Arp 147 of IC 298 is twee interaktiewe sterrestelsels sowat 430 miljoen tot 440 miljoen ligjare van die Aarde af in die sterrebeeld Walvis. Dit lyk nie of hulle deel van ’n noemenswaardige sterrestelselswerm is nie. ’n Deel van Arp 147 is ’n ringsterrestelsel, ’n skaars formasie wat veroorsaak word deur die botsing van twee stelsels.

Die twee stelsels is op 29 Desember 1893 deur die Franse sterrekundige Stephane Javelle] ontdek en kom in die Atlas of Peculiar Galaxies (ARP) voor.

Die stelsel is gevorm nadat ’n spiraalsterrestelsel (regs op die foto) teen ’n elliptiese sterrestelsel (links) gebots het. Die botsing het ’n golf stervorming (in helderblou) veroorsaak wat sowat 40 miljoen jaar gelede teen ’n effektiewe snelheid van ≳100 km s-1 begin uitkring het. Die tydperk van die grootste stervorming het na raming 15 miljoen jaar gelede geëindig. Namate die jong, superwarm sterre aan hul einde gekom het (as ontploffende supernovas), het hulle neutronsterre en swartkolke agtergelaat.

Die regterkantse sterrestelsel het ’n deursnee van 30 000 ligjareThe Double Ring Galaxies of Arp 147 from Hubble, 4 November 2008. Besoek op 30 November 2013 en is 21 000 ligjare van die ander een af geleë. Die hele stelsel het ’n deursnee van sowat 115 000 ligjare.

Die stelsels Die hoofring bevat nege helder X-straalbronne wat swartkolke is, elk met ’n massa van 10 tot 20 sonmassas. Die ring brei van kant tot kant uit teen 225 ± 8 km/s en daar is nie veel van ’n rotasie nie (47 ± 8 km/s). Stervorming in die ring geskied teen ’n tempo van sowat 4,68 sonmassas per jaar.

Die rooierige bult in die hoofring is vermoedelik die kern van die primêre sterrestelsel en beslaan 30% tot 50% van die totale massa van die sterrestelsel.

Die kleiner stelsel bevat ook ’n X-straalbron, wat ’n swartkolk kan wees.

Verwysings

Eksterne skakels Hubble-ruimteteleskoop

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Duitse Wikipedia

147 Kategorie:Interaktiewe sterrestelsels Kategorie:Walvis (sterrebeeld)