Martha Mabel Jansen (gebore Pellissier, Bethulie, 1 November 1889 – Pretoria, 8 Januarie 1979) was ’n Suid-Afrikaanse opvoedkundige, skrywer, joernalis, kultuurleier, politikus en baanbreker in die bevordering van Afrikaans, asook die eggenote van die voorlaaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, dr. E.G. Jansen. Haar grafskrif in die begraafplaas in Centurion lui: "Gelowend in God het sy haar volk met eer gedien."Foto van haar grafsteen op die webtuiste van die Genealogiese Vereniging. URL besoek op 16 Julie 2013.

Sy het haar lewe lank onwrikbaar getrou aan haar beginsels gebly, dermate dat toe haar man genl. J.B.M. Hertzog in 1933 uit die Nasionale Party tot in die Verenigde Party volg, sy 'n Nasionalis gebly het tot dr. Jansen in 1939 op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog teruggekeer het na die party waaraan sy vrou deurentyd getrou was en wat sy help opbou het ná die samesmelting ses jaar vantevore.

Agtergrond duimnael|links|170px|Ds. Piet Roux, van Julie 1853 tot April 1875 die NG gemeente Smithfield in die Suid-Vrystaat se eerste leraar en Mabel Jansen se oupa aan moederskant.

Mabel was ’n dogter van Samuel Henri Pellissier (19 Julie 1850 – 29 Julie 1921) en 'n kleindogter van eerw. Jean Pellissier, ’n Franse sendeling wat in 1831 in Suid-Afrika aangekom het en die Londense Sendinggenootskap se sendingstasie op die teenswoordige Bethulie in die Suid-Vrystaat namens die Franse Sendinggenootskap kom oorneem het nadat eerw. Clark die werk in Julie 1833 as hopeloos laat vaar het. Haar moeder, Josephine Elise Johanna Roux (2 Desember 1857 – 28 Junie 1907), was ’n dogter van ds. Piet Roux (George, 3 November 1825 – Drieankerbaai, 11 September 1913), die eerste leraar (in 1853 bevestig) en grondlegger van die NG gemeente Smithfield, ook in die Suid-Vrystaat. Roux was die eerste konsulent van Bethulie se NG gemeente nadat dit in 1862 gestig is. Jansen se een broer was dr. George Murray Pellissier (1881–1954), agtereenvolgens predikant van NG gemeente Pietermaritzburg, Dundee, Carolina en later professor in die teologie aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit teologie (afdeling B). 'n Ander broer was die stigter van die Volkspelebeweging, dr. Samuel Henri Pellissier. Haar ander sibbes was Carl Roux en Josephine Elizabeth.

Opleiding Sy ontvang haar vroegste skoolopleiding op Bethulie en gaan vir st. 8 Riversdal toe. St. 9 en matriek voltooi sy aan die Hoërskool Meisieskool in die Paarl, staan eerste in die seniorsertifikaateksamen in Suid-Afrika, en studeer aan die Hugenote-kollege op Wellington, toe dit nog ’n universiteitskollege was, waar sy die graad M.A. verwerf met Grieks en Latyn as hoofvakke. Ná ’n jaar as onderwyseres is sy aangestel as lektrise aan die Opleidingskollege in Pietermaritzburg.

Sy trou in 1912 met adv. E.G. Jansen, wat in 1906 as prokureur in Pietermaritzburg begin praktiseer het en later as advokaat tot die balie toegelaat is. Haar man het toe reeds in die oorwegend Engelssprekende Natal ’n leidende rol in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gespeel. Hy was prominent in die kultuur-historiese verenigingslewe van dié provinsie en het onder meer in die besture van die Debats- en Letterkundige Vereniging van Pietermaritzburg gedien, wat hy in 1908 gestig het, en ook van die Voortrekkermuseumkomitee. Hy het die stigting van soortgelyke verenigings elders in die Tuinprovinsie aangemoedig, wat in Maart 1910 saamgebind is in die Unie van Debatsverenigingen. Twee jaar ná hul huwelik het die Unie van Debatsverenigingen weer gelei tot die stigting van De Organisatie van Hollandse Taalvrienden.

