220px Ballets Russes

Stigting 1909

Bekende danseresse 120px Anna Pavlova Tamara Karsavina Olga Spessivstseva Mathilde Kschessinska Ida Rubinstein Bronislava Nijinska Lydia Lopokova Diana Gould Alicia Markova

Bekende dansers 120px

Vaslav Nijinsky Michel Fokine Serge Lifar Léonide Massine Anton Dolin George Balanchine Valentin Zeglovsky Theodore Kosloff Adolph Bolm

Choreograwe 120px Michel Fokine Marius Petipa Bronislava Nijinska Léonide Massine George Balanchine Vaslav Nijinsky

Ontwerpers 120px Léon Bakst Georges Braque Natalia Gontcharova Mikhail Larionov Pablo Picasso Coco Chanel Henri Matisse André Derain Joan Miró Giorgio de Chirico Salvador Dalí Ivan Bilibin Pavel Tchelitchev Maurice Utrillo Nicholas Roerich Rouault

Komponiste 120px Igor Strawinski Claude Debussy Darius Milhaud Francis Poulenc Sergei Prokofiëf Maurice Ravel Erik Satie Ottorino Respighi Richard Strauss

Die Ballets Russes [balɛ'ʁys] was 'n reisende balletgeselskap wat tussen 1909 en 1929 op toere dwarsoor Europa asook Noord- en Suid-Amerika opgetree het. Die groep, wat in 1909 deur die Russiese impresario Sergei Diaghilev gestig is en as een van die belangrikste en invloedrykste balletgeselskappe van die 20ste eeu beskou word, het vir die eerste keer op 19 Mei 1909 in Parys opgetree waar dit entoesiasties deur die gehoor en kritici ontvang is. Naas Parys het die groep hulle later ook in Monte Carlo gevestig. duimnael|links|200px|Jean Cocteau se plakkaatontwerp vir die seisoen van 1911, met 'n uitbeelding van Vaslav Nijinsky se kostuum vir Le Spectre de la Rose Die Ballets Russes het hul sukses onder meer aan die baanbrekende samewerking van eersterangse choreograwe soos Michel Fokine, Léonide Massine en George Balanchine, komponiste, ontwerpers, en dansers te danke gehad. Balletdansers soos Vaslav Nijinsky en Anna Pavlovna Pavlova het as lede van die Ballets Russes wêreldfaam geniet.

Diaghilev se doelwit was om Russiese kuns orals in Europa bekend te maak. Sy beginsel en leidraad was L'art pour l'art ("kuns ter wille van kuns"), sodat sy kuns geen betrekking tot die politieke realiteit van sy tyd gehad het nie. Die opvoerings van Ballets Russes was opspraakwekkend vanweë hul verfrissende nuwe toenadering tot danskuns en die manier waarmee hulle die werk van visuele kunstenaars tot die publiek se aandag gebring het.

Van die mees vooraanstaande kunstenaarspersoonlikhede uit verskeie velde het saamgespan om dans, musiek, kostuums en toneelontwerp tot 'n omvattende kunswerk saam te smelt. Ballets Russes het weggedoen met oorgelewerde tradisies en 'n nuwe beeldspraak in hul danskuns ingevoer wat onder meer as inspirasie vir Art Déco-kunstenaars gedien het.Arne Sildatke: Dekorative Moderne: Das Art Déco in der Raumkunst in der Weimarer Republik. Dissertation Freie Universität Berlin. Berlin: LIT Verlag Dr. W. Hopf 2013, bl.82

Daarnaas het hulle musikale komposisies in 'n nuwe rigting gestuur. Hul balletopvoerings is deur klassieke, neo-klassieke, romantiese, neo-romantiese, avantgardistiese, ekspressionistiese, abstrakte en oosterse invloede gekenmerk.

Die balletgeselskap is ná Diaghilev se afsterwe in 1929 ontbind, maar laat sy invloed op moderne danskuns steeds geld.

Geskiedenis Agtergrond Sergei Diaghilev, die balletgeselskap se impresario (of artistieke direkteur in moderne taalgebruik), was die man agter Ballets Russes se sukses, en hy was deeglik voorberei vir dié taak. Aangesien hy in 'n welgestelde familie van wodkadistilleerders gebore is, het hy – alhoewel sy gesin bankrot moes speel toe hy 18 jaar oud was – het hy in die boonste kringe van die samelewing beweeg. Dit was juis hierdie hoë kringe van welgesteldes wat later as beskermhere en weldoeners van Ballets Russes sou optree.

