Ds. Willem Postma (Burgersdorp, 15 Maart 1874 – Reddersburg, 13 Desember 1920) was 'n predikant in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en, onder die skuilnaam Dr. O'Kulis, 'n Afrikaanse baanbrekerskrywer.
By sy dood het prof. J.D. du Toit (Totius) hom as 'n “heldeverskyning” en nie maar net 'n merkwaardige figuur nie beskrywe: “Hy het beswyk terwyl hy nog wou werk en ideale in sy siel geskitter het – maar dan beswyk met sy bors teen die stroom en met moed in sy siel. As sodanig sal sy persoonlikheid almal wat hom geken het, bly imponeer. Só leef, só sterf 'n man.” Sy boesemvriend, ds. J.D. Kestell, het onder meer gewys op Postma se ywer vir Christelik-nasionale onderwys en hom bestempel as “een zeldzaam verschijnsel in onze tijd van wikken en wegen”, 'n gawe van God aan die Gereformeerde Kerk maar ook aan Suid-Afrika. Hoofstuk 8: Kort tussenspel vir Christelike hoër onderwys. URL besoek op 10 Julie 2016. Hy het sy kollega (hulle was van 1912 tot 1915, toe ds. Postma na Reddersburg vertrek, leraars van Bloemfontein se NG en Gereformeerde gemeente) beskryf as 'n "onverbeterlike optimis" in sy lewensbeskouing wat betref godsdienstige en maatskaplike sake. P.J. Nienaber, van wie in 1950 die enigste biografie van ds. Postma verskyn het, skryf daarin: "Dr. O'kulis was 'n indrukwekkende persoonlikheid. Wat dadelik die aandag getrek het, was sy fors gestalte, maar fynbesnede gelaat, die welgevormde neus met die dun neusvleuels en die lewendige oë. Sy gelaat was ongelukkig baie geskend deur pokke, en van dié siekte het hy 'n steeds toenemende doofheid oorgehou."Nienaber, P.J. 1950. Dr. O'kulis met sy eselskakebeen of Die lewe en werk van ds. Willem Postma (1874–1920). Johannesburg: Voortrekkerpers.
Herkoms en opleiding duimnael|links|Willem Postma se moeder, Johanna Wilhelmina Postma, gebore Van Biljon, Burgersdorp, 27 Mei 1854, oorlede 12 Julie 1901, ds. Dirk Postma se vyfde en laaste vrou.
Willem Postma is op op Burgersdorp gebore as 'n seun van ds. Dirk Pieters Postma, die stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, uit sy vyfde en laaste huwelik, met Johanna Willemina van Biljon (oorlede op 12 Julie 1901) op 20 Desember 1869.Geni: http://www.geni.com/people/Willem-Postma/6000000020229768501
Van sy halfbroers wat naam gemaak het in die Gereformeerde Kerk, was (uit sy vader se derde huwelik) di. Petrus Postma (1854–1919), veral bekend as Gereformeerde leraar in Pretoria en pres. Paul Kruger se kapelaan en raadgewer, en Marthinus Postma (1855–1926), eerste Gereformeerde predikant aan die Witwatersrand, en (uit sy vierde huwelik) di. Dirk Postma jr. (1861–1919) en ds. Stephanus Postma (1865–1904). Sy broerskinders ds. Dirk Postma (1877–1940) en dr. Ferdinand Postma (1879–1950) was ook bekendes in die Gereformeerde Kerk, terwyl Hilda Postma (1895–1993) en Rikie Postma (1889–1938) skrywers van onderskeidelik veral kindergedigte en -prosa was. Die digter, teoloog en Psalmberymer Totius wassy swaer omdat Totius getroud was met Marie, Willem se jongste suster. Ook sy swaer prof. J.A. du Plessis was hoogleraar aan die Teologiese Skool Potchefstroom. Du Plessis was eers getroud met ds. Postma se suster Laurika en ná haar dood met sy suster Aletta.
Willem Postma het op Burgersdorp sy eerste onderrig en later sy opleiding tot predikant aan die Teologiese Skool Burgersdorp ontvang, waar prof. Jan Lion Cachet sy leermeester was. As seun was hy baie lewendig van aard en 'n groot liefhebber van sport. Hy was 'n uitstekende vuisvegter, en alle nuwelinge wat in die skool gekom het, moes eers teen "Willy" (soos sy Engelse maats hom genoem het) veg om te wys hoeveel daar in hulle steek. Hy was 'n egte kwajong, altyd klaar vir die een of ander streek of grap. Sy studie het hy onder moeilike omstandighede voltooi omdat hy as enigste seun uit sy vader se laaste huwelik ná dié se dood op 28 Desember 1890 sy moeder moes help om in die onderhoud van die gesin te voorsien, al was hy toe net 16 jaar oud.