Net een kind is uit hierdie huwelik gebore, Erns Louis Jansen, wat ’n Transvaalse regter en later appèlregter geword het en oorlede is in Pretoria op 23 Mei 2011. Een van sy drie dogters, adv. Mabel Jansen, SC, het in haar oupa en pa se regsvoetspore gevolg en was van 2003 tot 2004 voorsitter van die Pretoriase Balieraad. Die ander twee dogters is Erna Heyns en Christine Loubser. Ten tyde van sy dood was daar sewe kleinkinders.

Kultuurwerk Saamwerkunie duimnael|330px|J.H. Pierneef het dié skildery van die Geloftekerkie (sien NG gemeente Pietermaritzburg) omstreeks 1938 geskilder toe dit in die Huisgenoot verskyn het. Mabel Jansen, haar broer, ds. George Murray Pellissier, en haar man, adv. E.G. Jansen, het die kerkie gered. Jansen het van omstreeks 1917 tot 1929 baanbrekerswerk in Natal gedoen. Haar taalaanvoeling het sy waarskynlik by haar oupa geërf, aangesien eerw. Pellissier, hoewel hy Frans was, elke Sondag op Bethulie een preek in die inboorlinge se taal en een in Nederlands gelewer het. Hoofsaaklik deur haar onvermoeide ywer as bestuurslid van die Saamwerk-Unie van Natal is daar begin met Afrikaanse taaleksamens, wat wyer uitgekring het tot dit van omstreeks 1920 af as die Taalbondeksamens afgelê word.

Die Saamwerkunie van Natalse vereniginge is op 24 Mei 1917 in die Gedenksaal van die NG gemeente Pietermaritzburg onder leiding van adv. Jansen gestig. Die doel was om verskillende verenigings vir Afrikaners in Natal te verenig en sodoende Afrikaners in die provinsie "tot hegte en eendragtige optrede aan te spoor".Swart, dr. M.J. (voorsitter redaksiekomitee). 1980. Afrikaanse kultuuralmanak. Aucklandpark: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.

Op die eerste bestuursvergadering het mev. Jansen die opdrag gekry om ’n skema vir eksamens in Afrikaans op te stel. Sy het dit in September van daardie jaar voorgelê en so is die eerste eksamen in Afrikaans in Suid-Afrika gebore, bogenoemde Taalbondeksamen. Reeds in die eerste jaar van die eksamen het 406 kandidate deelgeneem, onder meer die latere adv. C.R. Swart, die latere regter L.W. Hiemstra en Avril Malan. Oor die doelwit van die eksamens, het Jansen gesê: "Die (Afrikaanse) taal moet groei soos ’n patatrank en die hele Suid-Afrika oorrank".Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 1962

Die taaleksamens het ’n dringende behoefte aan ’n eerste Afrikaanse grammatika laat ontstaan, wat sy in 1917 saam met mnr. C.M. Booysen opgestel het. Omstreeks 1976 het sy oor dié onderneming gesê: "Dit bly vir my ’n verbasende iets dat daar teen die jaar vyftien, sestien nog nooit g’n poging was om ’n grammatika vas te stel nie. Hulle het tog al heelwat Afrikaans geskryf. Wat ek gedoen het, was maar ’n desperate poging om iets daar te stel vir ons leerlinge van die Afrikaanse eksamens, en kon dit maar net op die Nederlandse baseer. Ek weet hier in De Volksstem hierso was eendag so ’n venynige aanval op ons oor die junta in Natal wat hom dit aanmatig om so ’n grammatika te skryf en taaleksamens af te neem. Dit was nou vir hulle vreeslik dat iemand wat nie ’n doktorsgraad het nie, so iets kon aandurf."*Van Wyk, At. 1977. Mev. M.M. Jansen: Pomptrollie en riksja. Nienaber, Stoffel. Tuinprovinsie Natal, 33 – 39. Kaapstad: Tafelberg.

Buiten die Taaleksamen het die Saamwerk-Unie deur sy jaarkongresse en verskillende komitees – die histories kommissie, wedstrydkommissie, uitleenbiblioteekkommissie, Voortrekkerkommissie, besoekkommissie, onderwyskommissie – die Afrikaners in Natal bymekaar gehou, begeester om te werk en stry vir hul regte en erfenis. In Julie 1959, die jaar van Die Wonder van Afrikaans, het die Saamwerk-Unie aan hulle adv. en mev. Jansen elk ’n goue medalje aangebied as huldeblyk van hulle groot kultuurwerk, ’n erkentlikeidsdaad wat hulle besonder geroer het.

