Die Katedraal van Petrus en Paulus (Russies: Петропа́вловский собо́р; Petropawlofski sobor) is ’n Russies-Ortodokse katedraal in Sint Petersburg, Rusland. Dit is in die Fort van Petrus en Paulus geleë en is die stad se eerste en oudste baken. Dit is tussen 1712 en 1733 op Zajatsji-eiland aan die Newarivier gebou. Beide die fort en die kerk is aanvanklik deur tsaar Pieter die Grote laat bou en deur Domenico Trezzini ontwerp. Die katedraal se kloktoring is die hoogste Ortodokse toring in die wêreld.

duimnael|links|240px|Grafte in die katedraal. Die katedraal is gewy aan die apostels Petrus en Paulus, twee van die die stad se beskermheiliges. Die huidige gebou is die tweede op die terrein; die eerste kerk wat net ná die stad se stigting deur Pieter die Grote laat bou is, is in April 1704 ingewy.

Die huidige gebou, die eerste steenkerk in Sint Petersburg, is deur Trezzini ontwerp en tussen 1712 en 1733 gebou. Die goue toring is 123 meter hoog en het ’n goue engel aan die spits wat ’n kruis vashou. Die engel is een van die belangrikste simbole van die stad.

Die katedraal het ook ’n unieke ikonostase, of beeldewand. Dit is gewoonlik ’n plat muur in Oosters-Ortodokse kerke met drie deure in, waaronder die sentrale Heilige Deur. In die Katedraal van Petrus en Paulus vorm die ikonostase egter ’n soort toring oor die heiligdom, of altaar.

Die katedraal is in 1919 gesluit en in 1924 in ’n museum omskep. Dit is steeds amptelik ’n museum, hoewel kerkdienste in 2000 hervat is. Feitlik al die Russiese tsaars sedert Pieter die Grote is in die katedraal begrawe, ook Nikolaas II en sy gesin wat in Julie 1998 hier herbegrawe is. Die enigste twee tsaars wat nie hier begrawe is nie, is Pieter II en Iwan VI.

Op 28 September 2006 is keiserin Maria Fjodorowna, Nikolaas II se ma, ook in die katedraal herbegrawe om te voldoen aan haar wens om naas haar man, Alexander III, begrawe te word. Sy is op 13 Oktober 1928 in bannelingskap in haar geboorteland, Denemarke, oorlede.

Die katedraal was die stad se katedraalkerk (setel van die biskop) tot met die bou van die Sint Isak-katedraal in 1859. Die huidige katedraalkerk is die Kazankatedraal aan Nefski-prospekt.

Geskiedenis |thumb|190px|Die houtkerk. thumb|190px|'n Tekening van die kerk uit 1826. In 1703 het Pieter die Grote die Fort van Petrus en Paulus aan die oewer van die Golf van Finland laat bou. Hy het besef die nuwe Rusland het argitektuur nodig wat die idees van die tyd kon weerspieël.

Met die doel om die jong hoofstad se oorheersende posisie onder die stede van Rusland te versterk, het die tsaar 'n nuwe kerk beplan wat hoër sou wees as die Kloktoring van Iwan die Grote en die Mensjikof-toring. Dié nuwe kerk moes die belangrikste gebou in die ryk se hoofstad word en in die hart van die Fort van Petrus en Paulus geleë wees.

Die bou van die kerk het op 29 Junie 1703 begin, op die feesdag van die apostels Petrus en Paulus (in die 21ste eeu word hierdie fees op 12 Julie gevier), op die terrein van die pas geboude Fort van Petrus en Paulus. Die inwyding van die eerste houtkerk het op 1 April 1704 plaasgevind. Op 14 Mei 1704 is 'n feestelike diens gehou ter ere van die oorwinning van veldmaarskalk Boris Petrowitsj Sjeremetef oor die Sweedse skepe op die Tsjoedskoje-meer.

Die katedraal van klip In 1712 is die Katedraal van Petrus en Paulus in klip herbou. Dit is so gebou dat die bestaande houtkerk binne die nuwe struktuur sou bly. Die werk het plaasgevind onder leiding van die Switserse argitek Domenico Trezzini. Die Nederlandse meester Harman van Bolos het aan die oprigting van die spits deelgeneem. Op bevel van Pieter die Grote het die bouwerk met die kloktoring begin. Weens 'n tekort aan werkers, die wegvlug van boere en 'n gebrek aan boumateriaal is die kloktoring eers in 1720 voltooi. Die spits van die kloktoring is later met vergulde koperplate bedek. In 1722 het die tsaar met trots sy "paradys" aan ministers gewys en hulle gedwing om na die boonste verdieping van die kloktoring te klim. Die hoogte van die gebou was 112 m, wat 32 m hoër as die Kloktoring van Iwan die Grote was. Die hele katedraal is eers in 1733 voltooi, ná die dood van Pieter die Grote.

