Die nasionale vlag van die Marshalleilande is op 1 Mei 1979 in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n blou agtergrond met ’n 24-puntige wit ster in die skildhoek en twee diagonale bane in oranje en wit van onder aan die vlagpaalkant al breërwordend na bo aan die wapperkant.
Simboliek Die oranje en wit bane simboliseer saam die ewenaar met die ster wat die ligging van die eilandgroep net bo die ewenaar voorstel. Afsonderlik stel die oranje baan die Ratak-ketting (sonsopkoms) en die wit baan die Ralik-ketting (sonsondergang) voor; trouens die gekombineerde oranje en wit baan kan as ’n sonstraal ook gesien word.
Die 24 punte van die ster stel die 24 kiesafdelings van die Marshalleilande voor. Die vier groot strale stel die vier grootste deelgebiede, nl. Majuro, Ebeye, Jaluit en Wotje voor. Dit simboliseer ook die Christelike kruisbeeld, tesame met die res van die ster.
Geskiedenis Tussen 1965 en 1979 het die Marshalleilande onder die Trustgebied van die Pasifiese Eilande geval en is die vlag van die trusgebied op die eilandgroep vertoon. Die trustgebied is deur die Verenigde Nasies ingestel terwyl die Verenigde State die bestuur daarvan behartig het. Die vlag van die trusgebied was ligblou met ses wit sterre en was gebaseer op die vlag van die Verenigde Nasies. Die sterre het die Marshalleilande, Palau, die Noordelike Mariana-eilande en die drie onderdele van Mikronesië verteenwoordig. Die huidige vlag van Mikronesië is gebaseer op die vlag van die trustgebied.
Ander vlae
Sien ook
Verwysings
Eksterne skakels
Marshalleilande by Flags of the World.
Kategorie:Marshalleilande Kategorie:Nasionale vlae