NGC 4435 en NGC 4438, ook bekend as Arp 120, is twee interaktiewe sterrestelsels sowat 52 miljoen ligjare van die Aarde af in die sterrebeeld Maagd.
NGC 4435 NGC 4435 is ’n lensvormige staafsterrestelsel met relatief jong sterre van sowat 190 miljoen jaar in sy sentrale streke wat deur die Spitzer-ruimteteleskoop ontdek is en wat kon ontstaan het vanweë die wisselwerking met NGC 4438. Die wisselwerking het waarskynlik ook die stelsel se lang getystert veroorsaak, hoewel ander studies daarop dui dat dit ook ’n wolk in die Melkweg kan wees wat nie met NGC 4435 verband hou nie.
NGC 4438 NGC 4438 is die vreemdste interaktiewe sterrestelsel in die Virgo-sterrestelselswerm vanweë die onsekerheid oor die energiemeganisme wat die kernbron verhit; dit kan ’n steruitbarstingstreek wees of ’n aktiewe sterrestelselkern wat sy energie kry van ’n swartkolk.
Dié stelsel het ’n hoogs verwronge skyf met lang getysterte vanweë wisselwerkings met ander stelsels. Dit verduidelik hoekom sommige bronne dit as ’n lensvormige stelsel en ander bronne dit as ’n spiraalsterrestelsel aandui. Daar is ook tekens van ’n uitgebreide maar middelmatige steruitbarsting in die verlede, asook ’n aansienlike gebrek aan neutrale waterstof en ’n verplasing van sy interstellêre medium (atomiese en molokulêre waterstof, stof en warm gas) in die rigting van NGC 4435, wat dui op ’n getywisselwerking met laasgenoemde. NGC 4438 beweeg deur Virgo se intergalaktiese medium teen ’n hoë snelheid, wat verhoog word deur die wisselwerking tussen die twee stelsels.
Wisselwerking met M86 Buiten dié bewyse dat die skade aan NGC 4438 deur ’n botsing miljoene jare gelede met NGC 4435 aangerig is, verbind die ontdekking van verskeie filamente geïoniseerde gas NGC 4438 aan die groot naburige sterrestelsel Messier 86. Gas en stof is ook op laasgenoemde gevind wat van eersgenoemde afkomstig kan wees en dit dui op ’n wisselwerking in die verlede tussen dié twee stelsels. As die digtheid van sterrestelsels in die middel van swerms in ag geneem word, is dit moontlik dat daar ’n wisselwerking tussen die drie stelsels (NGC 4435, NGC 4438 en M86) was.The Eyes (NGC 4435 and 4438)
Galery
Verwysings
Eksterne skakels NGC 4438
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
NGC 4435 Kategorie:Interaktiewe sterrestelsels 4435