Van die stigting van die Sint Petersburgse bisdom in 1742 tot die inwyding van die Isakkatedraal in 1858 was die Katedraal van Petrus en Paulus die hoofkatedraal, waarna dit aan die hofadministrasie oorgedra is.

In 1756-'57 is die katedraal ná 'n brand herstel. In 1773 is die kapel van Sint Katharina ingewy. In 1776 is 'n klokkespel deur die Nederlandse meester B. Oort Kras op die kloktoring geïnstalleer.

In 1777 is die spits van die katedraal deur 'n storm beskadig. Restourasiewerk is deur die argitek Pjotr Paton uitgevoer, en die nuwe figuur van 'n engel met 'n kruis is deur Antonio Rinaldi geskep. In 1857-'58 is die houtstrukture van die spits deur metaal vervang. Daarna het die hoogte van die gebou met 10,5 m toegeneem.

In 1864-'66 is die ou koninklike deure deur nuwes van brons vervang; in 1875-'77 het Giovanni Boldini nuwe plafonskilderye geskilder.

Museum In 1919 is die katedraal gesluit en in 1924 is dit in 'n museum omskep. Die meeste waardevolle voorwerpe uit die einde van die 17de en begin van die 18de eeu (silwer, boeke, kledingstukke en ikone) is na ander museums verskuif.

In die Tweede Wêreldoorlog het die katedraal ernstige skade opgedoen. In 1952 is die fasades gerestoureer en in 1956-'57 die binnekant. In 1954 is die gebou oorgedra aan die Museum van Sint Petersburg se Geskiedenis.

Sedert die 1990's word herdenkingsdienste vir die Russiese tsaars gereeld in die katedraal gehou, en sedert 2000 weer kerkdienste. In 2008 is die eerste Paasdiens sedert 1917 in die katedraal gehou. Tans is die hoofpriester van die kerk die argimandriet (ab) Aleksander (Fjodorof), wat ook voorsitter is van die biskoplike kommissie vir argitektonies-artistieke sake.

Argitektuur Volgens sy plan en voorkoms lyk die Katedraal van Petrus en Paulus glad nie soos die tradisionele Ortodokse koepel- of tentkerke nie. Dit is 'n langwerpige, reghoekige gebou wat van wes na oos gerig is, tipies van Wes-Europese argitektuur. Dit is 61 m lank en 27,5 m breed.

Die buitekant is eenvoudig, maar indrukwekkend. Die mure is slegs versier met plat pilare en engelgesigte bo die vensters. Aan die oostelike fasade is 'n fresko van kunstenaar P. Titof met die titel "Die apostels Petrus en Paulus staan voor Christus". Die westelike fasade, wat die basis van die kloktoring vorm, is versier met ses pilare aan beide kante van die hoofingang – die portiek. Bo die altaargedeelte is 'n koepeltrommel.

duimnael|links|200px|Die engel aan die bopunt van die toring. Die dominante deel van die katedraal is die kloktoring aan die westekant, versier met pilare. Die eerste twee verdiepings word geleidelik kleiner na bo, wat 'n gladde oorgang van die hoofgebou na die hoë toring vorm. Die boonste gedeelte van die toring word gekroon deur 'n vergulde agtkantige dak met vier ronde vensters in swaar witsteenraamwerke. Bo-op die dak is 'n agtkantige koepeltrommel met smal, vertikale openinge. Daarbo is 'n hoë, ook agtkantige, goue kroon, en bo-op die kroon is, in plaas van die tradisionele Russiese kruis, 'n fyn goue toring wat die basis vorm van 'n 40 m hoë spits. Heel bo-op die spits is die beeld van 'n engel met 'n kruis (die kruis is sowat 6,5 m hoog). Die engel is 3,2 m hoog, die vlerkspan is 3,8 m breed en dit weeg sowat 250 kg.

Die kloktoring dien as een van die stad se belangrikste oriënteringspunte. Die katedraal, wat 122,5 m hoog is, was vir 'n lang tyd die hoogste gebou in Sint Petersburg. Dit is herhaaldelik gerestoureer en herbou, en daarom is dit baie moeilik om vas te stel wat sy oorspronklike voorkoms presies was. Die eerste skets is deur Pieter die Grote self gemaak, na aanleiding van sy reise tydens die Groot Ambassade (1697-'98).

