Die Vise-Koninkryk Nieu-Spanje (Spaans: Virreinato de Nueva España) was 'n Spaanse kolonie in Noord-Amerika wat van 1519 tot 1821 bestaan en van Suid-Kanada oor groot dele van die Verenigde State tot Sentraal-Amerika behalwe vir Panama gestrek het.
Christophorus Columbus het namens die Koninkryk Spanje aanspraak gemaak op al deur hom ontdekte gebiede en Nieu-Spanje het ná die Spaanse verowering van die Asteekse Ryk deur Hernán Cortés tussen 1519 en 1521 begin ontstaan. Die hoofstad Meksikostad is op 13 Augustus 1521 op die ruïnes van die voormalige Asteekse hoofstad Tenochtitlan gestig.
Die Vise-Koninkryk het die huidige lande Meksiko, Belize, Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras, Nicaragua, Venezuela en die Karibiese eilande, in Asië die Filippyne, die Mariana-eilande, die Karoline-eilande, Palau, Guam en Noord-Borneo beheels. In die 17de en 18de eeu is dele van die westelike en suidwestelike Noord-Amerika bygevoeg, waaronder die huidige Amerikaanse deelstate Kalifornië, Arizona, Nieu-Meksiko, Texas, Nevada, Colorado, Utah en die suidweste van Wyoming. In 1762 het Nieu-Spanje die westelike Louisiana van Frankryk ontvang, maar in 1800 het die Franse keiser Napoleon Bonaparte dié gebied weer herwin.
In 1717 is Venezuela by die nuutgestigte Vise-Koninkryk Nieu-Granada ingelyf. In 1643 is die Baai-eilande, in 1655 Jamaika (Santiago), in 1670 die Kaaimanseilande, in 1797 Trinidad en in 1798 Belize aan Groot-Brittanje afgestaan. In 1697 het Frankryk die kleiner, westelike deel van Hispaniola (Haïti) ontvang. In 1789 het Nieu-Spanje sy aanspraak op die minder gekoloniseerde Nootka-gebied laat vaar en dit weer aan Groot-Brittanje oorhandig.
Met Nieu-Spanje (Sentraal- en dele van Noord-Amerika) en die Vise-Koninkryk Peru (in Suid-Amerika), wat later in die Vise-Koninkryke Nieu-Granada en die La Plata verdeel is, het Spanje al die gebiede van Latyns-Amerika sonder die Portugese Brasilië beheer.
Met die Grito de Dolores, Meksiko se oproep na onafhanklikheid van Spanje, het op 16 September 1810 die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog begin. Nadat Meksiko op 27 September 1821 sy onafhanklikheid verklaar het, is die Eerste Meksikaanse Keiserryk onder Agustín de Iturbide gestig. Terwyl Kuba, Santo Domingo en die Filippyne deel uitgemaak het van die Vise-Koninkryk Nieu-Spanje, het hierdie gebiede nie deel van Meksiko geword nie en steeds Spaanse kolonies gebly. Die Sentraal-Amerikaanse lande het reeds in 1823 hul onafhanklikheid van Meksiko verklaar en die Federale Republiek van Sentraal-Amerika gestig wat in 1838 ontbind is.
Kort nadat Meksiko sy onafhanklikheid van Spanje verklaar het, het Spanje tot in 1829 Meksiko vanuit Kuba probeer herower. Nadat dit misluk het, het Spanje op 28 Desember 1836 amptelik die Meksikaanse onafhanklikheid erken.
Kaarte
Sien ook Nieu-Engeland Nieu-Frankryk Nieu-Nederland Nieu-Swede
Bronnelys
Eksterne skakels
Kategorie:Geskiedenis van Belize Kategorie:Geskiedenis van Costa Rica Kategorie:Geskiedenis van El Salvador Kategorie:Geskiedenis van Kanada Kategorie:Geskiedenis van Kuba Kategorie:Geskiedenis van Meksiko Kategorie:Geskiedenis van die Filippyne Kategorie:Geskiedenis van die Verenigde State van Amerika Kategorie:Geskiedenis van Guatemala Kategorie:Geskiedenis van Honduras Kategorie:Geskiedenis van Nicaragua Kategorie:Voormalige Spaanse kolonies Kategorie:Voormalige monargieë van Asië