In 1890 het hy sy studies by die Fakulteit Regte van die Universiteit van Sint Petersburg begin om, soos baie jong Russiese mans uit die hoër klas, later 'n loopbaan in die staatsdiens te volg. Hier het hy danksy neef Dmitri Filosofof kennis gemaak met 'n groep studentekunstenaars en intellektueles wat hulself Nefski Pickwickiërs genoem het – afgelei van die Nefski-prospekt, 'n bekende straat in die middestad van Sint Petersburg. Die groep se leier was die twintigjarige Alexandre Benois, die seun van 'n welgestelde en invloedryke Sint Petersburgse argitek. Ander lede van die groep, wat hulself as Petersburgse kosmopoliete beskou het, was Léon Bakst (skuilnaam van Leo Rozenberg), Walter Nouvel en Konstantin Somof. duimnael|links|200px|Sergei DiaghilefPortretskildery deur Walentin Aleksandrowitsj Serof (1909) Die Pickwickiërs het, soos Benois dit later gestel het, die "idee van 'n soort verenigde mensheid" gekoester. Dit was hul groot droom om Russiese kuns op eendag uit sy dop van ingeslotenheid en kulturele isolasie te bevry en aan Europese gehore bekend te stel. En dit was Sergei Diaghilef wat vol energie en selfbewus genoeg was om dié droom te verwesenlik.Solomon Volkov: St. Petersburg. A Cultural History. New York: Free Press Paperbacks 1997, bl. 122

Reeds in sy kinderjare het Diaghilev 'n passievolle belangstelling in musiek getoon, maar sy ambisies om homself as komponis te bekwaam is 'n nekslag toegedien toe Nikolai Rimski-Korsakof sy musikale talent in 1894 in twyfel getrek het.

In 1898 het verskeie lede van Die Pickwickiërs die tydskrif Mir iskoesstwa ("Die Wêreld van kuns") onder redaksie van Diaghilev in die lewe geroep. Vier jaar later het die tydskrif al resensies van konserte, operastukke en balletopvoerings in Rusland bevat, waarby die laasgenoemdes hoofsaaklik deur Alexandre Benois geskryf is en betreklike invloed op Diaghilev se denke gehad het.Simon Morrison: The "World of Art" and Music. In: Mir Iskusstva: Russia's Age of Elegance. Omaha, Minneapolis en Princeton: Palace Editions 2005, bl. 38

Mir iskoesstwa het daarnaas ook uitstallings van Russiese kuns in Sint Petersburg geborg wat hul hoogtepunt in 1905 met Diaghilev se belangrike uitstalling van portretkuns in die Tauride-paleis bereik het.Greg Guroff: Introduction. In: Mir Iskusstva: Russia's Age of Elegance. Omaha, Minneapolis en Princeton: Palace Editions 2005, bl. 14

Die uiters behoudende sienings, waardeur die destydse Russiese kunswêreld gekenmerk is, het Diaghilev van al sy illusies ontneem, en so het hy besluit om sy baanbrekende "Uitstalling van Russiese Kuns" in 1905 in die Paryse Pétit Palais te organiseer. Dit was die eerste omvattende uitstalling van Russiese kuns in die weste en het oorweldigende sukses behaal. Parysenaars was só gefassineerd deur Russiese kuns, musiek en leefstyl dat Diaghilev twee jaar later 'n hele seisoen van Russiese musiek by die Paryse Operateater georganiseer het.

In 1908 het Diaghilev met ses opvoerings van Mussorgski se Boris Godoenof na die Paryse Opera teruggekeer. Fyodor Chaliapin het met sy basstem die hoofrol vertolk in die opvoerings van die operastuk wat in dieselfde jaar deur Nikolai Rimski-Korsakof bewerk is. So is tonele verkort of geherrangskik. Gehore was weer eens opgewonde oor die opvoerings, alhoewel die koste vir hierdie groot operawerk ontsaglik hoog was.

