Elize Cawood (28 Junie 1952 - 18 Julie 2020) was ’n Suid-Afrikaanse aktrise. Haar bekendste TV-rol is waarskynlik dié van Pop in Verspeelde lente (1984) en op die silwerdoek teenoor Marius Weyers en Peter Sepuma as die ryk Afrikaanse vrou in Taxi to Soweto. Sy was ook te sien in flieks soos Die wonderwerker (2012) en Lien se lankstaanskoene (2012).HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Cawood het talle pryse vir haar rolle ingepalm, onder andere Beste Aktrise in 'n dramareeks in 1984 en 1985, Beste Vroulike Byspeler in die Vita-, Dalro-, Scenaria- en Artes-toekennings, asook Beste Aktrise in die sepie Villa Rosa in 2007.Profiel op ESAT, besoek op 12 Junie 2017

Lewensloop Elize Cawood is in 1952 gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Daarna studeer sy drama aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar sy haar B.A.-graad verwerf het.

Cawood begin haar loopbaan in 1974 by die destydse Sukovs. Sy speel onder meer in Paul Ziller se The Effect of Gamma Rays (onder regie van Ernst Eloff) en Bertolt Brecht se Die goeie mens van Setzuan (onder regie van William Egan). Sy het ook in skole- en biblioteekprogramme opgetree.

Later werk sy by Truk en word hierna 'n vryskutspeler. Op die verhoog raak sy veral bekend waar sy die rol van Olive Schreiner vertolk in Stephen Gray se Schreiner — A One Woman Play (onder regie van Lucille Gillwald), as Elsa in die debuutproduksie van Athol Fugard se Road to Mecca in die Markteater in Johannesburg, en as Stella in Tennessee Williams se Die trem se naam: Begeerte (vertaal deur Lucas Malan en geregisseer deur Bobby Heany).

Sy is in 1982 met die akteur Wilson Dunster getroud, saam met wie sy te sien was in Paul Slabolepszy se The Art Of Charf en Dinner For One. Haar broer Bromley is ’n rolprent- en televisieregisseur, en haar dogter, Jenna Dunster, is ook 'n aktrise.

Filmografie Wat jy saai, 1979 Les visiteurs, 1980 (TV-minireeks) Verspeelde lente, 1983 (TV-minireeks) Arme moordenaar, 1986 (TV-fliek) Wolwedans in die skemer, 1987 (TV-reeks) The Fourth Reich, 1990 as Romy Taillard Taxi to Soweto, 1991 as Jessica du Toit Daisy de melker, 1993 (TV-fliek) as Ethel Balderow Lyklollery, 2001 as die TV-lisensiedame The Long Run, 2001 as Mrs. Suiker Red Dust, 2004 as Anna Hoffman Proesstraat, 2010 (TV-komediereeks) Liefling, 2010 as Ouma Elsa Ferreira Die wonderwerker, 2012 as Maria van Rooyen Lien se lankstaanskoene, 2013 as Roos Dis ek, Anna, 2015 as advokaat Gouws Sy klink soos lente, 2016 as tannie Martie Vir altyd, 2016 as ouma Betsie van Zyl Vir die voëls, 2016 as ouma Martie Konings en die opvolg Torings (TV-dramareekse)

Verwysings

Eksterne skakels

Elize Cawood op IMDb

Kategorie:Sterftes in 2020 Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises van die 20ste eeu Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises van die 21ste eeu Kategorie:Alumni van Hoërskool Sentraal, Bloemfontein Kategorie:Geboortes in 1952 Kategorie:Alumni van die Universiteit van die Vrystaat