Die Europese verkenning van Suid-Afrika in die vyftiende eeu was, net soos die Europese verkenning en besetting van baie ander nuwe wêrelddele, nié die gevolg van 'n doelbewuste besluit nie. Columbus het byvoorbeeld 'n nuwe wêrelddeel ontdek, maar nie omdat hy na Amerika op soek was nie, maar wel na Indië. So ook het Indië nie die skitterendste juweel in die Britse kroon geword omdat die oorspronklike Engelse handelaars in die Verre Ooste dit so bedoel het nie. Australië het eweneens 'n belangrike Britse dominium geword, ofskoon dit oorspronklik as 'n strafkolonie aangewys en gebruik is. Ook is Suid-Afrika nie sowat 500 jaar gelede deur Europeërs verken omdat die Portugese seevaarders na Suid-Afrika op soek was nie, maar wel na die seeweg wat Europa met die Verre Ooste sou verbind. Die geografiese ligging van die land het toe reeds sy historiese noodlot bepaal.

Handelsroetes na die Ooste duimnael|250px|Romeinse handelroetes na Indië in die 1ste eeu n.C. duimnael|250px|Oosterse produkte was altyd gesog in die Weste en verskeie handelsroetes het so ontstaan. Sommige, soos die syhandel, is al 3000 jaar lank wêreldwyd aktief. Hierdie beeld uit 1380 wys reisende syhandelaars.

Hoewel 'n seeweg na die Ooste eers teen die einde van die vyftiende eeu ontdek is, is die verkeer tussen die Weste en die Ooste so oud as die Westerse beskawing self. Reeds in die Oudheid het die Oosterse volke, die Grieke en die Romeine lewendige handelsbetrekkinge met Indië en China onderhou. Die "drang na die Ooste" was altyd sterk by die Europeër, vir wie die warmer en ryker Ooste en Suide en hulle natuurlike voortbrengsels deurgaans groot aantrekkingskrag gehad het. Vandaar dat een van die grootste veroweraars in die geskiedenis, die Makedoniër Alexander die Grote, reeds in die vierde eeu v.C. vir hierdie drang beswyk nadat hy sy veroweringstogte tot in Indië gevoer het. Dit was ook hierdie drang van die koue en onvriendelike Noorde na die warm en ryk Suide wat grotendeels die Germaanse volksverhuising bepaal het, en wat in die Kruistogte van die Middeleeue sy voortsetting gevind het. Die intrinsieke aanlokkingskrag van die warmer en ryker Ooste het die begeertes en avontuurlus van Europese volke geprikkel en dit sou 'n lewendige handelsverkeer tussen Weste en Ooste tot stand bring.

Die Europese bekendheid met die Ooste is onder meer sterk uitgebrei deur die tog van die Vlaamse monnik Willem van Ruysbroek (1250), en veral deur die Venesiaanse reisiger Marco Polo. Laasgenoemde het van Bagdad oor die hoogvlakte van Pamir en deur die Gobi-woestyn na Sjina gereis, om ná 'n afwesigheid van vyf-en-twintig jaar (1271–1295) oor Sumatra, Ceylon en Voor-Indië na Venesië terug te keer. Sy uitvoerige reisbeskrywing is van beslissende betekenis.