Paryse debuut In 1909 het Diaghilef in die Paryse Théâtre du Châtelet sy eerste Saison Russe aangebied wat uitsluitlik aan balletkuns gewy was. Die naam Ballets Russes is egter eers vanaf die volgende jaar gebruik. Die meeste lede van die oorspronklike balletgeselskap, waaronder Russiese balletsterre soos Tamara Karsawina, Vaslav Nijinsky und Anna Pavlova, was vas aangestel by die Mariinskiteater se Keiserlike Ballet in Sint Petersburg en is deur Diaghilev aangestel om gedurende die Ballet se somervakansie in Parys op te tree. duimnael|links|Die Paryse Théâtre du Châtelet omstreeks 1900 duimnael|links|Die oorspronklike dekor en kostuums, wat vir die première van L'oiseau de feu ontwerp is, is in 2013 in Salzburg, Oostenryk vir 'n balletopvoering van die Mariinskiballet gerekonstrueer Gedurende die eerste seisoen is 'n repertoire van werke opgevoer waar die choreografie hoofsaaklik deur Michel Fokine behartig is, waaronder Le Pavillon d'Armide (musiek deur Tsjerepnin), die Polowetsiese Danse uit Prins Igor (musiek deur Borodin), Les Sylphides (musiek deur Chopin) en Cléopâtre (musiek deur Arenski). Daarnaas het ook Le Festin deel uitgemaak van die eerste seisoen se program, 'n pastiche met musiek van verskeie Russiese komponiste onder choreografie van Fokine en andere.

In 1910 het Diaghilev saam met dansers uit Sint Petersburg en Moskou 'n vaste balletgeselskap gestig wat tot 1914 in Sint Petersburg gesetel was. Die nuwe balletstyl, wat met Ballets Russes in hierdie eerste artistieke periode tussen 1909 en 1912 verbind is, het grotendeels op Michel Fokine se naturalistiese choreografie, maar ook op Igor Strawinski se betowerende musiek gebaseer. In dieselfde jaar het Ballets Russes vir 'n nuwe dansseisoen na Parys teruggekeer.

Op 25 Junie 1910 is die première van L'oiseau de feu in die Théâtre National d'Opéra gehou. Fokine se choreografie en Igor Strawinski se musiek het 'n diep indruk by Paryse gehore gelaat, net soos die kleurryke toneeldekor en kostuums wat deur Alexander Golowin en Léon Bakst ontwerp is.

Die storie het op twee tradisionele Russiese sprokies gebaseer, die "Vuurvoël" met Iwan Tsarewitsj as held en hoofkarakter (vertolk deur Michel Fokine), vergesel deur prinses Tsarewna (vertolk deur Vera Fokina), en "Die towenaar Kosjtsjei" waarin Kosjtsjei die Onsterflike, 'n mitologiese figuur en bose persoon (vertolk deur Enrico Cecchetti), 'n sentrale rol speel.

Dit was die verbinding van Russiese sprokieswêreld met opspraakwekkende toneeldekor en wonderlike figure soos die glansende Vuurvoël (vertolk deur Tamara Karsawina), die Wonderboom, die Reuse-eier en die Tweehoofdige Monster wat gehore gefassineer het. Kritici het die opvoering as 'n "skitterende en betowerende toneel" beskryf, met "pragtige en kleurryke kostuums en dekor" en die musiek geprys wat "alle klankkleure" ontgin het.Eberhard Rebling: Das große Ballett-Lexikon. Ein Führer durch die Welt des Balletts von A bis Z. München: Heyne 1977, bl. 131

Londense debuut Die "kulturele ontdekking" van Europa was 'n belangrike aspek in die laat Edwardiaanse kunslewe, alhoewel Britse gehore hul aandag slegs op sekere dele van die vasteland gevestig het. So het Franse en Russiese kunstenaars wél belangstelling gewek aangesien dié twee lande politieke bondgenote was, terwyl Duitse kuns 'n mindere plek ingeneem het. Kunstenaars is volgens die beleid van hul land van herkoms geklassifiseer en kon sodoende "goed" of "kwaad" wees. So is ter geleentheid van die tweede Post-impressionistiese kunsuitstalling werke van Engelse, Franse en Russiese kunstenaars vertoon, alhoewel die laasgenoemdes onbekend en onbeduidend was, maar geen enkele skildery van Duitse kunstenaars soos Kandinsky of Kokoschka ingesluit nie. Teen die begin van die eeu is Duitse drama's nog gereeld gedurende Londense teaterseisoene opgevoer, maar ná 1906 het hierdie toneelproduksies ongewild geraak.

Die skeptiese en bevooroordeelde gesindheid teenoor alles wat Duits was het sterk gekontrasteer met die groot bewondering wat Edwardiane vir Rusland gekoester het. Russiese literatuur, kleremodes, drama, opera en ballet het tussen 1910 en 1914 skielik ongekende sukses behaal. Russiese invloede was op byna alle vlakke van die Engelse lewe waarneembaar: intellektueles het Dostojefski ontdek, gehore in musiekteaters was gaande oor die sterballerina Anna Pavlova, en Léon Bakst se kostuumontwerpe het hulle invloed op die mode vir welgestelde dames laat geld.