Peter Blum (4 Mei 1925 – 5 Desember 1990) was 'n omstrede Afrikaanse digter. Hy is weens sy teenkanting teen die destydse beleid van apartheid twee keer Suid-Afrikaanse burgerskap geweier.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Blum arriveer op die ouderdom van twaalf in Suid-Afrika, en was toe reeds verskeie tale magtig, insluitende Duits en Italiaans. Hy gaan skool in Durban en Johannesburg en studeer daarna by die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad. Vanaf 1949 werk hy as bibliotekaris in Kaapstad en later in Kroonstad. In 1955 trou hy met Henrietta Cecilia Smit, 'n kunsonderwyseres van Stellenbosch.

Hy publiseer verskeie artikels en ontvang erkenning vir sy gedigte. In 1956 word hy met die Reina Prinsen Geerligs-prys vir Steenbok tot poolsee bekroon. Hy skryf ook resensies vir Die Burger en vertaal verskeie werke in Afrikaans, onder andere vanuit Frans (werke van Apollinaire, Anouilh en Baudelaire).

Een van sy bekendste essays, Hoe ek dekadent geword het, verskyn in die Oktober 1956 uitgawe van Standpunte. Ten spyte van sy baanbrekerswerk ontvang hy nie Suid-Afrikaanse burgerskap nie. Hy is diep teleurgesteld en draai sy rug op Afrikaans en die Afrikaanse kultuur, en trek saam met sy vrou na Londen, waar hy in eensaamheid en armoede sterf.

Lewe en werk

Vroeë lewe en werk Peter Emil Julius Blum is op 4 Mei 1925 in Wene, Oostenryk geborehttp://www.litnet.co.za/peter-blum-1925-1990/ uit Duits-Joodse ouers (Joseph Blum en Paula Levi). As kind in Duitsland en Switserland maak hy reeds kennis met verskillende tale (Duits, Engels, Frans en Italiaans) wat hy met mindere of meerdere mate van gemak beheer. Waarskynlik as gevolg van verswakkende toestande in Duitsland in die lig van die opkoms van Nasionaal-Sosialisme en die anti-Semitiese beleid van die Duitse regering, kom hy in 1937 op twaalfjarige leeftyd saam met sy gesin na Suid-Afrika. Hulle vestig hulle eers in Johannesburg, maar later in Durban, waar Peter skoolgaan en in 1942 aan ’n Engelstalige hoërskool matrikuleer. In sy matriekjaar is hy die enigste Durbanse skolier wat die Hoër Taalbondeksamen in Afrikaans met onderskeiding aflê. Omdat Blum ’n afkeer het van die Engelse koloniale mentaliteit wat hy in Durban ervaar, verkies hy vir sy verdere opleiding ’n Afrikaanstalige inrigting en skryf hom in 1943 by die Universiteit van Stellenbosch vir ’n B.A.-graad in, waar hy onder andere skrywers soos Jan Rabie en H.W. Truter leer ken. Hy raak ook bevriend met Jac A. Louw, later professor in Afrikatale aan die Universiteit van Suid-Afrika, met wie hy vir ’n lang tyd briewe wissel. Hoewel sy punte uitstekend is, ontvang hy weens onvoldoende klasbywoning nie ’n predikaat van die professor vir Afrika-tale nie en word sy graad dus nie toegeken nie. Einde 1945 staak hy derhalwe sy studies en gaan hy na Johannesburg waar sy moeder intussen weer in die voorstad Melrose gevestig is.

Blum se vader, ’n psigiater, doen waarskynlik as gevolg van die probleme wat met die ontworteling uit sy land van herkoms en die moeilike aanpassing in ’n vreemde land gepaard gaan, ’n geestesongesteldheid op en word opgeneem in ’n Johannesburgse sielsieke-inrigting, waar hy vroeg in die vyftigerjare oorlede is. Blum het waarskynlik die toestand van sy vader as sosiaal problematies beskou en versin die leuen dat sy vader in 1938 in ’n motorongeluk oorlede is. Sy moeder knoop na Blum se terugkeer ’n verhouding aan met Willi Rosenstein, ’n boer van Rustenburg, waarheen sy verhuis. Hierdie verhouding dra nie Blum se goedkeuring nie en hy beweer selfs dat sy moeder vroeër in hom belanggestel het. Hoewel die waarheid van die bewering onmoontlik vasgestel kan word, is dit aanduidend van die komplekse verhouding wat daar tussen hom en sy moeder bestaan het.