Die verkeersweë tussen Europa en Indië het vir 'n groot deel oor land gegaan. Die produkte van die Ooste, deur Arabiese kooplui opgesamel, het veral gedurende die Middeleeue Europa langs drie weë bereik. Een van hierdie handelsweë het van die Voor-Indiese markte oor die bergpasse deur Turkestan gegaan en daarna oor die Aralmeer die Kaspiese See bereik, om dan die Wolgarivier en die Donrivier stroomopwaarts te volg totdat dit die groot Russiese markte soos Nowgorod e.a. bereik het. Vir Suid-Sentraal- en Wes-Europa het ander handelsweë, wat van die groot handelshawe Soerat op die weskus van Voor-Indië uitgegaan het, meer belang gehad. Een van hierdie weë het die kus van Beloetsjistan, Suid-Persië en Arabië gevolg, om oor die Rooisee en Suez die mark van Alexandrië te bereik. Die ander weg het in die Persiese Golf gegaan, vervolgens die groot riviere van die Tweestromeland benut, om op die hoogland van Mosoel in twee te splits. Die een vertakking het in 'n westelike rigting gegaan en oor Aleppo die Middellandse See bereik, terwyl die ander vertakking in noordwestelike rigting op Trebizonde aan die Swart See uitgeloop het. Albei hierdie weë het na Konstantinopel gelei. Te Alexandrië en te Konstantinopel, die twee groot stapelplase van Oosterse ware aan die Middellandse See, het Italiaanse kooplui uit Amalfi, en later uit Venesië en Genua, hierdie produkte aangekoop en vervolgens oor Midde- en Wes-Europa versprei. Een van hierdie weë het deur die Alpepasse oor Augsburg na die binnelandse afsetgebied van Duitsland gelei. 'n Ander, langs die Rhônerivier op, het die Franse markte bedien. Wes- en Noord-Europa is oor see bedien, en daar het 'n lewendige skeepvaart van die Wes-Europese seevarende volke bestaan – veral van die Nederlanders, wat na die Portugese hoofstad, Lissabon, gevaar het.

Hierdie stad het hom weldra tot 'n belangrike handelsentrum ontwikkel. Die Middellandse seevaart het die produkte van die Ooste en Suide na Lissabon gebring, terwyl die skeepvaart van die Nederlanders die noordelike produkte eweneens na die Portugese hoofstad gebring het. Hier het die uitruil en oorlaai van die produkte plaasgevind.

Hierdie handelsverkeer, waarby die Nederlanders slegs die rol van vragvaarders in diens van die Italiaanse handelskapitaal gespeel het, was wel in staat om Oosterse produkte soos speserye, sy, fyn houtsoorte en pêrels op die Europese markte te plaas. Maar dit was ook al, want die handelsweë wat die Weste met die Ooste verbind het, het ernstige nadele gehad. Die weë oor Klein-Asië was te lank, die vervoer per karavaan het te veel tyd in beslag geneem en was buitendien erg gevaarlik. Ook was die handelsware te duur, omdat dit herhaaldelik oorgepak moes word. By dit alles het die tussenhandelaars heelwat verdien.

Die weg oor Egipte was wel makliker, maar die sultan van hierdie land het sulke hoë belastings op die ware gelê dat speserye in Alexandrië byvoorbeeld drie maal so duur was as in Indië. Die distribusiekoste was origens so hoog dat alleen die rykes dit kon bekostig om verbruikers van hierdie "peperduur" produkte te word. Buitendien het hierdie handelsverkeer afgehang van die toeganklikheid vir die Italiaanse handel van die groot Levant-hawens, soos veral Alexandrië en Konstantinopel.

duimnael|250px|Afbeelding van die Ottomaanse beleg van Konstantinopel in 1453.

Teen die middel van die vyftiende eeu het daar aan hierdie toeganklikheid 'n end gekom: die Ottomaanse Turke, toe die aartsvyande van die Christendom, het Klein-Asië binnegedring en hul veroweringstogte tot in Europa en Noord-Afrika uitgebrei. In 1453 is die groot handelsentrum Konstantinopel verower; en in die begin van die sestiende eeu het ook Alexandrië in gedrang gekom, toe die Turke gepoog het om Egipte te verower. Die handelsverkeer met Indië is dus verlam en vir Europa het daar niks oorgebly as om 'n ander handelsweg te soek nie. Onderwyl die Italianers, veral die Venesiaanse Republiek, omsons in langdurige en kosbare oorloë met die Turke gewikkel was om hierdie handelsverkeer te herstel, is veral op die Iberiese skiereiland na ander middele en weë gesoek om die noodsaaklike handelsverkeer met Indië te herstel en uit te brei.

