duimnael|regs|340px|Die Normaalskool op Steynsburg waar in die loop van 37 jaar sowat 850 onderwysers opgelei is. Dié onderwyskollege is einde 1950 gesluit toe slegs 10 studente oorgebly het. Die Normaalskool, Steynsburg was 'n opleidingsentrum vir onderwysers op die Noordoos-Kaapse dorp Steynsburg van omstreeks 1909, toe die eerste drie kwekelinge deur die plaaslike Gereformeerde gemeenteskool ingeneem is, tot 1950 toe dit gedwing is om weens 'n afname in die getal studente te sluit. Dit is in 1926 deur die Kaaplandse onderwysdepartement oorgeneem en het van sy amptelike stigting in 1914 tot sy sluiting einde 1950 sowat 850 laerskool-onderwysers opgelei.

Die Normaalskool was een van die ses oudste onderwyskolleges in Kaapland. Grahamstad s'n is in 1897 gestig, dié op Robertson in 1910 en in die Paarl in 1913. In 1914 het die kolleges op Cradock en King William's Town saam met dié op Steynsburg gevolg en voor 1920 nog vier: Oudtshoorn (1915), Graaff-Reinet (1917), Stellenbosch (1918) en Uitenhage (1919).Proefskrif deur A.M. van den Berg aan die Noordwes-Universiteit. URL besoek op 2 September 2013.

Al enkele faktor wat tot die kollege se sluiting aanleiding gegee het, was die daling in die studentetal. Hoewel die Normaal, soos dit algemeen bekendgestaan het, altyd die steun van die Gereformeerde Kerkverband geniet het, selfs nadat dit in 1926 deur die Kaaplandse onderwysdepartement oorgeneem is, het baie Gereformeerde ouers van voornemende onderwysstudente veral uit Kaapland, die Normaalskool se natuurlike voedingsbron, hul kinders elders laat leer. Steynsburg was waarskynlik net te afgeleë of dalk was die dorp te klein om 'n aantreklike leersentrum vir studente te wees wat meer geleenthede vir ontspanning, vermaak, kultuur en sport in groter sentra kon geniet. Destyds was daar immers onderwyskolleges op talle vername dorpe in Kaapland, soos Wellington, Oudtshoorn, die Paarl en Graaff-Reinet, wat veel meer aan voornemende studente as 'n dorpie soos Steynsburg kon bied.

Die sluiting van die Normaal was op die oog af die einde van alles waarvoor lidmate van veral die Gereformeerde kerk Steynsburg byna 40 jaar lank geveg, geoffer en gebid het. Tog het die sowat 850 studente wat met die jare hier studeer het, 'n onmeetbare invloed op die onderwys en sodoende ook op die nageslag uitgeoefen, want waarskynlik die meeste van hulle was ambassadeurs wat die beginsels waarvoor die inrigting op Steynsburg al die jare gestaan het, aan leerlinge in die hele land en verder oorgedra het.

Agtergrond duimnael|links|240px|Die Gereformeerde kerk van Steynsburg het hom sedert sy stigting in 1872 vir die onderwys beywer en later 'n laer skool, 'n hoërskool en 'n onderwyskollege gestig.

duimnael|regs|160px|Ds. M.P.A. Coetsee was Steynsburg se eerste Gereformeerde leraar en is op 2 Augustus 1874 hier bevestig, waarna onderwyssake die plaaslike Gereformeerde kerk se dringende aandag begin kry het. Die Gereformeerde Kerk het van sy stigting in 1859 deur ds. Dirk Postma 'n besliste standpunt ingeneem ten opsigte van die onderwys van lidmate se kinders. Kortom was dit dat die skool aan die ouers behoort en dat die godsdienstige lewens- en wêreldbeskouing van die ouers die grondslag van alle onderrig moes wees.

Op die Sinode van 1869 is 'n kommissie benoem om die daaropvolgende Sinode te adviseer oor die onderwys. Die verslag is op die Sinode van 1873 ter tafel gelê en het die veelseggende aanbeveling bevat dat kerkrade soveel moontlik gemeenteskole moes oprig. In ooreenstemming met dié Sinodebesluit het die Gereformeerde kerk Steynsburg onmiddellik ná sy stigting in 1872 doelgerig aandag gegee aan die oprigting van 'n Christelike skool. Vroeg in 1874, nog voor die gemeente 'n eie predikant gehad het, het die kerkraad die besluit van die Sinode van 1873 ter tafel geneem. 'n Kommissie is benoem om die onderwyssake in die gemeente te behartig.

