Die vaalkorhaan (Heterotetrax vigorsii) is 'n gelokaliseerde, algemene standvoël wat tot die wildepoufamilie (Otididae) behoort. Dit is endemies aan halfwoestyn van die westelike deel van Suid-Afrika en aanliggende suidelike Namibië. In Duits en Engels staan dit onderskeidelik as Namatrappe en Karoo korhaan bekend, aangesien dit grootliks tot die Nama-Karoo beperk is.

Subspesies Daar is twee subspesies, naamlik die nominaatras in die suid- en suidoostelike streke, en H. v. namaqua (Roberts, 1932), van noordwestelike Suid-Afrika en suidelike Namibië.Collar, N. & Kirwan, G.M. (2017). Karoo Bustard (Heterotetrax vigorsii). In: del Hoyo, J., Elliott, A., Sargatal, J., Christie, D.A. & de Juana, E. (reds.). Handbook of the Birds of the World Alive. Lynx Edicions, Barcelona. (besigtig te http://www.hbw.com/node/53724 op 3 Maart 2017).

Habitat Die vaalkorhaan leef in 'n verskeidenheid halfdorre habitatte wat die karoo en ander droeë struikveld-habitatte insluit. Dit is ook teenwoordig in effens digter struikveld waar plante van 10 tot 50 cm hoog aan hulle skuiling bied. In die Wes-Kaap is 'n klein bevolking ook in karoo-agtige fynbos teenwoordig.

Fisiese kenmerke Die voël is sowat 60 cm (56 – 62 cm) in lengte en weeg van 1,1 tot 2 kilogram. Mannetjies is groter en swaarder, en weeg gemiddeld 1,6 kg teenoor wyfies wat 1,35 kg weeg. Die kop-, nek- en borsvere van die nominaatsubspesie is grysbruin, die kenvere swart en keelvere met wit omsoom. Die pensvere is rosig wit, en die vlerkvere bruin. Die wyfie lyk soos die mannetjie behalwe dat haar keel minder swart geveerd is. Die nek en bors van subspesie E. v. namaqua is gryser vergeleke met die nominaatsubspesie.

Voeding Vaalkorhane is omnivories, maar plantmateriaal vorm die grootste komponent. Blomme, vrugte, blare en knolle word gevreet. In besonder is die blomme van plante in die Asteraceae (madeliefies), Brassicaceae en Mesembryanthemaceae (vygies) seisoenaal belangrik.

Fotogalery

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.

Verwysings

Eksterne skakel http://avibase.bsc-eoc.org/species.jsp?lang=EN&avibaseid=199B62803C809453

Kategorie:Korhane en wildepoue