Shaleen Surtie-Richards (gebore 7 Mei 1955, Upington, Noord-Kaap - 7 Junie 2021, Kaapstad) was 'n Suid-Afrikaanse aktrise. Sy was bekend vir haar rolle as Fiela in die 1988-film Fiela se Kind, Nenna in die TV-reeks Egoli: Plek van Goud en meer onlangs as Fran in Villa Rosa op kykNET.

Vroeë lewe en loopbaan Surtie-Richards is op 7 Mei 1955 op Upington in die Noord-Kaap gebore, en het te Upington en Kaapstad skoolgegaan. Haar pa was 'n skoolhoof en haar ma 'n onderwyseres. Toe sy as kind nie 'n rol in 'n musiekblyspel kon kry nie, het haar pa vir haar 'n klavier gekoop en gereël dat sy klavierlesse neem, sy het ook aan ballet deelgeneem en tennis gespeel.

Sy was 'n gekwalifiseerde onderwyseres en het tussen 1974 en 1984 in Upington en Kaapstad skoolgehou. Sy het aan verskeie verhoogproduksies deelgeneem in hierdie tyd en was ook aktief betrokke by die Departement van Onderwys se Teater-in-onderrig program vanaf 1982 tot 1984. In 1984 het sy met haar professionele loopbaan as aktrise begin.

Sterwe Sy is op Maandag 7 Junie 2021 dood aangetref in 'n gastehuis in Kaapstad. Sy het aan veelvuldige gesondheidsprobleme gely, en haar familie het gerugte ontken dat dit selfmoord kon wees.

Filmografie

Rolprente Fiela se kind as Fiela, 1988 Nag van die negentiende as Maxi, die verteller van die verhaal, 1992 Mama Jack as burgemeesteres, 2005 Egoli: Afrikaners is plesierig as Nenna, 2010 Susanna van Biljon, 2010 Jimmy in pienk, 2013 Agent 2000, 2014 as juffrou Schutte Knysna, 2014 Treurgrond, 2015 as Katie Twee Grade van Moord, 2016 Vaselinetjie, 2017

Televisie Surtie-Richards het 'n prominente rol in die M-Net televisie-sepie, Egoli: Plek van Goud, gehad. Dit was ook Suid-Afrika se eerste sepie en kykers het meegesleur geraak met die karakters se doen en late in die halfuurlange program wat Maandae tot Vrydae uitgesaai was. Vir 18 jaar het Surtie-Richards die rol van Ester (Nenna) Willemse vertolk.

Sy was ook in 'n paar ander televisieprogramme te sien, onder andere die sepies 7de Laan, Villa Rosa en Generations. In 2000 het sy haar eie geselsprogram aangebied, Shaleen, op die M-Net-kanaal.

Vanaf 2006 tot 2010 was Surtie-Richards ook 'n beoordelaar vir die televisie kompetisiereeks, Supersterre.

In 2013 verskyn sy op Suid-Afrika se Comedy Central-kanaal se The Comedy Central Roast-program, saam met Steve Hofmeyr, aangebied deur Trevor Noah.

Egoli: Plek van Goud as Ester (Nenna) Willemse (1992–2000) Supersterre op SAUK2, as 'n beoordelaar Generations as Mattie, eerste seisoen (2001–2004) 7de Laan as Dorothy Daniels, eerste seisoen (2002) Rugby Motors as Aunty Granny (2012) Villa Rosa as Fran Arendsvlei, vertolk die rol van Muriel Foster (2019)

Teater Surtie-Richards het op verhoë regoor Suid-Afrika asook in Londen verskyn. Sy het by verskeie kunstefeeste regoor Suid-Afrika opgetree, onder andere Aardklop Kunstefees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, Suidoosterfees en die Edinburgh Fringe Fees.  

Sy het rolle vertolk geskryf deur skrywers onder ander William Shakespeare, Willy Russel, Athol Fugard en Pieter-Dirk Uys.

Toekennings In haar loopbaan het Shaleen meer as 40 toekennings verower.

Fleur du Cap-toekenning: Beste aktrise, vir haar rol as Hester in Hallo en Koebaai. (1985) Fleur du Cap-toekenning: Beste aktrise, vir haar spel in Shirley Valentine. (2009) Hertzog-toekenning: Gewildste produksie tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, vir Shirley Valentine. (2009) Royalty Soapy-toekennings: Lewenslange bydrae vir haar 30-jaarlange bydrae tot televisie. (2014) Benoeming: Beste aktrise vir haar rol in Villa Rosa. (2014) Naledi Teatertoekenning: Vereer vir 'n leeftyd se bydraes tot die kunste. (2015)

Verwysings

Bronnelys https://www.iol.co.za/capeargus/life/im-the-only-fiela-that-i-know-shaleen-surtie-richards-23412085 https://www.channel24.co.za/TV/News/shaleen-surtie-richards-on-her-new-role-in-arendsvlei-it-is-the-beginning-of-janices-new-hell-on-earth-20191209-2 https://www.news24.com/You/Archive/hes-my-baby-i-am-so-into-him-shaleen-surtie-richards-is-head-over-heels-for-her-new-younger-beau-20170728 https://www.tvsa.co.za/actors/viewactor.aspx?actorid=2654 http://www.702.co.za/articles/302435/listen-i-don-t-feel-63-but-my-body-does-says-actress-shaleen-surtie-richards https://www.timeslive.co.za/tshisa-live/tshisa-live/2018-05-18-shaleen-surtie-richards-on-stroke-scare-my-body-was-broken/ https://www.news24.com/SouthAfrica/News/Final-curtain-for-Egoli-star-20070416

Kategorie:Geboortes in 1955 Kategorie:Sterftes in 2021 Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises van die 20ste eeu Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises van die 21ste eeu