Die eerste weergawe van die engel op die spits (wat verskil van die huidige weergawe) is ontwerp deur Trezzini en is geïnspireer deur die windwyser van die stadsaal in Maastricht. Die huidige engel (die vierde weergawe, ná 'n brand in 1756 en latere aanpassings) is in 1857 gemaak volgens 'n ontwerp deur die beeldhouer Robert Zalemann.

As gevolg van herbouings is die spits aansienlik verhoog, terwyl die oorspronklike hoë dak in Nederlandse styl verlaag is. Hierdie veranderinge het die verhoudings van die katedraal versteur: Die trommel het buitensporig hoog gelyk met 'n klein koepel bo-op. Aan die westekant is 'n tweede paar volute bygevoeg. Die kloktoring het groot veranderings ondergaan (herbouings van 1757-'76 en 1857-'59). Die bygevoegde portiek het die aanvanklike komposisie van die westelike fasade versteur.

Die oorspronklike argitektuurplanne het nie behoue gebly nie, maar dit is bekend dat Pieter die Grote opdrag gegee het dat die planne aan graveerders oorhandig word, sodat die gebou reeds op prente kon bestaan het voordat dit voltooi is. In Trezzini se ontwerp het die kloktoring van twee verdiepings as 'n selfstandige struktuur bestaan, ietwat teruggeskuif van die barokfasade, in die Wes-Europese toringstyl en in teenstelling met die Russiese tradisie.

Inspirasie Onder die moontlike voorbeelde vir die katedraal het Boris Vipper die beursgebou van Kopenhagen (waar Trezzini gewerk het voor sy koms na Rusland) geïdentifiseer. Die naaste prototipes van die kloktoring is die toring van die Kerk van Petrus in Riga (1688-'90, wat Pieter gesien het tydens sy eerste oorsese reis), asook kerke in Londen wat Pieter besoek het.

Dit is merkwaardig dat Trezzini, hoewel hy nie 'n uiters kreatiewe argitek was nie, niks direk gekopieer het nie en nie beskuldig kan word van klakkelose navolging nie. Interessant genoeg het die Katolieke Trezzini en die Ortodokse Pieter geen probleem gesien in die kombinasie van Katolieke en Lutherse kerkelemente in 'n ortodokse kerk nie. Die spitstipe toring, skerper as Noord-Europese voorbeelde, kan as 'n Sint Petersburgse innovasie beskou word. Dié spitsdakke is dikwels met vlae versier, soortgelyk aan die vlaggies van skepe wat op die Newa vaar. Dit het maklik en goedkoop 'n romantiese en indrukwekkende beeld van die nuwe stad geskep.

Die restoureerders van die engel aan die spits van die toring het in 1997 ’n briefie gekry waarin restoureerders van 1953 verskoning vra vir die werk wat hulle gevoel het afgejaag en slordig was (die Sowjet-leier Nikita Chroesjtsjof wou die engel laat herstel vir die viering van die stad se 250ste bestaanjaar). Daar word beweer die 1997-restoureerders het weer ’n briefie vir die volgende geslagte gelos, maar die inhoud daarvan is nie bekend nie.

Die kloktoring duimnael|links|240px|Die kloktoring van binne. 240px|links|duimnael|Die grootste klokke in die katedraal.

Die kloktoring en spits is die oorheersende kenmerk van die katedraal. Dit vervul verskeie funksies as deel van die struktuur: Dit is 'n argitektoniese simbool en 'n belangrike deel van die katedraal se vorm. Dit is deel van 'n keiserlike grafkelder. Die grafte is op die grondverdieping. Dit is 'n weerligafleier wat die katedraal beskerm. Dit is 'n uitsigplatform waar besoekers van 12:00 tot 18:00 elke uur bymekaarkom. Dit het 'n klokkespel waarop konserte van tyd tot tyd uitgevoer word.

Die eerste klokke is in 1720 deur Pieter die Grote laat aanbring, maar in 1756 het die toring in ’n donderstorm afgebrand en die klokke is verwoes.

In 1757, net 'n jaar ná dié ramp, is nuwe klokke uit Nederland bestel en die klokmaker Barend Oortkras het uit Den Haag gekom om dit te installeer. Met sy aankoms was die toring egter nog nie klaar herbou nie en hy kon nie die klokke installeer nie. Hy het in Sint Peterburg gebly om dit te doen, maar is in 1764 in armoede dood voordat die toring klaar gebou was. Die klokke is toe in 1776 deur die Duitse klokmaker Johann Erdmann Rudiger geïnstalleer.