Die Slag van Guadalcanal het tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Salomonseilande tussen Japannese magte en Geallieerde magte plaasgevind. Dit was die eerste offensief wat die Geallieerdes teen Japan na die aanval op Pearl Harbor en Slag van Midway gevoer het. Die slag is bekend vir die bittere gevegte op land en verskeie seegevegte tussen die twee lande se vlote.
Op 7 Augustus 1942 het 19 000 Amerikaanse seesoldate onder bevel van Majoor-generaal Alexander A. Vandegrift op die eilande Tulagi en Guadalcanal geland. Tulagi is binne 'n paar dae oorgeneem. Op Guadalcanal het die seesoldate die vliegveld (daarna Henderson-vliegveld genoem) binne 'n paar dae oorgeneem en in bedryf gestel. Daarna het dit hulle nog maande geneem om die strawwe Japannese weerstand deur bloedige gevegte te oorkom en die eiland oor te neem. Die Japannese het op 7 Februarie 1943 finaal van die eiland onttrek en op 9 Februarie 1943 het die Geallieerdes die eiland veilig verklaar.
Seeslagte om en by Guadalcanal Daar was verskeie gevegte tussen die Geallieerde en Japanese vlote tydens die slag. Party van die seeslagte het by Guadalcanal plaasgevind, terwyl ander verder van die eiland was soos die twee magte mekaar se versterkings en logistieke planne in die wiele probeer ry het. Die Japanese Vloot het ook tevergeefs probeer om Henderson-vliegveld te bombardeer.
9 Augustus 1942 – Seeslag van Savo-eiland. 23-25 Augustus 1942 – Seeslag van die Oostelike Salomonseilande. 11-12 Oktober 1942 – Seeslag van Kaap Esperance 26-27 Oktober 1942 – Seeslag van Santa Cruz 12 November 1942 – Aksie suid van Savo-eiland 14-15 November 1942 – Tweede aksie van Savo-eiland 30 November – 1 Desember 1942 – Seeslag van Tassafaronga
Bron The Encyclopedia of Sea Warfare. Spring Books. 1975.
Kategorie:Geskiedenis van Australië Kategorie:Geskiedenis van die Verenigde Koninkryk Kategorie:Geskiedenis van die Verenigde State van Amerika Kategorie:Geskiedenis van Japan Kategorie:Geskiedenis van Nieu-Seeland Kategorie:Salomonseilande Guadalcanal