Koring is 'n groep van wilde en gedomestikeerde grasse van die genus Triticum (). Dit is een van die vernaamste grane waarmee die mensdom homself voed, oorspronklik vanuit die Levantgebied in die Midde-Ooste en die Ethiopiese hooglande, maar wat nou dwarsoor die wêreld verbou word.
Koring word op 'n groter landoppervlakte verbou as enige ander voedselgewas (220,4 miljoen hektaar in 2014). Die wêreldhandel in koring is groter as die totaal van al die ander gewasse gekombineer. In 2017 was die wêreldproduksie van koring 772 megaton, met 'n vooruitskatting van 766 megaton vir 2019, wat dit die tweede mees geproduseerde graan naas mielies maak, met rys in 'n knap derde plek.World Wheat, Corn and Rice , Oklahoma State University
Sedert 1960 het die wêreldproduksie van koring en ander graangewasse verdriedubbel en sal na verwagting verder groei teen die middel van die 21ste eeu. Die wêreldwye vraag na koring neem toe as gevolg van die unieke visko-elastiese en kleefeienskappe van gluten proteïene, wat die produksie van verwerkte voedsel vergemaklik, waarvan die verbruik toeneem as gevolg van die wêreldwye industrialiseringsproses en die verwestering van die mens se dieetpatroon.
Oorsprong Koring is ook een van die oudste gedomestikeerde plante. Die temming van koring vind waarskynlik reeds ongeveer 10 000 jaar gelede plaas in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, van Sirië tot Kasjmir en na die suide tot in Ethiopië. Teen ongeveer 5 000 jaar gelede het koringverbouing ook die grootste deel van Europa bereik.Koring as landbougewas, myfundi.co.za Twee millenia later het die Chinese met die gewas kennis gemaak. Met die koms van seevaart, het koring na die Nuwe Wêreld en die Suidelike Halfrond versprei.
Verbouing Koring is 'n eenjarige gewas. Vir eeue heen word daar al teling gedoen om beter koringkultivars te probeer skep. Daar is byvoorbeeld winterkoring wat in die herfs geplant word en veral geskik is vir broodmeel, en lentekoring wat vir sagte gebak soos koek gebruik word. In die 20ste eeu is 'n buitengewone Japannese kultivar gebruik om korter, meer windbestande plante te teel.
In Suid-Afrika is daar minder onderskeid tussen winter- en lentekoring as in kouer lande en word die meeste koring in die herfs gesaai. Koring , mieliestronk.com
Koring word in bykans elke provinsie in Suid-Afrika verbou, wat 'n bewys van die gewas se besondere aanpasbaarheid is. Die Wes-Kaap, Vrystaat en Gauteng is groot koringproduserende gebiede.
Die saad kom voor in die vorm van are, en ongeag die soort, dra die meeste koringare van dertig tot vyftig korrels.
Koring word op ploeglande gesaai en deur groot stropers geoes wat die koringare afsny en die koringkorrels van die res van die plant skei. Die oorblyfsels van die gedorste graan word kaf genoem.
Koring behoort tot die grasfamilie (Poaceae, vroeër bekend as Gramineae), wat meer as 660 genera en 10 000 spesies insluit. Sowat 170 genera van hierdie familie kom in Suid-Afrika voor. Die genus Triticum, die belangrikste graansoort ter wêreld, kom waarskynlik oorspronklik van Mesopotamië (die huidige Irak). Die belangrikste spesies is Triticum vulgare, Triticum durum, Triticum turgidum en Triticum polonicum. Triticum vulgare (broodkoring) is die spesie wat die meeste in Suid-Afrika verbou word. Koring is 'n kruidagtige eenjaarplant wat korrelagtige sade voortbring nadat die wit blomme bevrug is.
Hoewel koring by uitstek ʼn wintergewas is, word sogenaamde lente- en somerkoring ook as variëteite aangetref. Met die volksplanting in 1652 is koring vir die eerste keer aan die suidpunt van Afrika gesaai en vandag is koring een van Suid-Afrika se belangrikste landbouprodukte. Suid-Afrika produseer jaarliks tussen 1,5 en 2,5 miljoen ton koring. Die Koringraad oefen beheer uit oor die produksie van koring in Suid-Afrika en stel die pryse van koring, brood en meel vas. Die Regering subsidieer die prys van broodmeel om die broodprys so laag moontlik te hou aangesien brood een van Suid-Afrika se stapelvoedselsoorte is.
