Die appelblaar (Philenoptera violacea) is 'n middelgroot tot groot boom wat onder die familie Fabaceae resorteer. Dit is een van 11 Philenoptera-spesies wat almal endemies aan Afrika is. Die appelblaar is inheems aan Afrika suidwaarts van die ewenaar, en is in Suid-Afrika 'n beskermde spesie. Die FSA-nommer is 238.https://www.treetags.co.za/national-list-of-indigenous-trees/

Taksonomie Materiaal van die appelblaar is in 1861 tydens 'n veldekskursie in Mosambiek deur Johann Klotzsch versamel en afgebeeld as Capassa violacea. In 2000 is dit egter as Philenoptera violacea herbenaam. Homotipiese sinonieme sluit Lonchocarpus violaceus deur Daniel Olivier en Derris violacea deur Hermann Harms in, wat onderskeidelik in 1872 en 1902 beskryf is.

Beskrywing duimnael|links|175px|Bloeiwyse in November Die boom groei tot 20 meter hoog en is bladwisselend. Dit het krom of gedraaide stamme, en die blarekroon is gewoonlik redelik oop. Die blare is veervormig saamgesteld, met die blaartjies in pare, benewens een eindstandige blaartjie. Die blomme wat in lentetyd verskyn is ligpers van kleur. Die plat, hangende peul bevat 2 tot 4 niervormige sade.

Habitat Die appelblaar is inheems aan die suidelike trope en subtrope van Afrika, waar dit voorkom in areas met voldoende grondwater. Dit is algemeen aan rivieroewers en in grasveld van vloedvlaktes, benewens in miombo-boomveld van plato's. Die substraat is dikwels alluvium, Kalaharisand of termiethope. Dit groei algemeen in laagliggende gebiede maar word tot op hoogtes van 1 400 m aangetref.

Verspreiding Dit is inheems aan Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal in Suid-Afrika, Eswatini, noordoostelike Namibië insluitend die Caprivistrook, Botswana insluitend die Okavangodelta, Zimbabwe, Mosambiek, suidoostelike Angola, Zambië, die Katangastreek van die DRK en Tanzanië.

Gebruike Die termietwerende hout word in die bou van tradisionele behuising soos rondawels gebruik, en benewens vir handvatsels van implemente ensomeer. Die blare en peule word deur wild en mak diere gevreet. Die wortels en bas is egter toksies, en laasgenoemde word soms as visgif benut. Ten spyte van die toksisiteit van die bas word dit wel as tradisionele medisyne gebruik.

Ander name In Afrikaans staan dit ook as olifantsoor, raasboom of stamperhout bekend. In Engels staan dit benewens apple leaf as die rain tree bekend. Laasgenoemde naam is afgelei van die waterdruppels wat selfs tydens droë weer uit die boom val om poeletjies op die grond te vorm. Die verskynsel word veroorsaak deur skuimnesbesies (Ptyelus grossus) wat die boom infekteer en die sap uitsuig. Nadat hulle suiker en soute uit die sap onttrek het, word byna suiwer water afgeskei om die sogenaamde reën te vorm. Ander name sluit in Mphata in Noord-Sotho, Mopororo in Tswana, Mbhandzu, Mbhandu of Mohata in Tsonga, isiHomohomo, Umbhandu of Umphanda in Zoeloe, Mufhanda in Venda en iChithamuzi, iDungamuzi of iPhanda in Noord-Ndebele.

Fotogalery

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bome

Verwysings

Bronnelys Watter Boom is dit? Eugene Moll 2013 REDLIST Sanbi Plants of the World Online

Eksterne skakels

Kategorie:Bome van Afrika Kategorie:Philenoptera Kategorie:Flora van Angola Kategorie:Flora van Botswana Kategorie:Flora van Eswatini Kategorie:Flora van Malawi Kategorie:Flora van Mosambiek Kategorie:Flora van Namibië Kategorie:Flora van Suid-Afrika Kategorie:Flora van Zambië Kategorie:Flora van Zimbabwe