Die tierluislang (Python molurus) is die kollektiewe benaming vir die Indiese en Birmaanse luislang.Let daarop dat Burmese luislang taalkundig onjuis is. Die dier kom uit die destydse Birma, wat vandag Mianmar is. Burma is die Engelse spelwyse. Dit is 'n slangsoort van die Luislange (Pythonidae) en word by die geslag Egte Luislange (Python) ingedeel. Twee subspesies word erken, wat heel onlangs ook as afsonderlike spesies beskou word: die Indiese luislang (Python molurus molurus) en die Birmaanse luislang (P. m. bivittatus). Die donker subspesie, die Birmaanse luislang, is met 'n bevestigde lengte van meer as vyf meter een van die grootste slange ter wêreld. Die verspreidingsgebied sluit groot dele van die tropiese en subtropiese Suid- en Suidoos-Asië in. Die spesie bly in 'n wye verskeidenheid van beboste habitats, nie te ver van water nie en ten minste soms ook in die randgebiede van menslike nedersettings. Vir enkele dekades lank het onwettige vrylatings in die natuur veroorsaak dat 'n indringerbevolking in Florida, 'n VSA-deelstaat, ontstaan het.
Na die grootte van die luislang wissel die dieet van klein tot medium, bitter selde tot groot gewerwelde diere soos jong swynherte en volgroeide luiperds. Die tierluislange is soos al die slangsoorte van die genus Python eierlêend (ovipaar) en behoort tot die soort waar die wyfie die broeitemperatuur deur spierbewings reguleer. Weens verdelging voor die voet en habitatvernietiging verklaar die IUBN die spesie as gevoelig (near threatened).
Omskrywing Liggaamsbou en erflike eienskappe Die jong, onvolgroeide slange is baie slank gebou, terwyl die uitgegroeide tierluislange egter 'n baie kragtige lyf het. Ten opsigte van die liggaamslengte en -massa is daar 'n duidelike geslagsdimorfisme teenwoordig: die wyfies is gemiddeld heelwat groter en swaarder as die mannetjies. Die kop is groot en swaar, byna twee maal so lank as wat dit breed is en matig van die nek onderskeibaar.J. G. Walls: The Living Pythons - A complete guide to the Pythons of the World. T. F. H. Publications 1998, , bl. 131-142.S. M. Campden-Main: A field guide to the snakes of South Vietnam. City of Washington 1970, bl. 8-9. Die sydelingse posisie van die oog skep 'n gesigsveld van 135º.R. Bauchot (Hrsg.): Schlangen - Evolution, Anatomie, Physiologie, Ökologie und Verbreitung, Verhalten, Bedrohung, Gefährdung, Haltung und Pflege. Bechtermünz Verlag 1994, , bl. 55, 181. Die kragtige grypstert maak by die wyfies sowat 12 % en by die mannetjies tot so 14 % van hul totale lengte uit. Die spore is by die mannetjies groter as by die wyfies. Die erflike eienskappe bestaan uit 36 diploïede chromosome (2n = 36), met 16 makrochromosome en 20 mikrochromosome.L. Singh, T. Sharma, S.P. Ray-Chaudhuri: Chromosomes and the classification of the snakes of the family Boidae. Cytogenetics Band 7, 1968, bl. 161-168. Zit. in: H. Schleich, W. Kästle: Amphibians and Reptiles of Nepal - Biology, Systematics, Filed Guide. A. R. G. Gantner Verlag K. G. 2002, , bl. 795.
Skubbe By slange word na skubbe dikwels as skilde verwys. 'n Skild is 'n skub met 'n spesiale beskermende funksie.Marais, Johan. 2004. Volledige gids tot die slange van Suider-Afrika Struik Uitgewers. bl. 302.
