Koos Kombuis, gebore André le Roux du Toit (gebore 5 November 1954 in Kaapstad) is ’n Afrikaanse musikant, digter en skrywer. Hy het in die laat 1980's bekendheid verwerf as deel van die anti-establishment alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging wat ’n hoogtepunt bereik het met die landwye toer Voëlvry. Ander musici wat deel uitgemaak het van die beweging was Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand (James Phillips). Dit was ’n groep jong Afrikaners wat gekant was teen apartheid en die regerende Nasionale Party.
Deur die loop van sy lewe en loopbaan as skrywer gebruik hy onder meer die volgende variasies op sy naam: André le Roux du Toit, André Letoit en Koos Kombuis. Hy maak ook by enkele geleenthede van die skuilname P.F.P. van Wyk Louw en Bosveld B. Bomskok gebruik.
Biografie Geboorte en vroeë jare Koos Kombuis is op 5 November 1954 in Kaapstad gebore as André le Roux du Toit, een van drie seuns. Sy ma was ’n onderwyseres en sy pa ’n maatskaplike werker. Sy oupa aan moederskant was die tweede hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, dr. P.C. Schoonees. Hy het op Riversdal, in die Paarl, op Wellington, Kuruman en in Bellville grootgeword voor die gesin hulle op Stellenbosch en later in Pretoria gevestig het, waar hy sy matriek in 1972 aan die Hoërskool Menlopark voltooi het. Hy was onder meer in Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch op skool, waar hy saam met Etienne van Heerden in die klas was.Erika Terblanche, Koos Kombuis (1954– ), Litnet, besoek op 30 Desember 2009.
Ná skool het Du Toit sy militêre diensplig gedoen, wat destyds verpligtend was vir wit Suid-Afrikaanse mans. Na sy diensplig het hy twee jaar lank aan die Universiteit van Pretoria studeer sonder om ’n graad te behaal. Hierna het hy na Johannesburg getrek waar hy in ’n woonstel in Hillbrow gewoon en by verskeie plekke gewerk het – onder meer by Kentucky Fried Chicken, pizzarestaurante, as polisverkoper, brandweerman, klerk in die staatsdiens en waarsêer.
Nadat hy ’n paar jaar van sy ouers vervreem was, het hy in 1976 weer by hulle gaan woon. In dié tydperk het hy ’n jaar in die psigiatriese hospitaal Weskoppies deurgebring.Exclusive Books , Koos Kombuis, besoek op 10 Augustus 2008.
Begin van skrywersloopbaan
In 1977, terwyl hy steeds ’n pasiënt by Weskoppies was, is sy eerste kortverhaal gepubliseer: Die Man met die Lang Ding, wat gehandel het oor ’n homoseksuele man wat nie sy seksuele voorkeure kon verwerk nie. Dit is in die ondergrondse letterkundetydskrif Donga gepubliseer.Koos Kombuis, Die Tyd van die Kombi's - ’n Persoonlike blik op die Afrikaanse rock-rebellie, p50 In Oktober 1978 is ’n gedig, Gebed, in dié tydskrif se opvolger, Inspan, gepubliseer. Dit sou later in 1981 lei tot ’n hofsaak teen Isobel Hofmeyr, die redakteur van die tydskrif, waarin die staat beweer het dat sy ’n ongewenste publikasie uitgegee het aangesien die gedig God aanspreek en dat dit ’n parodie op die Onse Vader is. Die aansoek is egter tersyde gestel.
Na sy ontslag uit Weskoppies het hy na die Kaap teruggekeer, waar hy ’n tyd lank kortverhale vir Huisgenoot geskryf het. Sy eerste kortverhaal wat in dié tydskrif verskyn het, was My pa se huis (1979). In 1980 het die uitgewery Skoppensboer van sy poësie onder die naam André le Roux du Toit in die digbundel Brêkfis met vier gepubliseer, saam met werk van drie ander debutante, Daniel Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden. Du Toit se werk begin in postmodernistiese styl met ’n "apologie waarin eksperimentering met dwelms openlik bely word en A.G. Visser grondig herskryf word". In die bundel handel die gedigte nie net oor "mooi" onderwerpe nie, "maar ook oor die on-mooie, oor dwelms, waansin, apartheid, kanker, die dood".Joan Hambidge, Tydsdokument ’n stukkie Africana – Brekfis met vier, Volksblad – Maandag 23 Mei 2005, besoek op 30 Desember 2009.
