Die Ortodokse Kerk, amptelik die Ortodoks-Katolieke KerkDie Ortodokse Kerk beskou homself as beide ortodoks en katoliek. Vroeër het die Kerk na homself verwys as die "Katolieke Kerk". Tans word die naam "Ortodokse Kerk" verkies, moontlik om verwarring met die Rooms-Katolieke Kerk te voorkom. In amptelike kerkdokumente word na die Kerk verwys as die "Ortodoks-Katolieke Kerk".The encyclopedia of Christianity The Confession of the Orthodox Patriarch Dositheus of Jerusalem en algemeen bekend as die Oosters-Ortodokse Kerk, is die tweede grootste Christelike denominasie in die wêreld, met ’n geskatte 300 miljoen aanhangers hoofsaaklik in Belarus, Bulgarye, Siprus, Georgië, Griekeland, Masedonië, Moldowa, Montenegro, Roemenië, Rusland, Serwië en die Oekraïne, lande waarin die meeste Christene Oosters-Ortodoks is. Die Kerk beskou homself as die "Een, Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk" wat 2 000 jaar gelede deur Jesus Christus en sy dissipels gestig is.

Die Ortodokse Kerk bestaan uit verskeie outokefale kerkliggame (elk met ’n eie hoof) wat geografies en nasionaal verskil, maar teologies ooreenstem. Elke outokefale liggaam, wat dikwels maar nie altyd nie tot ’n nasie beperk is, word gelei deur ’n sinode van biskoppe en is administratief selfregerend.

Die Ortodokse Kerk kan sy ontwikkeling terugherlei deur die Bisantynse en die Romeinse Ryk na die vroegste kerk wat deur Paulus en die ander dissipels gestig is. Dit beoefen wat dit glo die oorspronklike, antieke tradisies is en glo in groei sonder verandering.

Die doel van Ortodokse Christene van hul doop af is om deur hul hele lewe nader aan God te groei. Dié proses word "teose" of "vergoddeliking" genoem en is ’n spirituele pelgrimstog waarin elke mens daarna streef om deur Jesus Christus heiliger en meer "soos Christus" te word."http://www.goarch.org/ourfaith/ourfaith7114"; Deification". Cross, F. L., ed. The Oxford dictionary of the Christian church. New York: Oxford University Press. 2005

Die Bybelse teks wat deur die Ortodokse Kerk gebruik word, sluit in die Septuagint (die antieke Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel) en die Nuwe Testament. Dit sluit in die deuterokanonieke boeke (boeke van die Ou Testament wat nie deel is van die Hebreeuse Bybel nie) wat gewoonlik deur die Protestante verwerp word en ’n klein aantal ander boeke wat nie deel is van die Westerse kanonieke boeke nie. Ortodokse Christene gebruik die woord "Anagignoskomena" (’n Griekse woord wat "leesbaar" of "leeswaardig" beteken) vir die tien boeke wat hulle aanvaar maar nie deel is van die Protestantse Ou Testament van 39 boeke nie. Hulle word beskou as eerbiedwaardig, maar nie op dieselfde vlak as die Hebreeuse kanonieke boeke nie.Pomazansky, Michael, Orthodox Dogmatic Theology, pp. 33-34

Ortodokse Christene glo die Skrif is deur die Heilige Gees aan die menslike skrywers daarvan geopenbaar. Die Skrif is egter nie die bron van die kerk se tradisies nie, maar eerder die teenoorgestelde: Die Bybelse teks het uit die kerktradisies ontstaan.

Ikone versier die mure van Ortodokse kerke en hagiografieë (die beskrywings van heiliges se lewe) bedek dikwels die hele binnekant van die kerke. Die meeste Ortodokse kerke het ’n area wat opsygesit word vir gebede deur gesinne met ikone van Christus, die Maagd Maria en die heiliges gewoonlik aan die oostemure.

Naam Die groot skeuring, of Oos-Wes-skisma, in die 11de eeu tussen die oostelike en westelike deel van die Christendom in die vroeë Romeinse Ryk het daartoe gelei dat twee kerke ontstaan het, die Ortodoks-Katolieke (oosterse) Kerk en die Rooms-Katolieke (westerse) Kerk. Die jaar 1054 word gewoonlik genoem as die tyd van die skeuring, hoewel dit eerder ’n geleidelike proses as ’n skielike skeuring was.

Hoewel die term "Oosters" algemeen gebruik word vir die Ortodokse Kerk, kan dit vandag misleidend wees omdat daar baie sinodes van die Kerk in Wes-Europa en eintlik oral in die wêreld is.

