Prof. John Christoffel Kannemeyer (31 Maart 1939, Robertson, Suid-Afrika - 25 Desember 2011, Stellenbosch, Suid-Afrika) was 'n akademikus, letterkundige en skrywer. Hy is veral bekend vir die biografieë wat hy geskryf het, onder andere die lewensverhale van D.J. Opperman, C.J. Langenhoven, C. Louis Leipoldt, Jan Rabie en Uys Krige. Hy het enkele dae voor sy dood sy laaste biografie, oor die Nobelpryswenner J.M. Coetzee, voltooi.SA-letterkundige sterf op Kersdag , Nuus24, 26 Desember 2011J. C. Kannemeyer op stellenboschwriters.com, besoek op 26 Desember 2011

Lewe en werk

Vroeë lewe John Christoffel Kannemeyer is op 31 Maart 1939 op Robertson gebore as die jongste van twee kinders, albei seuns.http://esat.sun.ac.za/index.php/J.C._Kannemeyer Sy broer Freddie is veertien jaar ouer as hy. Nie een van sy ouers het matriek gemaak nie. Sy pa is op Vanwyksvlei in die Klein Karoo gebore en het later vir slegs ’n paar jaar op Ladismith skoolgegaan. Aanvanklik was hy by die boubedryf betrokke, maar laat vaar hierdie werk weens ’n longkwaal. In 1915 is hy na Robertson, waar hy vrugte, droë vrugte en pluimvee opgekoop en verkoop het. Later jare het hy ’n winkel besit met ’n gasagentskap en koop en bou ’n aantal huise op die dorp, wat hy dan weer verhuur het. Kannemeyer se pa is in Januarie 1972 oorlede. Sy ma, Katie van Zyl, was iemand met ’n sterk emosionele inslag en wisselende buie tussen depressief en uitbundig. Haar ouers en die meeste van haar broers en susters het op Robertson gewoon, sodat Kannemeyer as kind sy moeder se mense veel beter as dié van sy vader geken het. Sy ma is in 1985 oorlede. John gaan skool op sy tuisdorp en matrikuleer dan in 1956 aan Hoërskool Robertson. Op hoërskool is hy aktief in die debatsvereniging en wen die redenaarsbeker in sy matriekjaar.

Opleiding Hy studeer vanaf 1957 aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die B.A.-graad in 1959 verwerf met Afrikaans-Nederlands en Filosofie as hoofvakke en Frans, Latyn, Sosiologie en Sielkunde as byvakke. In sy eerste jaar is hy ’n inwoner van Dagbreekkoshuis, maar loseer vir die res van sy studies privaat. Hy word aan die einde van 1959 verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Studiekring. In 1960 behaal hy die B.A. Honneurs-graad met lof en in 1962 die M.A.-graad met lof met ’n verhandeling oor Die dramatiese spreker in ’n vers: ’n Ondersoek na die primêre strukturerende element in ’n gedig. In 1964 verwerf hy die D.Litt.-graad onder leiding van D.J. Opperman met ’n proefskrif oor http://www.litnet.co.za/kannemeyer-onvergelyklike-leermeester-en-gulhartige-mentor1/Die stem in die literêre kunswerk: ’n Ondersoek na die aanbiedingswyse in die liriese en epiese poësie, die verhalende prosa en die drama, wat later gepubliseer word.http://www.esaach.org.za/index.php?title=Kannemeyer,_John_Christoffel In 1960 en 1961 is hy dosent-assistent vir D.J. Opperman aan die Universiteit van Stellenbosch en in 1962 word hy aangestel as lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.

Hy onderneem ’n bootreis na Europa in 1961 en doen die eiland Las Palmas aan, asook Londen in Engeland, Frankryk, Switserland, Luxemburg, België en Nederland. In hierdie tyd is hy mederedakteur van Inset tussen 1961 en 1962 en mederedakteur van Kriterium vanaf 1963 tot 1966. Reeds vanaf sy studentedae verskyn daar resensies en artikels van hom in Stellenbosse student en Inset en later ook in Die Burger, Die Huisgenoot, Kriterium, Standpunte, Rapport en Oggendblad. In April 1963 trou hy met die Nederlandse Beatrix Marianne Broer en hulle het twee seuns, Johan Mark (gebore 1965) en Anton Christoffel (gebore 1967). Anton verwerf later self bekendheid met sy uitdagende grafiese werke onder die Bitterkomix-vaandel.