Die bestaande skool op die jong dorpie was nie vir die kerkraad aanvaarbaar nie, want ouderling Steyn het gesê dat dit nie aanbeveel kon word nie. Op dieselfde vergadering op 9 Januarie 1874 het die kerkraad die moontlikheid bespreek van die oprigting van 'n skool op die dorp en kerkraadslede het opdrag gekry om die lidmate intussen oor die saak te pols en met die volgende nagmaal te rapporteer. Die konsulent-voorsitter, ds. M.P.A. (Petrus) Coetzee sr. van Middelburg, het gevra die kerkraadslede moes intussen ook dink aan die stigting van 'n fonds waaruit die onderwysaksie gefinansier kon word.

Hulle het onmiddellik aan die werk gespring. Die vereiste bedrag om die skool te begin is op £220 bereken. Nadat die gemeente sy eerste predikant, ds. M.P.A. Coetzee jr., op 1 Augustus 1874 ontvang het, het sake in verband met die onderwys begin gestalte kry. Op die kerkraadsvergadering van 25 September 1874 is finaal besluit om 'n skool op te rig. Hoewel dit goed gegaan het en die skool goed bygewoon is, moes dit reeds aan die einde van 1875 sluit weens 'n gebrek aan geld. Dié skool het 'n jaar of wat later heropen in die kerkgebou as skoollokaal. Op 24 Februarie 1877 besluit die kerkraad om 'n skoolgebou op te rig en daar was ook sprake om die dienste van 'n tweede leerkrag te bekom. Die gebou is middel 1877 voltooi.

Toe die regering in 1879 'n staatsondersteunde skool op die dorp open, het die kerkraad gevoel dat dit met vrug ook deur die Gereformeerde kinders gebruik kon word, en is die stryd om die voorbestaan van die gemeenteskool vir eers gewonne gegee.

Aanleiding tot stigting duimnael|regs|160px|Dr. Philippus Christoffel (Flippie) Snyman (oorlede 9 Mei 1915) het in 1903 die beroep na Steynsburg aangeneem. Hy het hom saam met die kerkraad beywer vir die verskuiwing van die Teologiese Skool van Burgersdorp na Steynsburg, maar die Algemene Sinode van 1904 het besluit om dit na Potchefstroom te verskuif. Hy het nietemin voortgegaan om sy aandag aan die onderwys te skenk en het daarin geslaag om Steynsburg 'n bakermat van Christelik-nasionale onderwys (CNO) te maak. duimnael|links|295px|Steynsburg se oorspronklike Gereformeerde kerkgebou se hoeksteen is op 2 Augustus 1879 deur ds. Dirk Postma gelê. Dis plegtig in gebruik geneem op 4 September 1880. In 1938 is dit herbou en van 'n kerktoring voorsien en in 1952 het dit sy huidige voorkoms gekry toe dit met sierstene afgewerk is.

Die Tweede Vryheidsoorlog het vir Afrikaners rampspoedig geëindig, maar die veroweraar wou dit nie daar laat nie, want hy het geweet dat 'n volk nie so maklik vernietig word nie. Lord Alfred Milner het besluit om die onderwys in te span om die Afrikanernasie te onderploeg. Met sy verengelsingsbeleid in alle staatskole landwyd wou hy die kinders van hul taal en tradisies vervreem.

Ná die oorlog is die eentalig Engelse onderwysers wat vir die konsentrasiekampe ingevoer is, in die staatskole opgeneem. Skotse onderwysers is ook ingevoer en die hoofde van die groter skole was almal eentalig Engelssprekend. Met dié onderwysers wou die staat die kinders lojale Britse onderdane maak. Van moedertaalonderwys, eie geskiedenis en godsdiens het daar in dié staatskole baie min tereggekom.

Prop. P.C. Snyman is in 1903 as Steynsburg se Gereformeerde predikant bevestig. Hy was 'n jong man met besonderse gawes en 'n helder siening van onderwyssake. Die moontlikheid dat die Gereformeerde Kerk se Teologiese Kweekskool, met sy literêre afdeling, van Burgersdorp na Steynsburg verskuif kon word, was vir die jong predikant 'n wonderlike vooruitsig en natuurlik was hy diep teleurgesteld toe die Gereformeerde Kerk se Sinode van 1904 op Middelburg besluit om liewer die verplasing na Potchefstroom te maak, waar dit die voorloper was van wat later die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit sou word.

