St. Francisbaai is 'n vakansiedorp aan die Indiese Oseaan in die Oos-Kaap, Suid-Afrika. Die dorp is in drie dele verdeel: "Die Kaap", "Die Baai", en "Die Poort". Die Kromrivier mond langs die dorp uit, en die Sandrivier se lopie kronkel deur die duinveld van die reservaat.

Geskiedenis Die dorp het sy naam gekry toe die Portugese ontdekkingsreisiger Manuel de Perestrelo in 1575 hier anker geweeg het. Hy was deur die plaaslike natuurskoon aangedaan, en noem die plek toe "Bahia de Sao Francisca" na die beskermheilige van diere, die omgewing en handelaars, Franciskus van Assisi.

In 1954, het Leighton Hulett die plaas Goedgeloof (naby die vissersdorpie wat op hierdie stadium St Francis was) vir £1 750 gekoop en het saam met sy jong gesin uit KwaZulu-Natal hierheen verhuis. Die grond was hard en nie vir boerdery geskik nie, sodat hy in 1958, om hul inkomste aan te vul, 'n rudimentêre visvangkamp vir besoekers gestig het. Met verloop van tyd het nog verskeie mense, hoofsaaklik van Port Elizabeth en Uitenhage, grond by Hulett gekoop en vakansiehuise gebou. Nadat hy 'n huis en erf in die dorpie vir 'n verdere 179 hektaar moerasagtige grond langs die Krommerivier verruil het, het hy 'n kanaalstelsel uitgebagger, wat St Francis die eerste marina in Suider-Afrika maak. Hy het streng boukodes vir die ontwerp van die vakansiehuise afgedwing. In 1976, toe die Humansdorp Afdelingsraad die beherende gesag geword het, het hulle hierdie beheermaatreëls in die plaaslike verordeninge verskans.

Die dorpie is in 1965 stewig op die internasionale branderplankry-kaart geplaas toe 'n Kanadese rolprentvervaardiger, Bruce Brown, sy fliek, Endless Summer, oor die golwe aan die dorp se kus vrygestel het. Gevolglik was daar 'n toestroming van branderplankryers van regoor die wêreld om op die bekende branders te ry en vandag is St Francis, saam met Jeffreysbaai, die hoogtepunt van enige Afrika-“surfari”.

St. Francispoort Tot in die 1990's was hierdie land onaangeraak en het slegs uit 'n rotsagtige kuslyn en duine bedek deur natuurlike plantegroei bestaan, soos die res van St Francis slegs ses dekades vroeër. In 1995 is 'n kommersiële hawe en geriewe by St. Francispoort gebou. Hierdie hawe dien as 'n belangrike bedryfspunt vir tjokka (calamari) en langlynvisserye. Visvangbedrywighede het toegeneem, en uiteindelik het die behoefte aan 'n hawe duidelik geword, wat dan deur die destydse burgemeester, Jean Chaput, aangevoer is.

St. Franciskaap In 1878 is 'n vuurtoring hier gebou om skepe en vaartuie van die verraderlike rif rondom die punt te waarsku. Die vuurtoring is 27,5 m hoog en is die hoogste messeltoring aan die Suid-Afrikaanse kus. Vandag is dit 'n nasionale gedenkwaardigheid. Daar is 'n natuurreservaat wat van St. Francispoort tot aan die "Die Kaap" strek.

Sien ook Lys van dorpe in Suid-Afrika

Verwysings

Bronne Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995.

Eksterne Skakels St Francisbaai webtuiste

Kategorie:Nedersettings in die Oos-Kaap