Loopbaan as akademikus Vanaf 1 April 1969 is hy senior lektor in die Nederlandse letterkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit. In 1971 neem hy studieverlof en vertrek saam met sy gesin na Europa, waar sy vrou en kinders in Spanje agterbly by haar ouers. Hy bestudeer die Nederlandse letterkunde onder Karel Meeuwese van die Katholieke Universiteit van Nijmegen, terwyl hy ook van hierdie geleentheid gebruik maak om Europa te deurreis en die Skandinawiese lande te besoek. In hierdie tyd verlaat sy vrou hom en keer hy alleen met die kinders terug na Suid-Afrika. Die Universiteit van Kaapstad bied hom nou ’n posisie aan as lektor en hy keer in 1973 terug na Kaapstad. Hy is in 1973 ’n tweede keer getroud, hierdie keer met Estelle, dogter van die gewese eerste minister J.G. Strijdom. Die huwelik is egter ’n mislukking en die egpaar is binne ’n paar maande uitmekaar. In die middel van 1974 trou hy met Althea Roberts van Mosselbaai, wat ’n dogter uit ’n vorige huwelik het. Hulle besoek Europa vir hulle huweliksreis van vyf weke.

Vanaf Januarie 1975 is hy lektor en vanaf 1976 senior lektor in Nederlandse studies aan die Universiteit van Stellenbosch en in hierdie tyd voltooi hy sy in-diepte navorsing vir die skryf van die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Na publikasie van die eerste band van hierdie omvattende studie onderneem hy in Oktober 1978 weer ’n studiereis van drie maande in Europa. Hy is redaksielid van Standpunte en in die tydperk tussen Februarie 1977 tot Desember 1983 is hy eindredakteur van hierdie tydskrif, waarna hy weens werkdrukte bedank.

Vanaf Januarie 1982 tot Maart 1987 is hy professor en hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Wanneer hy hierdie pos aanvaar, verkies sy vrou Althea om in die Kaap agter te bly en eindig die huwelik in ’n egskeiding. Hy trou dan in 1984 met Sugnèt Dekker (néé Kriel), wat saam met hom aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. Hulle onderneem in 1985 ’n reis van twee maande deur Europa. Hy is in 1987 besoekende professor aan die Katholieke Universiteit van Leuven en doen weer navorsing in Amsterdam. In April 1987 aanvaar hy ’n pos as senior navorsingspesialis by die Instituut vir Taal- en Kunstenavorsing van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing in Pretoria. Hierdie pos stel hom in staat om voltyds navorsing te doen. In September 1992 keer hy terug na Stellenbosch, waar hy voltyds navorsing doen en as vryskut werk.

Om Langenhoven se biografie te voltooi, reis hy wyd in die Klein Karoo om met Langenhoven se wêreld vertroud te raak en hy raak entoesiasties oor hierdie streek se unieke geskiedenis, natuurskoon en gasvrye mense. In 1993 neem hy ’n paar kollegas deur hierdie streek op ’n driedaagse Langenhoven-toer, waarna een van sy reisgenote, Wium van Zyl, op die idee kom om hierdie ekskursie aan die groter publiek te bemark. So ontstaan samewerking tussen Kannemeyer as kundige en geestige kommentator en Van Zyl as organiseerder om die publiek op verskeie letterkundige toere op Langenhoven en ander Afrikaanse skrywers se voetspore te neem.

Hy word in 2004 vir drie jaar by die Universiteit van Stellenbosch aangestel as buitengewone professor in Afrikaans en Nederlands, met die taak om Dokumentasiekunde aan nagraadse studente te doseer. By verskeie geleenthede bring hy studiebesoeke aan die Universiteite van Nijmegen, Utrecht, Amsterdam en Leuven, waar hy as gasprofessor lesings aanbied oor die Afrikaanse letterkunde. Om navorsing te doen vir sy biografieë oor Blum, Leipoldt en Krige besoek hy in 1992, 1997, 2001 en 2002 plekke soos Londen, Amsterdam, Spanje, Frankryk en Indonesië, terwyl hy in 1999 gasdosent is aan die universiteite van Wroclaw en Poznan in Pole. Hy is vanaf 1975 lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden. In 2000 is hy vir geruime tyd buite aksie wanneer hy ’n rugoperasie en kort daarna ’n hartomleiding ondergaan. Vir die laaste tien jaar van sy lewe het hy ’n ernstige verhouding met Santa Hofmeyr-Joubert. Hy spandeer sy laaste jare in ’n woonstel in die aftree-oord Agapé op Stellenbosch.http://www.stellenboschwriters.com/kannemey.html