Loopbaan en studies Teen middel 1947 woon Blum alleen in Kensington, waar hy sekretaris is van ’n jeugklub, ’n bymekaarkomplek vir jongmense waar goedkoop etes verskaf en sosiale byeenkomste gehou word. In Augustus 1947 word hy verkies tot voorsitter van die klubkomitee. Hier leer hy vir Bartho Smit ken en maak weer kennis met Jan Rabie. Met Jan Rabie korrespondeer hy hierna gereeld en hierdie kontak duur voort tot in die laat vyftigerjare. Later verhuis Blum na ’n goedkoper kamer in Rosettenville in Johannesburg. In 1948 trek hy Kaapstad toe en studeer tot 1950 aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy die Diploma in Biblioteekwese verwerf met ’n verhandeling oor The Union native policy in government legislation and publications 1910–1948. In 1949 aanvaar hy ’n betrekking by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad, waar hy in beheer is van die biblioteekdienste vir bruin mense.http://www.esaach.org.za/index.php?title=Blum,_Peter In hierdie tyd bly hy in ’n woonstel in die Tuine. Vroeg in 1950 maak hy in Kaapstad kennis met Ina Rousseau, met wie hy tussen Februarie en September 1950 ’n kortstondige verhouding het. Sy virtuose taalbeheer is duidelik uit die briewe wat hy vir haar skryf en in die adres-op-rym wat hy op die koeverte skryf. Ina besef egter dat die verhouding weens Blum se komplekse persoonlikheid nie kans het op langdurige oorlewing nie en sy beëindig dit.

Blum hervat sy onderbroke B.A.-studies in 1954 aan die Universiteit van Stellenbosch en voltooi in 1955 die B.A.-graad met lof, met Engels en Duits as hoofvakke en Afrikaans-Nederlands op tweedejaarsvlak. Hy trou op 29 Maart 1956 in die landdroskantoor in die Strand met Henriëtta Cecilia (Hetta) Smit, ’n kunsonderwyseres van Stellenbosch, wat op 3 November 1914 in die distrik Hopefield gebore is en dus amper twaalf jaar ouer as hy is. Aan die einde van 1956 lê hy by die Universiteit van Kaapstad die eksamen af vir sy B.A. Honneurs-graad in Engels. Vanaf Januarie 1957 tot Junie 1959 is hy bibliotekaris op Kroonstad, waarna hy terugkeer na Kaapstad en hy en sy vrou ’n woonstel in Wynberg betrek. Hier het hy geen vaste werk nie, maar skryf gereeld artikels vir Die Burger se kunsbladsye en hy resenseer ook enkele boeke.

Van meet af is hy ’n omstrede figuur in die Afrikaanse letterkunde. Sy eerste bundel, Steenbok tot poolsee, kry hoë lof van N.P. van Wyk Louw en beïndruk die keurder, D.J. Opperman, terwyl Ernst Lindenberg ook ’n positiewe resensie skryf. T.T. Cloete is egter baie negatief gestem teenoor die bundel in sy resensie, terwyl in Johannesburg die Afrikaanse Skrywerskring van C.M. van den Heever en S. Ignatius Mocke hulle daarvoor beywer dat die Nasionale Boekhandel die hele oplaag aan verspreiding moet onttrek. Die skrywer J. Nel van der Merwe, indertyd onderwyser en bibliotekaris aan Helpmekaar Hoërskool, lei die aanslag. Dit is veral Blum se oneerbiedige siening van die Voortrekkermonument in die gedig “Oor monnemente gepraat” wat vir hulle aanstoot gee. Blum se tweede bundel, Enklaves van die lig, stuur hy in 1957 aan Koos Human by Nasionale Boekhandel vir publikasie, wat dit aan J. du P. Scholtz voorlê vir keuring, aangesien D.J. Opperman indertyd oorsee was. Scholtz het egter besware teen veral die groot aantal neologismes in die bundel en daar word gewag vir Opperman se terugkeer vir ’n finale mening. Opperman en Scholtz is eindelik nie ten gunste van publikasie van die bundel in sy oorspronklike formaat nie en hulle raai Blum aan om verskeie veranderinge te maak. Blum interpreteer hierdie versoek as afkeuring, weier om sy werk te verander en daar ontstaan ’n bitterheid by hom teen die Afrikaanse letterkundige elite, hoewel A.A. Balkema tog na ’n paar veranderings die digbundel aanvaar vir publikasie. Die Letterkundige Kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beveel Enklaves van die lig in 1959 aan vir bekroning met die Hertzogprys, maar die Fakulteitsraad besluit om hierdie jaar geen bekroning te maak nie. Dat Blum heimlik gehoop en gereken het op bekroning en dus afgehaal voel dat dit nie gebeur het nie, blyk uit uitlatings wat hy onder andere in ’n brief aan Ernst Lindenberg maak.

