Dr. Frans Vredenrijk Engelenburg (Arnhem, Nederland, 17 Maart 1863 – Pretoria, Suid-Afrika, 21 Augustus 1938) was 'n Suid-Afrikaanse joernalis en koerantredakteur en twee maal voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Herkoms en agtergrond Engelenburg het uit 'n welgestelde Nederlandse familie gekom. Sy vader was Frans Thomas Vredenrijk Engelenburg en sy moeder Anna Maria Koopmans.Familysearch.org Hy behaal sy doktorsgraad in die regte in 1889 met lof aan die Universiteit van Leiden, waarna hy hom as advokaat vestig in Den Haag. Hy was 'n ruk lank 'n medewerker van die Dagblad van Zuid-Holland en 's-Gravenhage in Den Haag asook talle ander Europese koerante. Hy besoek die Kaap in 1889 as gas van sy aangetroude tante Marie Koopmans-De Wet, wat vir hom 'n voorstellingsbrief aan pres. Paul Kruger gee. Hulle het die eerste keer in 1881 ontmoet toe sy haar eerste reis na Europa onderneem het en het gou heg bevriend geraak omdat albei in kuns belanggestel het.

Engelenburg het op sy eerste besoek aan die Kaap besluit om hom as advokaat in Transvaal te vestig, maar word dieselfde jaar nog redakteur van De Volksstem teen 'n vergoeding van £25 per jaar.Engelenburg se huis was akademie se eerste tuiste Die Volksblad, 25 September 1999 Hy sou later 'n tyd lank mede-eienaar van die koerant word.

Redakteur van De Volksstem duimnael|links|240px|Die Volkstem het in 1925, toe dit daagliks verskyn het, in twee dae agtereenvolgende uitgawes (Vrydag 9 en Maandag 13 Oktober) 'n spesiale bylae oor pres. Paul Kruger uitgegee ter herdenking van sy geboorte 'n eeu vantevore. duimnael|280px|Engelenburg soos uitgebeeld in 'n spotprent deur Boonzaier in Die Burger. Die Volkstem was die eerste Afrikaans-Hollandse dagblad noord van die Oranjerivier. Dit het die eerste keer as weekblad verskyn in Pretoria op 8 Augustus 1873 en later tweeweekliks onder die naam De Volksstem, Nieuws- en Advertentieblad. Pres. Burgers het met Jan F. Celliers, assitent-redakteur van Het Volksblad in Kaapstad, onderhandel om 'n regeringsgesinde koerant in die Transvaalse hoofstad op te rig. N.J.R. Swart, staatsekretaris, James Buchanan, prokureur-generaal, H.C. Bergsma en Fred Jeppe het elkeen £80 belowe as aanvangskapitaal. Met sy aankoms in Transvaal word Cilliers die koerant se eienaar en bestuurder en hy bly ook aan as redakteur tot 1888.

Tydens die eerste anneksasie van Transvaal het die Britse administrasie die uitgee van die koerant van 1 tot 23 Oktober 1878 verbied toe beslag op die drukpers gelê is en weer van 20 Desember 1880 tot 2 April 1881, nadat Cilliers en sy assistent, W.E. Bok (later staatsekretaris en die man na wie Boksburg vernoem is), in hegtenis geneem is op 'n klag van hoogverraad.

duimnael|links|240px|Engelenburg op 'n vroeë leeftyd.

Cilliers verkoop die drukpers in 1888 aan die Transvaalse regering, maar enkele dae later neem Wichert Jonker van die Vrystaat die koerant oor, terwyl die regering 'n gedeelte van die toerusting gehou het om die grondslag te vorm van die Staatsdrukkery. Jonker bly slegs 'n jaar as redakteur aan voor hy selfmoord pleeg.

In 1890 is De Volksstem Maatschappij Beperkt opgerig met 'n kapitaal van £15 000, waarvan aandele ter waarde van £1 125 aan die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek behoort het. Sewe jaar later is die maatskappy egter gelikwideer. Engelenburg besoek sy vaderland waar hy geruime tyd vertoef om reëlings te tref om De Volksstem te koop. Hy bekom sodoende al die bates, waarvan die helfte die volgende jaar oorgeneem is deur die drukker Izaak Wallach. Die naderende oorlog het Engelenburg intussen genoop om die koerant daagliks te begin uitgee nadat dit jare lank tweeweekliks verskyn het. Die middagkoerant maak sy verskyning in 1895 en, soos die geval was met 'n weeklikse uitgawe in Frans, La Semaine (Die Week), was die doel daarvan om die Z.A.R. te verdedig teen binnelandse sowel as buitelandse aanslae. In 1889 kom ook 'n weeklikse uitgawe in Engels by.

Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, vertrek Engelenburg na die front waar hy 'n veld-uitgawe die lig laat sien. Die eerste uitgawe verskyn op 27 Oktober 1899 op Glencoe in Natal, wat gedruk is op 'n trap-pers in 'n treinwa van die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM). Engelenburg het in die veld ook opgetree as oorlogskorrespondent vir 'n aantal nuusblaaie in Europa terwyl hy bydraes aan sy eie koerant in Pretoria gestuur het. In 1900 haas hy hom terug na die Transvaalse hoofstad, waar die Britse owerheid hom in hegtenis neem, beboet en die land uitstuur. Hy gaan na Stellenbosch, waarna hy twee jaar lank deur Europa reis. Daar het hy dr. Willem Johannes Leyds met 'n inligtingsdiens rakende die oorlog bygestaan. Weens die rampspoedige verloop van die oorlog is die publikasie van De Volksstem gestaak van Junie 1900 tot Maart 1903.

Ná die Anglo-Boereoorlog Engelenburg keer in Februarie 1903 terug na Pretoria. In dié tyd het genls. Louis Botha en Jan Smuts die leiding geneem om die koerant weer te laat verskyn, nou as tweeweeklikse blad. In Mei 1904 is 'n vergadering op die perseel van die koerant gehou waar die afgevaardigdes, onder wie Engelenburg, besluit het om Het Volk as 'n politieke party vir die Afrikaners in Transvaal te stig. Net soos die koerant die spreekbuis van pres. Paul Kruger en die regering van die Z.A.R. voor die oorlog was, word dit nou die spreekbuis van genls. Botha en Smuts. Ná Uniewording was die koerant 'n ywerige ondersteuner van die Suid-Afrikaanse Party. Toe die skeuring in Afrikaanse geledere in 1912 plaasvind, wat die stigting van die Nasionale Party onder genl. J.B.M. Hertzog voorafgegaan het, bly Engelenburg en sy koerant getrou aan Botha en Smuts se beleid tot aan die einde, selfs nadat die Nasionale Party die hoofstroom van die Afrikaners se politieke denke begin verteenwoordig het.

Aan die begin van die 20ste eeu het Engelenburg en sy koerant hulle vir Uniewording beywer. Die naam is vereenvoudig tot De Volksstem op 1 Januarie 1905. In daardie jaar is 'n nuwe onderneming, Wallach's Printing and Publishing Company Ltd., opgerig met 'n groter kapitaal ten einde die koerant voort te sit. Tot aan die einde was dié maatskappy Die Volkstem se eienaar en uitgewer en selfs ná die koerant se ondergang, het dit as drukkery bly voortbestaan. In 1919 vergesel Engelenburg genl. Louis Botha na die Versailles-vredesonderhandelinge in Frankryk.

Van 1923 tot 1925 was C. Louis Leipoldt assistentredakteur van De Volksstem. Met Engelenburg se bedanking in 1924 het Gustav Preller redakteur geword, maar bly net 'n jaar in die pos toe hy in 1925 redakteur van Ons Vaderland word, die mondstuk van die Nasionale Party, wat pas die vorige jaar die bewind in die sogenaamde Pakt-regering met behulp van die Arbeidersparty oorgeneem het by die Suid-Afrikaanse Party van genl. Smuts.

duimnael|links|270px|Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het in 1959 'n posseël uitgebring ter viering van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se 50ste bestaansjaar. Die embleem van die Akademie is deur Engelenburg ontwerp.

Engelenburg, toe 'n 61-jarige oujongkêrel, het ná sy bedanking op 2 Junie 1924 in die huwelik getree met Amalia Marguerite Halliday (gebore in Londen op 22 Augustus 1883)Familysearch.org en 'n wêreldreis onderneem, maar in 1925 keer hy terug as redakteur, met Nathan Levi as waarnemende redakteur. Sy opvolgers was C.S. Coetzee van 1929 tot 1942 en Hubertus C. de Kock van 1942 tot 1950, wat later lid van die Volksraad sou word vir Pretoria-Oos van 1950 tot 1958 en vir Pretoria-Rissik van 1958 tot 1966.

Op 1 Januarie 1927 ondergaan die koerant dan ook sy laaste naamsverandering toe dit Die Volkstem word, hoewel Afrikaans al dikwels lank voor dié tyd in die koerant gebruik is en dit 'n groot voorstander van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging was. Die Afrikaanse Taalgenootskap is trouens in die Volkstem-gebou gestig. Die Engelenburg-skool het 'n belangrike bydrae gelewer tot die skoling van 'n geslag joernaliste wat elders baanbrekers van die pers sou wees. J.M.H. Viljoen het later bekendgeraak as redakteur van die Huisgenoot, L.W. Hiemstra het assistentredakteur van Die Volksblad en later taalredakteur van die Nasionale Pers geword en E.A. Malga politieke medewerker vir dieselfde maatskappy. Hulle en ander verslaggewers is deur Frederik Rompel na Die Burger oorgebring. Hy was die Nasionale Pers se eerste tegniese redakteur in 1921.