Die neusgate lê dorsaal en elkeen is met 'n groot neusskild omring. Die nasalia (neusskilde) is deur 'n paar kleiner, maar duidelik herkenbare internasalia (tussenneusskilde) van mekaar geskei. Hieraan grens weer reghoekige prefrontalia (voor-voorhoofskilde). 'n Tweede, baie kleiner paar prefrontalia, wat dikwels in verskeie klein skilde verdeel is, lê tussen die voorste prefrontalia en die baie gelykvormige paar frontalia (voorhoofskilde). Bokant die oog is daar 'n groot supraokulêre skild (bo-oogse skild). Die rostrale (snoetskild) het, soos by die meeste ander luislange, twee diep labiaalgroewe (lipholtes). Aan die kante van die kop volg daar vanaf die neusskilde, in die rigting van die oë, verskeie lorealia (leiselsskilde), wat in grootte en voorkoms wissel. Gewoonlik is twee preokulêre skilde (vooroogskilde) en drie tot vier postokulêre skilde (agteroogskilde) teenwoordig. Die subokulêre skilde (onderoogskilde) wissel van subspesie na subspesie. Daar is 11 tot 13 supralabialia (bolipskilde), waarvan die eerste en tweede diep lipholtes het. Van die 16 tot 18 infralabialia (onderlipskilde) is verskeie van die voorstes en agterstes met onduidelike lipgroewe of lipkuiltjies bedek.
Die aantal ventrale skilde (pensskilde) wissel na gelang van die individu tussen 245 en 270, die aantal rye rugskilde in die middellyf is gewoonlik tussen 58 en 73. Daar is 57 tot 83 pare subkoudale skilde (onderstertskubbe). Die anale skild is heel.
Kleur duimnael|'n Tierluislang met 'n oop bek. Die helder grondkleur van die tierluislang is ligter langs die flanke af. Op die rug is daar 30 tot 38 groot, dikwels reghoekige, donker rugvlekke. Op die flanke wissel die groot donker vlekke op die rugpatroon van subspesie na subspesie. Die ligte pens is tot by die stert donker gespikkel. Op die kante van die kop loop daar 'n spitstoelopende, donker band wat vanaf die oog in die rigting van die neus loop. 'n Breë, swartrandige streep loop vanaf die oog tot onder die mondhoek. Dit begrens 'n keëlvormige donker vlek by die onderhelfte van die oog asook 'n wit area. Van die neus oor die oë tot by die nek loop 'n pylvormige bruin patroon met 'n ligte punt in die middel. Die kleurintensiteit van die pylpatroon wissel van subspesie.
Gebit Die gebit bestaan uit dun, langwerpige tande wat deurgaans skerp en na die keel teruggebuig is en van die snoet na die keel toenemend kleiner word. Teen die middel van die boonste mondholte loop voor op die bokaak die verhemeltebeen en verder agtertoe die vlerkbeen parallel met mekaar. Simmetriesgesproke is daar aan elke kant 4 klein tussenkaaksbeen-, 18 tot 19 bokaak-, 6 verhemeltebeen-, 8 tot 10 vlerkbeen- en 16 tot 19 onderkaaktande. Die slang het dus altesaam tussen 104 en 116 tande.
Klassifikasie By die egte luislange is die tierluislang volgens 'n molekulêrgenetiese ondersoek die nouste verwant aan die Afrika-rotsluislang.L. H. Rawlings, D. L. Rabosky, S. C. Donnellan, M. N. Hutchinson: Python phylogenetics: inference from morphology and mitochondrial DNA. Biological Journal of the Linnean Society Band 93, 2008, bl. 603–619; [cteg.berkeley.edu/~rabosky/Publications_files/Rawlings_etal_BJLS_2008.pdf online, pdf].
Oor die interne klassifikasie van die tierluislang heers daar vir oor die 200 jaar lank omstredenheid. Tans word twee subspesies erken: die Indiese luislang (Python molurus molurus) en die Birmaanse luislang (P. m. bivittatus) (Kuhl, 1820). Op grond van meer onlangse navorsing word beide vorme se spesiestatus bespreek. Die verspreidingsgebiede van beide subspesies oorvleuel met sekerheid in Noordoos-Indië, Nepal, Wes-Bhoetan, Suidwes-Bangladesj en moontlik ook in Noordwes-Birma. 'n Voldoende ondersoek oor die tierluislange in hierdie streke is nog uitstaande. Huidige waarnemings in Indië en Nepal toon egter dat die twee subspesies, in teenstelling met vroeë aannames, simpatries voorkom, soms selfs dieselfde habitats deel en nie met mekaar paar nie. Ook Jacobs et al. (2009) stel derhalwe voor dat beide vorme, ondersteun deur die twee kenmerkende morfologiese verskille van die skubbe by die sykante van die kop en die patrone op die bokant van die kop, elkeen afsonderlike spesiestatus as die Indiese luislang (Python molurus) en Birmaanse luislang (Python bivittatus) toegeken word.