Geskiedenis Koring speel reeds sedert die volksplanting in 1652 'n belangrike rol in die geskiedenis van Suid-Afrika. Een van Jan van Riebeeck se opdragte was om vars produkte aan verbygaande skepe te verskaf. Die eerste paar koringoeste het egter misluk vanweë verspoelings in die Kompanjiestuin en sterk suidoosterwinde. Vier jaar later het Van Riebeeck koring wat die eerste geslaagde koringoes sou lewer, teen die hange van Tafelberg laat saai waar Rondebosch vandag is.
Die eerste meulenaar, Wouter Mostert, het sy eie meul langs die Varsrivier opgerig. Dit het egter byna 60 jaar geduur voordat die Kaapse nedersetting geheel en al selfonderhoudend was en terselfdertyd verbyvarende skepe van vars produkte kon voorsien. Die koringverbouing het 'n sukkelbestaan gevoer vanweë droogtes en verskeie insekteplae, terwyl wanbestuur en korrupsie dikwels aan die orde van die dag was. Mettertyd het die oeste egter beter en bestendiger geword.
Die koringstreke het met verloop van tyd uitgebrei na die Swartland, Noordoos-Kaap, die Oos-Vrystaat en die destydse Transvaal. Koring is egter nooit in Natal verbou nie omdat die klimaat nie gunstig is nie. Die regering het koringverbouing deurentyd aangemoedig maar die gehalte en opbrengs het van jaar tot jaar gewissel. Die koringprys was ook baie wisselvallig en in 'n poging om die boere te help, het die regering in 1935 'n beheerliggaam, die Koringraad, tot stand gebring.
Die ou Koringraad Die destydse Koringraad is in 1935 gestig en was een van die eerste beheerliggame vir landbouprodukte in Suid-Afrika. Die raad het volle bevoegdheid gehad om beheer uit te oefen oor die aankoop en verkoop van koring, asook oor die maal- en bakkersbedryf. Die beginsel van vraag en aanbod was streng toegepas en die raad moes die koringboer adviseer ten opsigte van onder meer die beste variëteite vir ʼn bepaalde streek. In die laboratoria was brood voortdurend aan streng toetse onderwerp om te verseker dat die gehalte by bakkerye nie verswak nie.
In oorleg met die Minister van Landbou en Visserye het die raad elke jaar die prys van die koring vasgestel. Baie faktore is betrokke by die bepaling van die prys, onder meer vraag en aanbod, en die prys van kunsmis, brandstof, ensovoorts. ‘n Ander plig van die raad was die vasstelling van die brood- en meelprys.
Die raad het op sy beurt koring teen 'n vasgestelde prys aan die meulenaar en in die handel verkoop. Die Koringraad was ook verantwoordelik vir die regulering van die in- en uitvoer van koring as lid van die Internasionale Koringraad. ('n Internasionale Koringooreenkoms het in 1949 tot stand gekom.) In die vroeë sestigerjare moes Suid-Afrika nog koring invoer. Maar rekordoeste het verseker dat die land selfversorgend geword het. Die Koringraad het uit 13 lede bestaan, wat die produsent, die meulenaar, die bakker en die verbruiker verteenwoordig het. Daar was ook afdelings wat tegniese en gespesialiseerde dienste gelewer het.
Ontkieming en groei van die koringplant Koring is 'n eenjarige gewas. Twee seisoensvorms, winter- en lentekoring, word verbou. Hierdie twee vorms verskil hoofsaaklik ten opsigte van saaityd en groeiperiode. Die winterkorings word voor die winter gesaai en begin eers in die lente vinnig groei.
In Kanada en Noord-Europa word dit dikwels in die winter deur sneeu bedek. Lentekoring, daarenteen, word in die winterkoue gesaai en het ‘n baie korter groeiperiode as winterkoring. In Suid-Afrika is daar nie so 'n duidelike skeidslyn tussen winter- en lentekoring as in die kouer lande nie. Hier word die meeste koring in die herfs gesaai. Koring word, afhangende van watter soort grond dit is, ongeveer 50 mm diep gesaai. In kleigrond word dit vlak en in sandgrond diep gesaai.
