Die vleiloerie of gewone vleiloerie (Centropus burchellii) is 'n meestal skugter standvoël wat aan die suid- en ooskus van suider-Afrika en die aangrensende binneland aangetref word. Hul verspreiding strek van die Wes-Kaap tot in die suide van Tanzanië. Voor die reëntyd word die kenmerkende roep gehoor wat klink na water wat uit 'n bottel loop. Derhalwe staan dit ook as die reënvoël bekend. Veral wat hierdie roep en die voorkoms van onvolwassenes betref is dit baie soortgelyk aan die gestreepte vleiloerie, wat dit in die noordweste verplaas. In Engels staan dit ter ere van William Burchell as Burchell's coucal bekend.

Voortplanting Tussen September en Februarie word 'n groot slordige nes in 'n doringboom tussen 0,5 en 1 meter van die grond af gebou. Gewoonlik word 4 wit eiers (2 tot 5) gelê wat deur albei ouers na 14 tot 18 dae uitgebroei word. Die jong voëltjies word vir die volgende drie weke deur albei ouers gevoer. Die onaansienlike kuikens is pikswart en veerloos, met 'n leeragtige vel. Lang wit hare groei wel op hul rug. Die ouers is nié besonder sorgsaam teenoor hul kuikens nie.

Gedrag en voedsel Die gewone vleiloerie klouter deur digte bos om insekte en reptiele (soos sprinkane, slakke, paddas, akkedisse en verkleurmannetjies), asook voëls tot so groot as 'n lemoenduif te vang. Soggens kom hulle wel uit die ruigte om in die son te bak, en sal dan lank doodstil op een plek sit.

Subspesies Daar is twee subspesies: Centropus burchellii burchellii — suidoostelike Botswana, Eswatini, westelike Lesotho, suidelike Mosambiek en die vogtiger gebiede van Suid-Afrika (al nege provinsies, maar afwesig van Namakwaland, Kalahari, Karoo en suidelike hoëveld) Centropus burchellii fasciipygialis — noord van die Limpopo: suidoostelike Zimbabwe, sentraal- tot noordelike Mosambiek, suidelike Malawi en suidelike Tanzanië — veredos meer kontrasterend gekleurd en minder gestreep

Galery

Sien ook

Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.

Verwysings

Kategorie:Loeries Kategorie:Voëls van die Krugerwildtuin