Dr. Snyman het al gedroom van 'n groot onderwysaksie op Steynsburg. Hy het hom egter nie deur dié wending van stryk laat bring nie. Hy was vasbeslote en doelgerig en het geglo in 'n beginselsaak waarop hy sy hart gesit het; daarom sou hy nie sy ideaal van 'n Christelik-nasionale onderwysaksie op Steynsburg sonder meer laat vaar nie. Hy was dan ook die siel van dié beweging op Steynsburg in die jare ná die Driejarige Oorlog. Danksy sy briljante verstand en geesdrif het dit wat eers bedoel was vir die kinders van Steynsburg, uiteindelik 'n belangrike bydrae gelewer tot die geskiedenis van CNO in die hele Suid-Afrika.

Die kerkraad het die moontlikheid van die oprigting van 'n CNO-skool op sy vergadering van 21 Mei 1904 bespreek. Die £1 000 wat mev. Van Rooy, weduwee van die eerste skoolmeester, geskenk het vir gebruik in geval die Teologiese Skool Steynsburg toe verskuif word, het geblyk van krag te bly vir enige Christelike skool wat moontlik op die dorp opgerig sou word. Die kerkraad het toe 'n kommissie benoem onder voorsitterskap van dr. Snyman om planne te beraam vir die oprigting van so 'n skool.

Dié kommissie het sy verslag op die vergadering van 1 Julie 1904 ter tafel gelê met 'n deeglike 10-punt-plan. Op 'n daaropvolgende gemeentevergadering is die verslag aanvaar en het die kerkraad opdrag gekry om 'n skoolgebou van sowat £600 op te rig. Hierdie gebou is teen April 1905 voltooi. Die eerste hoof was mnr. K. Bonsma van Pretoria en as assistente is Francina Lion Cachet aangestel. Sy kon die benoeming nie aanvaar nie en mej. A. Coetzee van die nabygeleë Venterstad het toe haar plek ingeneem. Omdat dit volgens ds. Snyman nie 'n suiwer kerkskool moes wees nie, maar 'n "vrye school voor heel de natie", het die skoolkommissie van die Gereformeerde gemeente samewerking met die NG gemeente Steynsburg gesoek.

CNO-skool as voorloper duimnael|links|295px|Die Christelik-nasionale skool van die Gereformeerde kerk op Steynsburg is van 1905 af in dié gebou gehuisves. Dit was die voorloper van die hoërskool en die Normaalskool. Die gemeente gebruik dit nou as kerksaal. duimnael|regs|270px|Die personeel van die CNO-skool, 1909. Voor: mej. A. du Plessis, mnr. H.J.J. van der Walt, onbekend. Agter: Mej. Coetsee en mnr. T Kruger. Op 17 Julie 1905 het die skool met 60 leerlinge geopen, van wie 15 kleinkinders was van ou meester Van Rooy, die stamvader van die Van Rooy-familie in Suid-Afrika. Weens die naoorlogse depressie en periodieke droogtes, was die eerste jare van die skool se bestaan 'n bitter stryd om die geldelike verpligtinge na te kom. Ondanks moeilikhede het die skool wel gaandeweg gegroei en in 1908 bereik hy 'n mylpaal toe die twee kandidate, met spesiale verlof van die skoolkommissie, die matrikulasie-eksamen afê. Dié kandidate was Naomi Hennings en Joon van Rooy (1890–1964), later 'n rektor van die Potchefstroomse Universiteit, voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge en van die Afrikaner-Broederbond.Johannes Cornelis van Rooy se lewenskets op Die Van Rooy-familie in Suid-Afrika . URL besoek op 2 September 2013.

Destyds het Steynsburg so 'n belangrike rol in CNO gespeel dat die tweede groot kongres oor CNO in Julie 1911, met die doel "weder enig leven te brengen onder de voorstanders van Vrij Christelik Onderwijs"Verhandeling of boek oor die Potchefstroomse Universiteit met onbekende titel. URL besoek op 2 September 2013. hier gehou is toe nuwe lewe in die beweging geblaas is. Nuwe Statute van ’n Vereniging vir Christelike Skoolonderwys is opgestel en ’n nuwe interprovinsiale hoofbestuur is op dié Steynsburgse kongres gekies.Dr. J.D. du Toit en die onderwys. URL besoek op 2 September 2013.