Messier 94 of M94 (ook bekend as NGC 4736) is ’n spiraalsterrestelsel in die sterrebeeld Jaghonde. Dit is in 1781 deur Pierre Méchain ontdek en deur Charles Messier in sy katalogus van komeetagtige voorwerpe opgeneem.
Hoewel M94 soms as ’n staafspiraalstelsel beskryf word, is die "staaf"-struktuur skynbaar eerder ovaalvormig. Die stelsel is ook besonders omdat dit twee ringstrukture het.
Ringe M94 het ’n binnering met ’n deursnee van 70" benewens ’n buitering met ’n deursnee van 600". In die binnering vind aktiewe stervorming plaas wat aangehelp word deur gas wat deur die binneste ovaalvormige staafstruktuur in die ring ingestu word.
In ’n 2009-studie is bevind die buitering bevat sowat 23% van die sterrestelsel se totale stellêre massa en is nog aktiewer as die binnering. Stervorming vind twee keer so vinnig plaas en die buitering se nuwe sterre maak sowat 10% uit van die hele sterrestelsel se nuwe sterre.
Weens die groot aantal nuwe sterre wat hier gevorm word, word M94 soms as ’n steruitbarsting-sterrestelsel geklassifiseer.
Donker materie In 2008 is ’n studie gepubliseer wat skynbaar wys dat M94 baie min of geen donkermaterie bevat. In die studie is die rotasiekurwes van die stelsel se sterre en die digtheid van waterstofgas bestudeer, en daar is gevind dat gewone liggewende materie feitlik die hele massa van die stelsel uitmaak.
Die bevinding was ongewoon en ietwat omstrede aangesien huidige modelle nie voorsiening maak vir sterrestelsels wat sonder donkermaterie gevorm word of hul donkermaterie verloor nie. Die bevinding moet nog deur ander navorsingsgroepe bevestig of aanvaar word.
Virgo-superswerm M94 is een van die helderste sterrestelsels in die M94-groep, ’n sterrestelselswerm met tussen 16 en 24 stelsels. Dit is deel van die Virgo-superswerm (waarin ook die Lokale Groep en dus die Melkweg en ons Sonnestelsel geleë is).
Hoewel baie sterrestelsels dalk met M94 verbind kan word, is daar net ’n paar naby M94 wat lyk of dit deur sy swaartekrag gebonde is. Die meeste ander nabygeleë stelsels se beweging hang oënskynlik saam met die uitdying van die heelal.
Verwysings
Eksterne skakels M94 – ’n panchromatiese perspektief M94 – ’n nuwe optiese perspektief SEDS: Messier 94
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
90094 Kategorie:Spiraalsterrestelsels Kategorie:NGC-voorwerpe Kategorie:Jaghonde (sterrebeeld)