Die rietbok (Redunca arundinum) is 'n wildsbok wat in Angola, Zimbabwe, Zambië, Mosambiek en die noordelike dele van Suid-Afrika voorkom. Hulle word veral in digbegroeide rietkolle en grasvleie naby riviere aangetref.
Volwasse rietbokke weeg ongeveer 70 kg en kan gemiddeld 90 cm hoog word. Die rietbok se horings groei met 'n klein draai na buite, sodat dit soos 'n vet "V" op die bok se kop lyk. Die langste aangetekende horinglengte by 'n rietbok is 46 cm. Hulle het kort kwassterte met 'n wit onderkant.
Wanneer 'n rietbok skrik, sal hy 'n skerp fluitgeluid maak en met 'n skommelende beweging weghardloop, kwasstert in die lug, sodat die wit onderkant wys.
Die ooi is 7,5 tot 8 maande dragtig, waarna daar in Augustus of September 'n enkele lammetjie gebore word. Rietbokke het 'n moontlike lewensduur van 9 jaar.
Sien ook Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere volgens wetenskaplike name Suider-Afrikaanse soogdiere en hul ordes Rietbok (vliegtuig)
Bronnelys
Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. .
Eksterne skakels
Kategorie:Wildsbokke