Tweede Vryheidsoorlog Ds. Postma is in 1897 beroep na sy eerste gemeente, Bethulie in die Suidoos-Vrystaat. Die plan was dat hy as veldprediker saam met die kommando's sou gaan, maar voorlopig moes die kommando van Bethulie die brug oor die Grootrivier bewaak. Die Boere is daar egter skielik een nag deur die Engelse verras, en sonder slag of stoot is Bethulie toe ingeneem en ds. Postma gevange geneem. Sy vrou was op daardie tydstip baie siek, en die bevelhebber kon dit nie oor sy hart kry om ds. Postma as krygsgevangene na Indië te stuur nie. Hy het sy bes gedoen om hom oor te haal om die eed van getrouheid aan die Britse kroon af te lê en op Bethulie by sy gesin te bly. Ds. Postma het egter beslis geweier, ook op aandrang van sy eggenote, wat nie daarvan wou hoor dat hy die eed sou aflê nie. Ten einde raad moes hy op 'n oggend weer voor die offisier verskyn. Daar gekom, tref hy verskeie persone aan wat reeds die eed van getrouheid afgelê het. Die offisier wys toe na hulle en vra: "Hulle het die eed afgelê. Ag jy jouself dan beter as hulle dat jy dit nie wil doen nie?" "Kolonel, vertel my eers," was die antwoord, "wat doen die Britse leër as 'n Tommie trou sweer aan die vyand?" "Ons skiet hom soos 'n hond dood!" roep die offisier uit. "In alle erns dan, Kolonel, ag jy my dan minder as 'n gewone Tommie om van my so 'n gemene ding te eis?" Die offisier het sy versoek nie herhaal nie, en ds. Postma het so 'n indruk op hom gemaak dat hy hom as gevangene na Middelburg, Kaap, gestuur het, waar hy toe op parool uitgelaat is. Hy moes homself elke dag aanmeld, maar die eed het hy nooit afgelê nie. Om sy gesin aan die lewe te hou, moes hy toe tot die sluiting van die vrede in 'n winkel werk. Ook was hy behulpsaam met die eredienste in die plaaslike Gereformeerde gemeente. "Gedurende die week moes ek die jongste modes verkoop," het ds. Postma gesê, "en Sondae moes ek daarteen preek." Dit was vir hom uiters moeilike en kommervolle jare, nie alleen omdat dit finansieel moeilik gegaan het nie, maar sy hart was by die Vrystaatse kommando's.
Predikant duimnael|links|220px|'n Groep Burgersdorpse studente, Oktober 1896. Agter (van links): J.G.H. van der Walt, J.A. du Plessis, J.C. Krüger, Willem Postma. Tussen-in: G.H.J. Kruger. Voor: P.J. Snyman en J.D. du Toit.
duimnael|regs|330px|Willem Postma staan in die middel op dié gesinsfoto van prof. Dirk Postma en sy vyfde en laaste vrou, Johanna (gebore Van Biljon). Sy suster Lettie (links) was getroud met prof. J.A. du Plessis en die moeder van proff. Wicus du Plessis, Hugo du Plessis en Ida Bosman. Maria (sittende in die middel) was getroud met prof. J.D. du Toit, bekend as die skrywer Totius. Breggie (naasregs) was getroud met ds. J.A. van Rooy, en Laurika (regs) was prof. J.A. du Plessis se eerste vrou.