S.A. Burgerskap Blum doen reeds in 1948 aansoek om naturalisasie as Suid-Afrikaanse burger, maar dit word sonder opgaaf van redes geweier. Latere navraag by die Departement van Binnelandse Sake onthul dat hy nie op daardie stadium gekwalifiseer het vir burgerskap nie, aangesien hy tydens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog steeds ’n Duitse burger was en volgens die destyds geldende wette kon vyandsonderdane nie Suid-Afrikaanse burgers word nie. Hierdie beswaar is egter nie geldig nie, want die Tweede Wêreldoorlog het reeds in 1945 geëindig en het daarna verval. Blum voldoen egter nie aan ’n ander bepaling nie, wat vereis dat naturalisasie van vreemdelinge onder vyftig jaar slegs oorweeg sal word as hulle militêre diens verrig het of medies ongeskik verklaar is vir militêre diens. Hy het verder ’n misdaadrekord gehad omdat hy skuldig bevind is daaraan dat hy Swaziland onder ’n vals naam en sonder die nodige permitte binnegegaan het. Hy het selfs ’n rukkie in die tronk deurgebring en is in ’n Swazilandse hof skuldig bevind, maar het ontkennend geantwoord op sy aansoekvorm of hy voorheen aan enige oortreding skuldig bevind is.

Toe ’n verdere aansoek wat hy in 1959 indien, lank sloer, verlaat hy en sy vrou Suid-Afrika op 18 Mei 1960 en vestig hulle in Engeland. Die Departement van Binnelandse sake ontken egter dat hy ooit ’n tweede aansoek ingedien het. Die prokureursfirma J.S. de Villiers en Seun wat namens Blum optree, het wel navraag gedoen of hy weer om naturalisasie kon aansoek doen en die nodige aansoekvorm is aan hom gestuur. ’n Voltooide aansoekvorm is nie terug ontvang nie. Daar was egter verdere briefwisseling en navrae, wat Blum waarskynlik laat vermoed het dat sy tweede aansoek dieselfde pad as die eerste een sal loop. Waarskynlik om homself die vernedering van nog ’n summiere weiering sonder opgaaf van redes te bespaar, besluit hy dus om die land te verlaat. Hy besit in hierdie stadium geen Oostenrykse paspoort nie en die owerhede staan aan hom Suid-Afrikaanse reisdokumente toe. Ander faktore wat moontlik ’n rol kon speel in sy besluit om die land te verlaat, is die politieke onrus na die Sharpeville-onluste op 21 Maart 1960 en die aanslag op die Eerste Minister, H.F. Verwoerd, se lewe op 9 April 1960. Blum en Hetta stel doelbewus niemand in kennis van hulle besluit om te emigreer nie en het slegs die dag voor hulle vertrek Hetta se ouers in die Paarl gaan groet.

Europese verblyf Aanvanklik reis hy en sy vrou gereeld deur die Engelse platteland en besoek ook die vasteland van Europa (onder andere Nederland, Duitsland en Portugal) maar hierdie aktiwiteite word gefinansier deur ’n erfporsie van Blum se tante wat mettertyd opraak en hulle reis dus al hoe minder. Vir ’n ruk gee sy vrou onderwys by een van die East End-skole in Londen,http://www.stellenboschwriters.com/blump.html waar sy die kinders baie ongedissiplineerd vind en as resultaat begin ly aan senuweeprobleme. In die laat jare sestig moet sy weer begin werk om hulle karige inkomste aan te vul, maar die enigste betrekking wat sy kan kry, is skoonmaakwerk. Aanvanklik bly die Blums in die gegoede Londense buurt Hampstead, maar moet later verhuis na ’n goedkoper tuiste in die suidooste van die stad. Eindelik kom hulle tereg in ’n gemeenskaplike huis in Brentford in die London Borough of Hounslow.