Definisie Byna van die begin af het Christene na die Ortodokse Kerk verwys as die "Een, Heilige, Katolieke (van die Griekse καθολική, of universele) en Apostoliese Kerk".The Catholic Catechism: A Contemporary Catechism of the Teachings of the Catholic Church by John Hardon by 217 # Publisher: Doubleday # # ’n Paar ander Christelike kerke maak vandag aanspraak op die naam – onder andere die Rooms-Katolieke Kerk, die Anglikaanse Gemeenskap, die Assiriese Kerk en die Oriëntaal-Ortodokse Kerk – maar die Oosters-Ortodokse Kerk beskou hierdie kerke as skismaties of in sommige gevalle selfs as ketters. Volgens hulle het die Assiriese en die Oriëntale Kerk die Ortodokse Kerk in die eerste paar eeue n.C. verlaat, en later het die Rooms-Katolieke dieselfde gedoen met die Oos-Wes-skisma (hulle was die grootste groep wat ooit die Kerk verlaat het).

"Ortodoks" kom van die Griekse byvoeglike naamwoord orthos ("korrek", "reg") en die werkwoord dokein ("lyk soos", en dus in ’n breër sin "glo") of die selfstandige naamwoord doxa ("geloof"), en beteken dus reggelowig. Die Kerk het die naam aangeneem om hom te onderskei van ’n toenemende aantal nie-ortodokse Christelike kerke.Lace, William W. Christianity. San Diego, CA: Lucent Books, Inc., 2005 Verskeie ander antieke kerke in Oos-Europa, Wes-Asië en Noord-Afrika gebruik ook die naam "Ortodoks", maar staan los van die Oosters-Ortodokse Kerk.

Stylverskille duimnael|regs|Die Neamţ-klooster in Roemenië. Wat die Ortodokse kerke verenig, is teologie. Al die lede van die Kerk bely dieselfde geloof, ongeag ras of nasionaliteit. In die praktyke en tradisies is daar egter stylverskille wat deur die kerkleiers aanvaar word omdat hulle nie bots met die basiese Ortodokse leerstellings nie.

Daarom het baie Ortodokse kerke ’n nasionale naam (soos die Russies-Ortodokse Kerk, die Georgies-Ortodokse Kerk, die Masedonies-Ortodokse Kerk, ens.). In die Midde-Ooste word Ortodokse kerke dikwels Rooms-Ortodoks genoem vanweë hul historiese verbintenis met die Bisantynse, of Oos-Romeinse, Ryk.

Die verskille in die liturgiese praktyke is klein. Dit beïnvloed dinge soos die volgorde waarin gesange gesing word of wanneer ’n spesifieke diens gehou word. In die algemeen kan ’n Ortodokse Christen oor die wêreld heen reis en vertroud voel met die dienste in enige kerk as hy die spesifieke taal verstaan.

Organisasie en leierskap Die permanente kriteria vir die kerkstruktuur van die Ortodokse Kerk vandag, benewens die Nuwe Testament, word gevind in die kanons (kerkwette en –dekrete) van die eerste sewe Ekumeniese Konsilies (raadsvergaderings); die kanons van verskeie plaaslike en provinsiale konsilies waarvan die outoriteit deur die hele kerk erken word; die sogenaamde Apostoliese Kanons (eintlik ’n aantal 4de-eeuse regulasies van die kerk in Sirië); en die "kanons van die Vaders", of uitgesoekte uittreksels van prominente kerkleiers wat kanonieke aansien geniet.Eastern Orthodoxy (Christianity) – Britannica Online Encyclopedia

Die Ortodokse Kerk beskou Jesus Christus as die Hoof van die Kerk, en die Kerk as sy Liggaam. Daar is dus nie net een biskop aan die hoof van die Ortodokse Kerk nie; verwysings na die Patriarg van Konstantinopel as ’n leier soortgelyk aan die Rooms-Katolieke Kerk se pous is verkeerd. Daar word geglo die gesag en die genade van God word regstreeks deurgegee na die Ortodokse biskoppe en predikers deur handoplegging – ’n praktyk wat begin is deur die dissipels (Hand. 8:17, 1 Tim. 4:14, Heb. 6:2) – en dat hierdie ononderbroke historiese en fisieke skakel ’n noodsaaklike element van die ware Kerk is.

duimnael|280px|links|Inhuldiging van die Patriarg van Moskou en die Hele Rusland. Elke biskop is die hoof van sy setel. Sy hoofdoel is om seker te maak die tradisies en praktyke van die Kerk word gehandhaaf. Biskoppe het dieselfde gesag en kan nie inmeng in die jurisdiksie van ’n ander biskop nie. Administratief word die biskoppe en hul setels ingedeel in verskeie onafhanklike groepe of biskopsinodes wat minstens twee keer per jaar vergader om sake in hul onderskeie setels te bespreek. Hoewel biskoppe en hul sinodes leiding kan gee in individuele gevalle, raak hul besluite nie gewoonlik die hele Kerk nie. Biskoppe word feitlik altyd uit die monnikestand gekies en moet ongetroud bly.

