 'n aanval. Skielik het die Zoeloes net verdwyn. Die Zoeloes het egter Chelmsford en sy manne sien terugkeer vanaf Isandlwana en gevlug.
Ongevalle Slegs 17 Britse soldate en oor die 800 Zoeloes het gesneuwel. Daar is 11 Victoriakruise toegeken aan die Britte, die meeste ooit toegeken is aan 'n enkele regiment op een dag.
Lees ook Historiese slagveldroete van KwaZulu-Natal
Bronne Attwell, Eric: Rorke's Drift - on the day eleven Victoria Crosses were won. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 25, nr. 1, September 1975 Field Guide to the BATTLEFIELDS of South Africa Nicki von der Heyde. 2013 Louw, Helena: Rorke's Drift - van grenspos tot kunssentrum. In: Lantern. Kultuurtydskrif. Jaargang 41, nr. 1, Februarie 1992 Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. le Roux, Francette: Slagveldroete in Noord-Natal. In: Suid-Afrikaanse Panorama. Jaargang 35, nr. 4, Julie/Augustus 1990. ISSN 0491-4783
Verwysings
Rorke's Drift