Die Kaapse kwikkie of gewone kwikkie (Motacilla capensis) is 'n klein sangvoëlspesie in die familie Motacillidae, wat benewens die vrye natuur ook algemeen in beboude gebiede gevind word. Dit is inheems aan die oorgrote deel van Suid-Afrika, die hoërliggende dele of kuslyne van Suider-Afrika, benewens waterryke areas van suidsentraal-Afrika en hooglande aan die ewenaar (Kenia, Uganda, Rwanda en Burundi).
Taksonomie In 1760 het die Franse dierkundige Brisson 'n beskrywing van die Kaapse kwikkie by sy Ornithologie ingesluit, wat hy baseer het op 'n spesimen wat by die Kaap die Goeie Hoop versamel is. Hieraan het hy die Franse naam La bergeronette du Cap de Bonne Espérance en die Latynse naam Motacilla Capitis Bonae Spei toegeken. Die twee sterretjies (**) aan die begin van die afdeling dui aan dat Brisson sy beskrywing op die bestudering van 'n spesimen baseer het. Alhoewel Brisson wel Latynse name toegeken het, het dit nie aan die vereistes van die binomiale stelsel voldoen nie, en dit is gevolglik nie deur die Internasionale Kommissie vir Dierkundige Nomenklatuur erken nie.
Toe die Sweedse dierkundige Carl Linnaeus sy Systema Naturae in 1766 vir die twaalfde uitgawe hersien, het hy 240 spesies ingesluit wat vooraf deur Brisson beskryf is, en een hiervan was die Kaapse kwikkie. Linnaeus het 'n kort beskrywing ingesluit, die binomiale naam Motacilla capensis toegeken, en Brisson se werk vermeld. Die genus Motacilla is reeds in 1758 deur Linnaeus in die tiende uitgawe van sy Systema Naturae ingevoer. Die spesienaam capensis verwys na die Kaap die Goeie Hoop.
Drie subspesies word erken, wat in drie afgesonderde streke voorkom. M. c. simplicissima Neumann, 1929 — Angola tot suidoostelike DRK, Zambië, die Kaprivistrook, noordelike Botswana en westelike Zimbabwe; M. c. capensis Linnaeus, 1766 — Namibië, Suid-Afrika, Lesotho, Eswatini, Zimbabwe en sentraal-Mosambiek; M. c. wellsi Ogilvie-Grant, 1911 — Hooglande van die oostelike DRK tot Uganda en Kenia.
Voorkoms Die Kaapse kwikkie is 'n klein voëltjie, ongeveer 20 cm in lengte. Dit word gekenmerk deur die langerige, voortdurend wippende stert van die genus. Die volwassene is grysbruin, afgesien van ligte vlerkrande en 'n kort wit wenkbrou. Dit het 'n ligter borskant, met 'n donkergrys band oor die bors. Jongvoëls is valer en het 'n geel onderkant.
Gewoontes Die spesie soek energiek na insekte op die grond met 'n kenmerkende dobberende stertbeweging. Voeding is dikwels naby water, insluitend tuindamme. Dit sal paddavisse of klein vissies vreet indien die geleentheid hom voordoen. Hulle is oorwegend territoriale standvoëls, maar kan by tye beperkte hoogtemigrasie onderneem of buite die broeiseisoen swerms vorm. Hulle toon ‘n wye habitat-toleransie en word benewens die oop veld ook aan enige rotsagtige of sanderige seestrande gevind, benewens verskillende gemodifiseerde habitatte soos parke, sportvelde, tuine en rioolwerke. Dit verkies onbeboste areas met kort gras waar dit sy prooi kan sien en jaag. In stads- en voorstedelike gebiede is dit aangepas om kos te soek in tuine en op geplaveide areas. Dit het nie 'n werklike sang nie, maar uiter verskillende kort roepe.
Broeigedrag Die broeipaartjies maak nes in natuurlike skeure en mensgemaakte strukture. Die wyfie lê 1 tot 5 eiers wat deur albei ouers vir 14 dae gebroei word.
Ander name Ander name vir die spesie sluit in kwikstertjie, kwikkwikkie, (jan)kakedop of Angolakwikstertjie in Afrikaans, Kapstelze in Duits, Cape wagtail, Angola wagtail of Wells's wagtail in Engels, Kamukombo in Kwangali, moLetašaka in Sepedi, moTjoli in Sotho, maTsherhani (en ander) in Tsonga, moKgôrônyane in Tswana, umVemve in Xhosa, en umVemve, umCelu of umVentshane in Zoeloe. Sommige van hierdie name is generies, en verwys dus na kwikkies in die algemeen.
Galery
Verwysings
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name
Kategorie:Kwikkies Kategorie:Voëls van die Krugerwildtuin