’n Paar keer is die Ortodokse geloof in die gesig gestaar deur alternatiewe teologiese idees. In dié gevalle het die Kerk dit nodig geag om ’n "Groot" (ekumeniese, of algemene) Konsilie byeen te roep van alle beskikbare biskoppe in die wêreld. Die Kerk beskou die eerste sewe Groot Konsilies (wat tussen die 4de en 8ste eeu gehou is) as die belangrikstes. Daar was egter meer, veral die Sinodes van Konstantinopel (879–880, 1341, 1347, 1351, 1583, 1819 en 1872) die Sinode van Iaşi (1642) en die Pan-Ortodokse Sinode van Jerusalem (1672). Al dié konsilies het die Ortodokse standpunt van die Kerk help bepaal.

Die Groot Konsilies het ’n demokratiese stelsel gevolg; elke biskop het een stem gehad. Lede van die Keiserlike Romeinse/Bisantynse hof, abte, priesters, monnike en niegeestelikes mag teenwoordig gewees het en die raad toegespreek het, maar hulle is nie toegelaat om te stem nie. Die hoofdoel van die Groot Konsilies was om die fundamentele oortuigings van die Kerk as die waarheid te ondersoek en te bevestig, en om enige valse leerstelling wat die Kerk bedreig, te verwyder as dwaalleer. Die pous van Rome was in dié tyd die “eerste onder gelykes”. Hoewel hy nie teenwoordig was by enige van die konsilies nie, het hy dié titel behou tot met die Oos-Wes-skisma van 1054.

Volgens die Ortodokse leerstellings gee die posisie van “eerste onder gelykes” geen bykomende mag of gesag aan die houer daarvan nie, maar dié spesifieke biskop is die organisatoriese hoof van ’n raad van gelykes (soos ’n president). Sy woorde en opinies dra nie meer gewig as enige ander biskop s’n nie. Daar word geglo die Heilige Gees lei die Kerk deur die besluite van die hele raad, nie een individu nie. Daarby moet selfs die raad se besluite deur die hele Kerk aanvaar word om geldig te kan wees.

Een van die besluite van die Eerste Konsilie van Konstantinopel (die tweede Groot Konsilie, in 381) wat deur latere konsilies ondersteun is, is dat die Patriarg van Konstantinopel gelyke status moes hê as die Pous van Rome aangesien Konstantinopel beskou is as die "Nuwe Rome". Hulle moes dus dieselfde voorregte geniet omdat hulle albei biskoppe van die keiserlike hoofstede was, maar die "biskop van Rome" sou voorrang hê bo die biskop van Konstantinopel omdat die Ou Rome die Nuwe Rome voorafgegaan het.

Ná die Oos-Wes-skisma erken die Ortodokse Kerk egter nie meer die wettigheid van die pous nie en die patriarg is dus nou die "eerste onder gelykes", die pous se titel voor die skeuring. Dit beteken egter nie hy is die leier van die Kerk nie. Dit is ook nie ’n amptelike titel nie, maar net ’n manier om die senioriteit van die "keiserlike" biskoppe te beskryf in verhouding tot ander biskoppe.

Aantal volgelinge duimnael|upright=1.8|Verspreiding van Oosters-Ortodokse (in blou) en Oriëntaal-Ortodokse Christene (in rooi) in die wêreld Na aanleiding van sy aantal volgelinge is die Ortodokse Kerk die tweede grootste Christelike gemeenskap in die wêreld (net die Rooms-Katolieke Kerk is groter). Die mees algemene skatting van die aantal Ortodokse Christene wêreldwyd is 300 miljoen.

Ortodoksie is die grootste enkele godsdiens in Griekeland (95%) en Oos-Europa, insluitende Rusland (80%), die Oekraïne (80%), Roemenië (87%), Wit-Rusland (85%), Bulgarye (83%), Serwië (84%), Georgië (89%), Moldowa (93%), die Republiek van Masedonië (65%), Siprus (80%) en Montenegro (74%).