SA Akademie duimnael|270px|Die goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen, en sy vrou, Mabel Jansen, omstreeks 1953. In 1920 word sy die eerste vroulike lid van die Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, die latere Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat haar later vereer met lewenslange lidmaatskap. Op die stigtingskongres van die Voortrekker-beweging in die ou stadsaal van Bloemfontein op 30 September 1931 is Jansen verkies tot provinsiale leier vir Natal nadat sy ’n leidende rol in die stigting gespeel het. Later was sy ook onderleier in Transvaal. Sy het in die bestuur van die Kruger-komitee, die Unievlagkomitee en die Argiefkomitee gedien en was ook lid van die Handhawersbond. Met die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge in 1929 word sy die eerste vroulike lid van die uitvoerende komitee en behou dié onderskeiding dekades lank. Sy dien as lid tot 1935 en op 11 Julie 1974 ken die F.A.K. aan haar die Erepenning vir Volksdiens toe.

Voortrekkerbeweging Jansen was ten nouste betrokke by die stigting van die Voortrekkerbeweging op 30 September 1931 in die ou stadsaal in Bloemfontein.Beeld, 10 November 1989, berig oor stigting Dr. N.J. van der Merwe was voorsitter van die vergadering terwyl ds. J.D. Kestell (Vader Kestell) ’n gebed gedoen het. Van der Merwe het die doel en strewe van die te stigte beweging uiteengesit. Op die verhoog was van die mees vooraanstaande Afrikaners van destyds: mev. Jansen, haar neef en leier van die Volkspelebeweging, dr. S.H. Pellissier, mev. Rachel Steyn, weduwee van oudpres. M.T. Steyn, die eerste minister van die Unie, genl. J.B.M. Hertzog, dr. C.F. Visser, ’n Vrystaatse opvoedkundige en mnr. (later dr.) Japie de V. Heese. Genl. Hertzog het die kongres toegespreek en gesê: “Hierdie vereniging mag nie ’n mislukking wees nie. As dit 'n mislukking moet wees, dan is ons nou besig om die grootste klap aan die volk van Suid-Afrika te gee wat hom nog ooit toegedien is. Want daar sal nooit weer 'n begin van dié aard gemaak kan word nie.” Van der Merwe, ’n predikant en later lid van die Volksraad, is gekies tot eerste hoofleier. Hy was ook voorsitter van die F.A.K. en sedert 1933 leier van die Nasionale Party in die Vrystaat. Tydens die stigtingskongres is mev. Janse tot provinsiale leier van Natal verkies. Later was sy ook onderleier, ’n pos wat altyd deur ’n vrou beklee moes word, in Transvaal.

Jansen was ook sekretaresse van die Christelike Vrouevereniging van Natal, Sondagskoolonderwyseres en kerkorreliste.

Onderwyseres duimnael|280px|Mabel Jansen onthul ’n monument op Wolmaransstad ter ere van Voortrekkerleiers in 1949, tydens die opmars van die Rapportryers na Monumenthoogte om die Voortrekkermonument in te wy. Jansen het nie net op taalgebied baanbrekerswerk gedoen nie, maar ook op onderwys- en welsyngebied. Voortgesette onderwys is onder die spoorwegwerkers van Natal gebore en Mabel Janses was die skepper daarvan.

Van 1924 af, met die Pakt-regering bestaande uit genl. J.B.M. Hertzog se Nasionale Party en die Arbeidersparty aan bewind, het die regering begin om verarmde Afrikaners, veral van die Witwatersrand, as spoorwegwerkers na Natal te stuur om sodoende die armblankevraagstuk te bekamp. Mabel Jansen het ingespring en vir dié ontheemdes verblyf in die saal van die NG gemeente Pietermaritzburg gereël. Kenmerkend van haar sterk persoonlikheid en vasberadenheid het sy alle teenstand weggepraat en ’n eertydse swart kampong in ’n netjiese tydelike hostel laat omskep en self eetgerei, meubels en gordyne gekollekteer. Dit was die eerste spoorweghostel in die land, is later herbou en na haar genoem. Bygestaan deur haar kollegas in die Nasionale Vroue-partye van Natal en prof. Gawie Nienaber het sy die spoorwegwerkers besoek, gehelp en Kersfees vir hulle vreugdevol probeer maak.