Ná die oorlog is hy terug na Bethulie, maar gee die kerkraad op 4 Maart 1905 kennis dat hy na Bloemfontein beroep is, waar hy in 1903 die eerste Gereformeerde gemeente in die Vrystaatse hoofstad gestig het en daarna as konsulent van die gemeente opgetree het. Die beroep na Bloemfontein het hy aangeneem en Bethulie se kerkraad op 7 April van sy besluit ingelig. (Dié gemeente het 110 jaar later, in 2013, ontbind weens die veranderde demografie van die Bloemfonteinse middestad.) In 1915 aanvaar hy 'n beroep na Reddersburg, waar hy werk tot aan sy dood in 1920. So was hy in sy kort loopbaan werksaam al drie die grootste Gereformeerde gemeentes van die Vrystaat van destyds. Ds. Postma se gesondheid was reeds geknak toe hy na Reddersburg gekom het. Tog het hy met onvermoeide werkkrag die gemeente opgebou. Vir die gemeente was dit dan ook 'n geweldige skok toe hy op betreklik jeugdige leeftyd in Desember 1920 oorlede is. Maar sy bediening het diep spore agtergelaat wat jare daarna nog sigbaar was. Dit was moeilike oorlogsjare waarin hy hier gedien het, gevolg deur die vreeslike Griepepidemie. Sy optrede in die donker tye bly onvergeetlik. 'n Opmerklike besluit is in Maart 1919 geneem, naamlik dat die notule voortaan in Afrikaans gehou sou word. In hierdie jare het ook die sustersvereniging onder die naam van die Dorkasvereniging ontstaan. Onder ds. Postma se leiding het die kerkraad ook die gedagte van 'n ekumeniese sinode by die Sinode aanhangig gemaak.
In Bloemfontein duimnael|regs|300px|Die hoeksteenlegging van die eerste kerkgebou van die Gereformeerde kerk Bloemfontein op 22 Augustus 1903.
duimnael|links|300px|Die Bloemfonteinse kerkraad en di. Willem Postma en Petrus Postma, voor 1919.
In 1905 is hy na Bloemfontein beroep, waar hy op 12 Mei in die jong gemeente (1903 gestig) aangekom het. Die gemeente het merendeels uit die werkerstand, veral spoorwegwerkers, bestaan. Uiters moeilike jare het nou gevolg, maar ds. Postma se werk was onder dit alles ryklik geseën. In 1909 het die gemeente reeds 313 lidmate gehad.
Ná sy aankoms in Bloemfontein het ds. Postma dadelik deelgeneem aan al die vertakkinge van die maatskaplike lewe, naamlik politiek, onderwys, kultuur, ens. Daarby was hy ook behulpsaam in die redaksie van die Vriend des Volks, en saam met Johan Visscher, J.S.M. Rabie, Oom Lokomotief en andere het hy veel gedoen om leeslus by die volk op te wek, maar bowenal om hulle nasionaal bewus te maak. In hierdie blad het hy die bekende stukke “Oogdruppels" onder die skuilnaam Dr. O'kulis geskryf. (Die naam Dr. O'kulis is verkeerd gespel; dit moes Okulis gewees het, sonder die afkappingsteken. Toe dit die eerste maal gebruik is, het die setter die komma ingevoeg, en ds. Postma het dit so gehou). Dr. O'kulis het besonder baie aandag aan onderwyssake gegee, en hier was hy die regterhand van genl. J.B.M. Hertzog, ook op politieke gebied, veral toe die generaal uit die Botha-kabinet gesit is. Hy was in baie opsigte die siel van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging in die Vrystaat.
Ds. Postma het geen rus geken nie. Daarvoor het baie werk en slegte gesondheid gesorg. In 1909 moes sy kerkraad hom 'n paar maande verlof toestaan weens ernstige krankheid. In 1911 was hy weer siek, maar kon gelukkig sy werk gou hervat. In 1912 is hy na Steynsburg. Die plaaslike leraar, ds. (later dr.) P.C. Snyman, ’n swaer van ds. Postma, is na Nederland vir verdere studie, en mede met die oog op die moeilike finansiële toestand van die Bloemfonteinse gemeente, is besluit dat ds. Postma aan die versoek sou voldoen om na Steynsburg te gaan vir 'n jaar. Hy sou dan van daar die gemeente in Bloemfontein een maal per maand bedien. Maar, teen die end van 1912 was sy gesondheid so swak dat hy na Bloemfontein moes skryf om sy emeritaat aan te vra. Daar was vir die kerkraad geen ander weg oop as om die versoek na die Algemene Vergadering te verwys nie, en die emeritaat is toe aan ds. Postma verleen. Die grootste deel van die volgende jaar (1913) het hy toe in Oos-Londen deurgebring. Vanaf Desember 1913 sou hy egter weer in die pastorie in Bloemfontein gaan woon en werksaam wees na sy kragte dit toelaat. Gelukkig het sy kragte so toegeneem dat hy in April 1914 ten volle in sy amp herstel is.