Sodra die voginhoud en die temperatuur van die grond gunstig is, sal die saad begin swel, wat aantoon dat ontkieming ophande is. Mettertyd bars die saadvel oor die embrio oop en die kiem of saadworteltjie, asook die pluimpie, kom te voorskyn. Eersgenoemde groei afwaarts en vertak in die eerste paar wortels van die jong saailing. (Die permanente wortels ontwikkel mettertyd uit die ondergrondse knope van die stam.) Die pluimpie daarenteen, groei opwaarts en is die begin van die bogrondse deel van die plant.
Die aanvanklike ontwikkeling van die kiemworteltjie en die pluimpie is afhanklik van die opgebergde voedsel in die saad, maar sodra die plant bo die grond verskyn, is sy verdere ontwikkeling te danke aan die proses van fotosintese in die blare en die opname van minerale en water deur die wortels. Die stam van koring is 'n tipiese grashalm en is in knope en litte opgedeel. Daar is gewoonlik sowat ses litte bogronds sigbaar. Op elk van die bogrondse knope ontwikkel ʼn blaar.
Die plant het gewoonlik nie net een stam nie, maar sekondêre syhalmvorming staan bekend as die “stoel” van koring. In baie gunstige omstandighede kan selfs ʼn paar dosyn halms per plant gevorm word, sodat daar uiteindelik ʼn hele aantal are per plant kan wees. Die volwasse plant is 0,5 tot 1,5 m hoog, afhangende van die omgewingstoestande en die variëteite. Die neiging is tans om variëteite te ontwikkel wat nie baie hoog groei nie, aangesien hulle gewoonlik die hoogste opbrengste lewer.
Deursnee van 'n koringkorrel Die koringkorrel is 'n tipiese graanvrug met 'n groot endosperm en 'n klein embrio. 'n Ander kenmerk is dat die saadhuid (testa) vergroei is met die vrugwand (perikarp). 'n Lengtesnit deur die koringkorrel toon die volgende:
Semellaag of saadvel: Hierdie laag dien as beskerming vir die embrio en die endosperm en is taai en houtagtig. Drie afsonderlike weefsellae kan in die semellaag onderskei word, nl. die perikarp heel buite, gevolg deur die testa en die nucellus. Laasgenoemde bestaan net uit een laag selle en is soms heeltemal afwesig. Die semellaag word in die maalproses as semels van die res van die korrel verwyder. Dit vorm 5% tot 9% van die koringkorrel.
Endosperm: Die endosperm, wat altesame 87% tot 94% van die korrel uitmaak, bestaan uit onderskeidelik die aleuronlaag en die melerige endosperm. Eersgenoemde is 'n enkele laag dikwandige selle wat in vergelyking met die res van die endosperm ryk is aan proteïene. Die melerige endosperm maak verreweg die grootste deel van die korrel uit en bestaan uit lang, dunwandige selle, grotendeels met styselkorrels gevul. Proteïenkorrels kom egter ook voor, en hoe meer daar van dit aanwesig is, hoe harder is die endosperm gewoonlik. Die proteïen wat in die endosperm voorkom maak dit vir ons moontlik om brood van koringmeel te bak. Wanneer deeg aangemaak word, vorm hierdie proteïen ‘n taai stof, gluten. Dit dien as 'n netwerk in die deeg en voorkom dat die koolsuurgas wat ontwikkel, sonder meer ontsnap. Die deeg rys dus en 'n goeie, ligte brood word gebak.
Kiem of embrio: Hoewel dit slegs 2% tot 3% van die korrel uitmaak, is dit die deel wat tot 'n nuwe plant ontwikkel as die saad geplant word. Dit is ryk aan proteïen, minerale, vitamiene en ook vet: Vanweë die hoë vetinhoud moet die embrio in die maalproses saam met die semels van die endosperm geskei word, want die vet word galsterig in die meel en sal dit gou bederf.
Verbouing Koring, die belangrikste graansoort ter wêreld, behoort tot die grasfamilie (Poaceae) en die genus Triticum. Daar is verskeie spesies waarvan die volgende die bekendste in Suid-Afrika is: Triticum vulgare (broodkoring). T. durum (harde- of durumkoring), T. Compactum (knopkoring), T. polonicum (Iang of Poolse koring) en T. Turgidum (kort- of Turgidumkoring). T. vulgare is die spesie wat die meeste in Suid-Afrika verbou word. Hoewel die ander drie spesies tog verbou word, is hulle nie van so ʼn goeie gehalte nie. Heelparty variëteite word ook aangetref.
Groei en bou