Die wildemakou (Plectropterus gambensis) is 'n algemene standvoël wat in Suider-Afrika voorkom. Die voël is 75 – 100 cm groot en weeg 2,5 – 7 kg. Hulle kom dikwels in groot swerms of saam met kolganse voor, en is soos voorgenoemde ook deels nagaktief. In Engels staan dit as die spur-winged goose bekend.

Identifikasie Dit is 'n groot, swart en wit eend met 'n groot spoor op sy vlerke. Die verekleed is bont, maar die hoeveelheid wit wissel tussen individue en na gelang van die subspesie. In vlug toon dit bont ondervlerke soos die kolgans en kopereend, maar die wit dekvere is breedste in die oksels, d.w.s. teen die lyf.

Verspreiding Die wildemakou kom oral in Afrika en op Madagaskar voor, meestal in groot swerms op groot watervlakke met grasbegroeide oewers. In die suide was hulle aanvanklik algemeen in die Oos-Kaap, maar is eers in 1936 in die omgewing van Kaapstad aangeteken. Daar het hulle egter aangebly en ook probeer broei. Die noordelike subspesie, P. g. gambensis, word van die Okavangodelta noordwaarts aangetref.

Gedrag Hul voedingstyd is oorwegend skemer, en soms snags, terwyl hulle bedags in 'n veilige hawe vertoef. Swerms kan gemeenskaplik pendel na voedingareas, en vlieg dan in 'n lang ry. Hulle is vegetaries met 'n dieet wat hoofsaaklik uit gras, lusern, graan en jong aartappels bestaan. Hul vlerkslae is sterk, maar hul vlug nie besonder vinnig nie. Hul fyn fluitroep word in vlug gehoor.

Broeigewoontes duimnael|links|Wildemakou in die De Hoop Natuurreservaat. Die groot nes is meestal op die grond, en dan wel tussen riete, biesies of ruie gras. Soms neem die wildemakouwyfie haar intrek in 'n ou hamerkopnes, soos kolganse ook soms doen. Die legsel bestaan uit 6 tot 10 gladde, ivoorwit eiers.

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (Groepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Bronnelys Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011. KENNIS, vol. 14, 1980, bl. 2898-2899, 

Verwysings

Kategorie:Eendvoëls