Ook in 1980 het hy die tydskrif Hunch uitgegee waarvan slegs 12 eksemplare gedruk is. Daarna het ’n enkele uitgawe van die satiriese tydskrif Graffiti verskyn as deel van die letterkundetydskrif Graffier, asook Tagtiger, wat ’n langer leeftyd geniet het. Letoit het in dié tydperk ook as uitgewer opgetree met Uitgewery Skeurbuik wat volgens die bekendstellingspamflet ’n "liefdadigheidsbeweging ter bevordering van Punkafrikaans" was.Willem Anker, Koos skop nog teen die vinger in elkeen se kop,Die Burger, Maandag 19 Januarie 2004, besoek op 30 Desember 2009.
In 1982 is die digbundel Surburbia deur Perskor uitgegee. Die bundel is as naaswenner van die Perskor-prys aangewys. In 1985 is Surburbia gevolg deur sy tweede digbundel, Die Geel Kafee. Volgens Kombuis self is daar twee opvallende aspekte aan Die Geel Kafee, naamlik dat dit al hoe nader aan sy latere lirieke beweeg het en "onbeskaamd Eurosentries" is in terme van taalgebruik en verwysingsveld. Die digkuns is volgens hom gewortel in die metafore van Van Gogh, Sartre en die Simboliste.Exclusive Books ,Koos Kombuis, besoek op 30 Desember 2009.
Gedurende die vroeë 1980's is ’n paar kortverhale gepubliseer.Koos Kombuis, Biografie , besoek op 10 Augustus 2008 Hulle sluit in Nou´s die Kaap Weer Hollands (1982), My Nooi Is In 'n Tikmasjien (1983) en Breekwater (1986). Ligte werke, insluitend Kleingeld vir 'n terreurdaad (1984) en ’n Roos vir die Karoomeisie, is ook deur Perskor uitgegee.
Andre Letoit se eerste vollengte-roman, die eksperimentele Somer II , het in 1985 verskyn. Volgens Kombuis het Somer II gespot met die rolprent Somer wat ’n jaar of twee te vore uitgegee is en nie met CM van den Heever se Somer nie.Koos Kombuis, Die Tyd van die Kombi's - ’n Persoonlike blik op die Afrikaanse rock-rebellie, p60 Verskeie resensies beskou Somer II as ’n "punk-roman" , die eerste in Afrikaans.Jan Vermaak het in Prisma van Junie 1991 geskryf dat dit volgens Braam de Vries die eerste "punk-roman" in Afrikaans is. Resensies verwys ook na die "sterk invloed van Kerouac se On the road, met dieselfde doelloosheid, ewigdurende adolessensie en, uiteindelik, patos, van die Beats."Verwysing "Die roman toon met sy afwisseling en rommelrigheid ’n verwantskap met Jack Kerouac se On the road, die ‘beat generation’ se klassieke roman oor seks, jazz en vryheid."Barend J. Toerien, Mandjie vol gedagtes – Somer II - ’n Plakboek deur andré le Toit, Die Burger, 3 Julie 1986, besoek op 30 Desember 2009
Somer II is gevolg deur Suidpunt-jazz, die eerste wat onder sy nuwe naam, Koos Kombuis, verskyn het. Volgens Kombuis se webtuiste is "dit die verhaal van ’n skrywer, sy boek en sy karakters. Dit vertel ook die storie van ’n geskiedenisdosent se onthutsende besoeke aan die verlede, met ’n onkonvensionele aartsengel as metgesel – van Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap tot Piet Retief en die Slag van Bloedrivier... en dit kan net tot een ding lei: ’n piekniek by Dingaan!" Koos Kombuis, My Boeke , besoek op 31 Desember 2009
Skryfwerk
Poësie Van sy gedigte word in letterkundige tydskrifte soos Donga, Vlieg, Graffier, Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde, Spado, Inspan, Ensovoort en The bloody horse gepubliseer en dit word ook opgeneem in die April 1985 uitgawe van die Belgiese tydskrif Kruispunt. Hy debuteer in ’n versamelbundel Brekvis met vier, waarin verse van vier belowende digters opgeneem is, naamlik Etienne van Heerden, Peter Snyders, Daniël Hugo en hyself. Die lengte van sy naam en moontlike verwarring met ander skrywers (onder andere die digter André le Roux), noop hom om onder ’n skrywersnaam te skryf en sy eerste ernstige letterkundige werke verskyn onder die naam André Letoit (anagram van “toilet”). Hoewel sy gedigte meestal slegs in onderdele bevredig, bring hy ’n belangrike toevoeging in die Afrikaanse poësie met sy tematiek, waarin hy die dekadente wêreld van die hedendaagse stadsmens in ’n voorstedelike bestaan sonder waardes en geloof uitbeeld. Hy beeld veral die verskoppelinge soos boemelaars en prostitute en ander buitestaanders uit. Hiervoor gebruik hy meestal die vrye vers.Brink, André P. Standpunte. Nuwe reeks 161, Oktober 1982Hill, George. Insig, Julie 2005John, Philip. Beeld, 6 Junie 2005
