Die bosruiter (Tringa glareola) is 'n algemene ouwêreldse waadvoël en langafstand-trekvoël wat dikwels aan die oewers van varswaterliggame voorkom, en meer selde ook by riviere en kushabitats aandoen. Die Suider-Afrikaanse streeksbevolking is moontlik 50 000. Die voël word 19 tot 21 cm lank, 45 tot 80 g groot, en het 'n vlerkspan van 56 cm. In Engels staan dit as die wood sandpiper bekend.
Broeigebied en -gewoontes Die bosruiter broei regoor die subarktiese boreale woude en toendra-vleilande van noordelike Eurasië. Dié gebied strek van die Skotse hoogland (sedert die laat-1950's) in die weste, oor Skandinawië en die Baltiese lande, ooswaarts deur Rusland tot in Siberië en Kamtsjatka. Hul primêre broeihabitats sluit grasryke, moerasagtige vleiland, woud-toendra-struikveld en nat heideveld in, en is dikwels in die nabyheid van naaldwoude.
Die broeiseisoen duur tipies van Mei tot die middel van Julie. Die nes word op die grond geplaas, dikwels in 'n vlak holtetjie wat met gras uitgevoer word. Soms word egter die ou, verlate boomneste van ander voëls benut.
Trekpatroon Uit die broeigebied trek die spesie na Afrika, Suid-Asië en Australië.
Fotogalery
Sien ook
Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name
Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde uitgawe 2011.
Verwysings
Kategorie:Steltloperagtiges Kategorie:Strandlopers en snippe