Geaardheid en werkswyse duimnael|regs|320px|Die reëlingskomitee vir die begrafnis van pres. Paul Kruger op 16 Desember 1904, hier afgeneem die dag vantevore, 15 Desember. Voor (van links): A.D.W. Wolmarans, S.W. Burger, Louis Botha (voorsitter), J.H. de la Rey, J.C. Smuts en C.F. Beyers. Middel: S. Meintjes, H. Visser, J. Joubert, I.N. van Alphen, G.W.S. Lingbeek, T.W. Beckett, F.V. Engelenburg en L.L. Steen (sekretaris). Agter: P.L.A. Goldman, N.J. de Wet, P. van der Byl, Watermeyer, P.G.W. Grobler, D. Liebenberg, I.S. Ferreira en Hans Minnaar.

Engelenburg was 'n besonder welbelese man in verskeie moderne tale. Al sy joernalistieke werk getuig van sy kennis en sy belesenheid. Hy het objektiewe beriggewing beskou as die toetssteen van goeie joernalistiek. Sy hoofartikels het getoon dat hy meer as opgewasse was vir die taak en ook dat hy die vermoë gehad het om openbare aangeleenthede kalm en sonder onnodige vooroordeel weer te gee. Sy skryfstyl was hoogs individueel. Hoewel hy Hollands van geboorte was, het hy later jare ook Afrikaans gebruik en was 'n vurige ondersteuner van die ontluikende taal, net soos hy vroeër ook 'n ondersteuner van die vereenvoudigde Hollandse spelling was. Dit was veronderstel om Hollands se kans op oorlewing in Suid-Afrika te verbeter.

Hy was 'n kultuurmens by uitstek. Toe Onze Taal op 1 Februarie 1891 in Pretoria gestig is as rederykerskamer ('n voordrag- en toneelklub en letterkundige vereniging vir die beoefening van die digkuns en welsprekendheid, veral in die 15de en 16de eeu in HollandOdendal, F.F. en Gouws, R.H. 2005. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson Education South Africa.) om die welsprekendheid van die Hollandse taal te beoefen en ter bevordering van gesellige verkeer in kleine kring, was Engelenburg van die eerste lede. Die genotvolle aande het 'n groot bydrae tot die kultuurlewe van Pretoria in die 1890's gelewer.

In 1893 ontvang Engelenburg van die Taalfeeskommissie 'n silwerpenning namens Onze Taal. Die vereniging staak sy werksaamhede tydens die Anglo-Boereoorlog en herleef in Maart 1904, maar sy ondergang was onvermydelik weens die opkoms van Afrikaans as kultuurtaalNel, prof. dr. P.G.N. 1980. 1891: Onze Taal gestig. Swart, dr. M.J. (voorsitter redaksiekomitee). Afrikaanse kultuuralmanak. Aucklandpark: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.

Sy biografie oor pres. Paul Kruger het in 1925 in Afrikaans verskynGoogle Books en oor genl. Botha in Engels in 1928Die Engelse weergawe van die Botha-biografie te koop op bidorbuy.co.za en in Afrikaans die jaar daarop.

Engelenburg se dood Engelenburg se vrou is op 20 Januarie 1932, skaars agt jaar ná hul huwelik, in die ouderdom van 48 jaar oorlede. Hy was by. Dit was vir hom 'n groot slag en hy kry kort daarna 'n ligte beroerte-aanval. Hy reis per boot na die V.S.A. waar hy ses weke behandeling kry in die Johns Hopkins-hospitaal in Baltimore. Terug in die Kaap vra sy goeie vriend dr. C. Louis Leipoldt vir sr. L.G. Liesching om hom te vergesel op die treinreis Pretoria toe. Sy sou hom die volgende ses jaar tot sy aan sy dood verpleeg, want hy het nooit werklik herstel van die beroerte-aanval nie. Hy onttrek hom aan alle openbare verpligtinge en lewe stil tussen sy boeke, kunsvoorwerpe en oudhede,SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se webtuiste hoewel goeie vriende hom nog gereeld besoek het. Vroeg in 1938 het hy weer 'n ligte beroerte-aanval gehad en hy sterf op 21 Augustus 1938, die dag voor sy vrou 55 jaar oud sou geword het, in sy slaap in die ouderdom van 75 jaar.