Omstredenheid Sy lewe en werk word gekenmerk deur omstredenheid en hy is gereeld in polemieke betrokke. T.T. Cloete beweer dat hy met die samestelling van sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur ruimskoots menings van ander literatore sonder erkenning oorgeskryf het, waarna ’n uitgerekte publieke meningswisseling plaasvind waarin beide partye, maar veral Kannemeyer, sterk steun verkry van bekende figure in die literêre wêreld. Kannemeyer is duidelik gekrenk deur hierdie aanval op sy integriteit en verwys steeds jare later in openbare toesprake snedig na hierdie voorval. Die familie van die skrywerbroers N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw dreig om regstappe te neem omdat hy kopiereg skend met die publikasie van die briefwisseling tussen die skrywerbroers in die boek “Ek ken jou goed genoeg – Die briewewisseling tussen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw 1936–1939”. By verskeie geleenthede laat hy hom in die openbaar skerp uit teenoor sy akademiese teenstanders, onder andere kort na die dood van A.P. Grové, waar hy nie skroom om die pas oorlede professor steeds by te kom nie. Hy kom ook in botsing met Protea Boekhuis wanneer hy hierdie uitgewer dagvaar weens, wat hy beweer, die wanbetaling van sy tantièmes is. Sy aanklag is dat die uitgewer tantième sou weerhou van die verkope van sy biografie oor Etienne Leroux en dat daar veel meer eksemplare van die boek verkoop is as wat Protea Boekhuis se boekhouding aantoon.

Sterfte Hy is op 25 Desember 2011 in Stellenbosch aan ’n beroerte-aanval oorlede. Die letterkundige professor Wium van Zyl is die eksekuteur van sy boedel. Onder die bepalings van sy testament is dat sy letterkundige dokumente en persoonlike korrespondensie aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk word, waar dit by die Gericke-biblioteek gehuisves word.http://www.litnet.co.za/in-memoriam-afscheid-van-jc/

Skryfwerk Op skool skryf hy gedigte en op laerskool word ’n geleentheidsgedig wat hy vir Kersfees geskryf het, by ’n byeenkoms van die Heilsleër voorgedra. Enkele prosastukke van hom word in die hoërskool se jaarblad gepubliseer. In standerd agt skryf hy ’n brief aan D.J. Opperman om sy bewondering vir “Periandros van Korinthe” uit te spreek en sluit enkele van sy gedigte in vir Opperman se kommentaar, terwyl hy ook gedigte stuur vir Ernst van Heerden. Beide lewer kommentaar op sy gedigte, Opperman met minder skerp kritiek as Van Heerden. Hy besluit egter redelik vroeg in sy loopbaan om eerder sy aandag aan letterkundige kritiek as kreatiewe skryfwerk te wy. Hy is veral bekend vir sy deeglike biografieë van belangrike Afrikaanse skrywers, vir sy literatuurgeskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en vir sy kritiek op nuwe letterkundige werk wat in dagblaaie en tydskrifte verskyn en waarvan talle ook gebundel word. Hierdie werk maak van hom een van die belangrikste literatore in die Afrikaanse letterkundige geskiedenis.

Afrikaanse literatuurgeskiedenis Hy behaal sy doktorsgraad met Die stem van die literêre kunswerk, wat later gepubliseer word. Sy uitgangspunt is dat daar in alle literatuur ’n stem is wat praat en hy ondersoek dan die vraagstukke rondom hierdie stem, soos watter stem praat, wat sê dit, hoe praat dit en hoe affekteer dit die literatuur. Dit is ’n omvangryke studie wat hy met groot deeglikheid voltooi.Antonissen, Rob. Spitsberaad. Nasou Beperk Elsiesrivier Eerste uitgawe Eerste druk 1966 Met Prosakuns lewer hy ’n inleiding tot die tegniek van die prosa en die belangrike elemente waarmee die prosakuns werk. Hy verdeel die boek in afsonderlike besprekings van Gebeure, Karakterisering en Ruimte.Cloete, T.T. Standpunte. Nuwe reeks 80, Desember 1968 Met Op weg na Welgevonden lewer hy die eerste boek kritiek in Afrikaans wat oor slegs een letterkundige werk handel, naamlik ’n ontleding van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins. Nederduitse digkuns bevat ’n inleiding en aantekeninge oor gedigte uit die sewentiende-eeuse Nederlandse poësie.