Op die Indonesiese eilande Bali, Soelawesi, Soembawa en Java dui sekere soögeografiese en morfologiese aspekte op 'n differensiasie van Python m. bivittatus. Hierdie bevolkings is meer as 700 kilometer van die slange op die vasteland geskei, toon patroonverskille en het op Soelawesi, Bali en Java tot dwergvorme ontwikkel.R. de Lang, G. Vogel: The snakes of Sulawesi: A field guide to the land snakes of Sulawesi with identification keys. Frankfurt Contributions to Natural History Band 25, Edition Chimaira 2005, , bl. 23-27, 198-201. In 2009 word die slange uit Soelawesi deur Jacobs et al. vir die eerste keer van nader ondersoek. Op grond van die grootte- en kleurverskille stel die outeurs voor dat die dwergvorm as 'n subspesie beskou moet word. As wetenskaplike naam stel hul P. bivittatus progschai voor, waar hul navorsing die Birmaanse luislang as 'n eie, selfstandige spesie erken. Molekulêrgenetiese navorsing oor die status van hierdie dwergvorm is nog uitstaande. Dit is ook nog onduidelik tot watter mate die ander Indonesiese eilandbevolkings van die vastelandvorm verskil.
'n Ander subspesie genaamd P.m. pimbura, wat slegs op die eiland Sri Lanka voorkom, word in 1945 deur Deraniyagala beskryf. Aan die hand van die kleur, patroon en aantal subkoudale skilde (onderstertskubbe) wys hy daarop dat min diere van die vastelandvorm, P.m. molurus, verskil het.P. E. P. Deraniyagala: Some New Races of the Python, Chrysopelea, Binocellate Cobra and Tith-Polonga inhabiting Ceylon and India. Spolia Zeylanica Band 24, Heft 2, 1945, bl. 103-112. In 1949 vind Constable hierdie verskille egter as onvoldoende. Vir hom weerspieël die luislange 'n verwagte variasiebreedte van individue binne 'n bevolking.J.D. Constable: Reptiles from the Indian peninsula in the Museum of Comparative Zoology. Bulletin of the Museum of Comparative Zoology Band 103, Heft 2, 1949; Volltext, online. Sedertdien word die tierluislange van Sri Lanka nie meer uitvoerig bestudeer wat hul morfologie of genetika betref nie. Vandag word hul subspesiestatus egter oor die algemeen nie meer ondersteun nie. Hulle word weer as eilandbevolking van P. m. molurus beskou.
Indiese luislang (Python molurus molurus) Skubbe duimnael|Beeld van Python m. molurus: 'n bolipskild raak aan die oog. duimnael|Vastelandvorm van die Indiese luislang (Python m. molurus). duimnael|Indiese luislang van Sri Lanka (Python m. molurus). Die sesde of sewende bolipskild (supralabiale skild) grens direk aan die oogonderrand. By die Birmaanse luislang is die oog deur 'n hele ry onderoogskilde (subokulêre skilde) van die bolipskilde geskei.
Kleur Die grondkleur is witterig, liggrys, gelerig of beige en onvolgroeide slange het dikwels 'n pienk glans. Luislange uit die bergwoude in Wes-Ghats, Assam en Sri Lanka is gewoonlik donkerder geteken as dié van die Dekkan-plato en die ooskus van Indië.R. Whitaker: Common Indian Snakes – A Field Guide. The Macmillan Company of India Limited 1987, , bl. 6-9. Die groot beige tot kastaiingbruin rugvlekke is deur 'n fyn donker lyn omrand. Op die vasteland is die rugvlekke meestal omtrent reghoekig gevorm, terwyl hul in die besonder by slange van Sri Lanka dikwels 'n onreëlmatige vorm het.F. Wall: A popular treatise on the common Indian snakes – The Indian Python. Journal of the Bombay Natural History Society Band 21, 1912, bl. 447–476; online ab bl. 419.
Die smal flankvlekke is ronderig, driehoekig tot rombusvormig en toon dikwels 'n helder kern. Die pens is witterig, gelerig of ligoranje. Die pylvormige bruin patroon op die bokant van die kop is nog duidelik by onvolgroeide slange te sien, terwyl by die volgroeide slange dit kenmerkend van die snoetpunt na die oë heen verdof. By party individue verdwyn die pyl byna heeltemal en is dit nog slegs in die omgewing van die agterkop herkenbaar. Ongeag hul oorsprong kan die bokant van die kop vaalpienk van kleur wees. Die tong van hierdie subspesie is pienk.
Lengte