Sy eerste selfstandige digbundel is Suburbia, wat die naaswenner van die Perskorprys is. Hierin bundel hy protespoësie waarin sy ongewone beelde die oog vang. Die gedigte staan in die gees van die postmodernistiese nihilisme en uitsigloosheid wat die generasie van hierdie tyd kenmerk. Oorheersende temas is ontnugtering met en in die liefde en die skrywerskap. Eensaamheid vind uiting in ’n Lewe sonder vriende en Regte boeretuintjie is ’n parodie op Opperman se My nooi is in ’n nartjie. Die sandaalmaker verwys na Vincent van Gogh, wat eers as fanatieke hulpprediker in die sendingveld gearbei het en toe begin skilder het. So wil die spreker ook sandale maak, maar met woorde. Sy aweregse siening van sake en sin vir humor vind uiting in Elegie vir my toekomstige vrou, ’n vers waarin die spreker op geestige wyse die liefdesgeskiedenis van hom en sy vrou verhaal. Aan die begin is dit sy nooi, aan die einde is hulle getroud, maar die titel se “elegie” suggereer klaar dat hierdie huwelik toe nie gehou het nie.Brink, André P. Rapport, 21 November 1982Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 21 no. 3, Augustus 1983Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 23 no. 4, Desember 1983John, Philip. Beeld, 15 September 2003Olivier, Fanie. Die Transvaler, 30 Augustus 1982
Die geel kafee spreek hom veral sterk uit teen die destydse politieke bestel. Die bundel word in die vorm van ’n spyskaart aangebied, ’n vyfgangmaal vanaf Poeiersop en brood, deur Visgrate in sous, Bredie en reise en Broodpoeding en vla tot by Irish coffees en staan in die teken van die beat-generasie van die Amerikaanse letterkunde. Verskeie van die gedigte is eerder lirieke. Soos in sy vorige bundel is daar parodieë op bestaande gedigte, soos op Laetitia van A.G. Visser in ’n gelyknamige gedig, terwyl Ballade van die bose tikster gebaseer is op N.P. van Wyk Louw se Ballade van die bose. Telkens is hierdie parodieë egter flou in vergelyking met die oorspronklike en meer ’n poging tot geestigheid as ironie of satire.Anoniem. Die Transvaler, 28 Maart 1985Brink, André P. Rapport, 26 Mei 1985Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 24 no. 4, November 1986Grové, A.P. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 25 no. 3, September 1986John, Philip. Beeld. 15 September 2003
Smoke break is ’n selfpublikasie onder die skuilnaam Bosveld B. Bomskok.
Die tweede reën bevat alternatiewe poësie, waarin hy in ses afdelings verslag lewer van die eietydse gemeenskap en die onherroeplike veranderings daarin en sy selfondersoek en persoonlike herlewing en plek binne (of buite) die gemeenskap. Die einde van ’n boemelaar besin oor sy egtheid gemeet aan die leuens wat hy lewe. Sy kommentaar op die werk van ander deurspek die bundel, soos Psalm 150(b), vir die emfiseemlyer, O, die dans van my (aangetroude suster), Gee jou hart vir Raka, terwyl hy in die laaste afdeling “Die epiloog) sy Tripwerk A-Z insluit met moderne gedigte in kommentaar op N.P. van Wyk Louw se Klipwerk.Olivier, Fanie. Beeld, 27 Julie 1998
Hy bundel sy lirieke in Die bar op De Aar (met die lirieke van die kabaret Piekniek by Dingaan, waarin Swart September se sosiopolitieke kommentaar uitstaan) en Koos se songs (waarin sy treffers soos Lisa se klavier en Onder in my whiskeyglas opgeneem is).
Rock&roll.karoo is ’n e-digbundel met 33 digitale gedigte. Hierin gebruik hy tipiese sms-grammatika en taal om sosiale kommentaar te lewer oor sake soos hidrobreking (“fracking”) in die Karoo en ook gedagtes te wissel oor oudword, die dood en die soeke na stilte. Sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die dye trek die dye aan, Liggaamlose taal, Goudaar, Kraaines en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Prosa