Die witooievaar of grootsprinkaanvoël (Ciconia ciconia), wellig die bekendste van die Ooievaaragtiges, is 'n algemene monogame trekvoël wat in Eurasië en Afrika voorkom. In Suider-Afrika word dit as trekvoël en lokaal ook as 'n broeivoël aangetref. By hul nesmaakplekke kan hulle klein kolonies vorm, maar broeipare sal ook geïsoleerd nesmaak. Hulle voed op droë land (soos die Kamdeboo) en op gemaaide weiveld, maar is ook deels 'n waadvoël wat vlak waters en oorstroomde rivieroewers benut. Hulle is opportunistiese voeders wat 'n breë verskeidenheid van voedselitems benut.
Voorkoms en liggaamsbou duimnael|links|In vlug, met die nek reguit gestrek Die verekleed is wit met kontrasterende swart slag- en groterdekvere. Volwassenes is 100 tot 120 cm lank van snawel- tot stertpunt, en weeg van 2,4 tot 4 kg. Die genders lyk ooglopend dieselde, maar mannetjies is gemiddeld 12,5% swaarder as wyfies, en het ook groter snawels. Soos by ander ooievaars word die skedel deur groot oogkaste en bowenal die swaar bo- en ondermandibels van 'n massiewe snawel gekenmerk. Die lang en breë vlerke bespaar energie tydens hul migrasies deurdat dit moeitelose sweefvlug op stygende verhitte lugstrome fasiliteer. Hul sterk en steltagtige bene is vir redelik snelle beweging deur hul voedingareas aangepas, wat droë land sowel as vlak waters insluit. Die drie tone wat na vore gerig is, is by hul basis deur twee webbe verbind om die ooievaar se gewig op sagte grond te ondersteun, terwyl die agtertoon of halluks effe gelig is om ekstra veerkrag aan hul looptrant te verleen. In vlug word hulle van reiers (Pelecaniformes) onderskei deurdat hulle met die kop en nek vooruitgestrek vlieg. Die reiers daarenteen, vlieg met die kop en nek in die vorm van 'n S.
Gedrag Hulle broei grootliks in Europa, maar voor die Europese winter aanbreek, verhuis hulle in swerms van 300 of meer na Afrika. In die somermaande kom hulle oor die hele Suid-Afrika in groot getalle voor, en is dan van die Kaap tot aan die Limpopo aanwesig. Enkeles broei selfs in die Overberg.
Aangesien hulle sprinkane, wurms en verskeie insekte vreet, is hulle baie gewild by die boer. In Europa maak hulle nes op die dakke van woonhuise, kerke en ander geboue. In veral Nederland en Duitsland beskou mense die witooievaar as 'n gelukbringer. Die voëls was volop in Europa maar het in stede en dorpe al hoe skaarser geword.
Ander name In Engels staan dit as die White stork bekend, in Duits as die Weißstorch, in Suid-Sotho as die Mokotatsie, in Xhosa as die uGodoyiya en in Zoeloe as die inGolantete.
Fotogalery
Sien ook
Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name Ooievaaragtiges
Bronnelys Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011. KENNIS, vol 13, 1980, bl. 2617-2619,
Verwysings
Kategorie:Ooievaars