Portugal, met sy gunstige ligging op die westelike uithoek van Europa aan die Atlantiese Oseaan digby Afrika en met sy hoofstad Lissabon, wat hom reeds tot 'n belangrike handelsentrum ook vir Oosterse ware ontwikkel het, was uit eie belang die aangewese land om die onderbroke handelsverkeer met die Ooste langs 'n ander weg te herstel. Nadat Portugal saam met Spanje die 800 jaar lange stryd (die "reconquista") op die Iberiese skiereiland teen die Mohammedaanse indringers uit Noord-Afrika met sukses volvoer het, het hulle besluit om die geloofsvyand op Afrikaanse bodem self aan te pak. Die uitbreiding van die Portugese Ryk sou ook geleentheid gebied om die Portugese handel en wankelende ekonomie te versterk.

Dias se ontdekkingsreis duimnael|300px|'n Westerse wêreldkaart uit ongeveer 1450

Dit was Portugal se geluk dat hulle op hierdie kritieke tydstip in die Westerse geskiedenis beskik het oor 'n leier wat die verligte aardrykskundiges uit Renaissance-Italië aangehang het. Hierdie Portugese prins, bekend as Hendrik die Seevaarder (1394–1460), was die eerste Europeër wat die seevaart, in teenstelling met die seevaart, stelselmatig en met volharding aangepak het.

Op inisiatief van prins Hendrik is in 1419 'n Portugese ekspedisie uitgerus na Madeira, wat vir die Portugese kroon in besit geneem is. Enige jare later het ook die Asore 'n Portugese besitting geword. Tot dusver het die Portugese slegs in die spore van vroeëre ontdekkers gevolg; maar daarmee was prins Hendrik nie tevrede nie. In 1434 het sy seeliede om Kaap Bojador gevaar en twaalf jaar later die mond van die Senegalrivier bereik. Tot dusver het die kennismaking met die Afrikaanse kus slegs teleurstelling opgelewer: daar was geen handel te dryf nie, want die woestynsand van die Sahara het tot aan die oseaan gereik. In 1447 egter het die Portugese kennis gemaak met 'n kaap wat daar groen uitgesien het, en in verrukking het hulle dit "Cabo Verde" genoem (die huidige Kaap Verde). Verby hierdie "groen kaap" is kennis gemaak met lande waar handel wel moontlik geblykhet: daar was bv. peper, ivoor, goud en slawe te vind. Die blydskap van die Portugese was groot toe hulle vasstel dat die trope nie, soos die ou geograwe beweer het, weens die versengende hitte onbewoonbaar was nie, maar 'n weelderige plantegroei en 'n groot verskeidenheid lewensvorme opgelewer het.

Toe prins Hendrik, wat daarvan oortuig was dat die vaart om Afrika na Indië nie alleen moontlik nie, maar selfs noodsaaklik vir die handelsposisie van Portugal was, in 1460 oorlede is, was sy doel nog geensins bereik nie. Die weskus van Afrika, tot waar dit 'n oostelike rigting inslaan, was wel bekend, maar eers teen 1471 is die ewenaar oorgesteek, en eers in 1484 het Diogo Cam die mond van die Kongorivier bereik. Die redes vir hierdie verslapping wat op die dood van prins Hendrik gevolg het, is verskillend: nadat die Slawekus en die Nigerrivier se mond gepasseer was, het die kus in plaas van 'n oostelike 'n suidelike rigting ingeslaan. Hoe ver sou die Afrikaanse kus na die suide loop, en sou 'n suidelike verbinding met Indië wel moontlik wees?

Onder die Italiaanse aardrykskundiges was daar sommige wat gemeen het dat die seeweg na Indië in westelike rigting gesoek moes word, soos hulle landgenoot Christophorus Columbus nog geen twee geslagte later geprobeer het. Ook die omstandigheid dat Portugal eers die handelsmoontlikhede van sy nuwe kolonie Guinee, waar onder mee peper, een van die gesogte produkte van Indië, gevind is, op die proef moes stel, het sonder twyfel die vaart na die suide vertraag. Eers toe dit geblyk het dat Guinee, as handelsgebied, Indië nooit sou kan vervang nie, is die vaart in suidelike rigting voortgesit.

Daar was ook nog ander hindernisse wat in die weg van 'n suidelike vaart gestaan het. Een hiervan was dat die altyd sigbare Poolster, waarvolgens die breedtebepaling op see vasgestel is, ten suide van die ewenaar verdwyn het; en dat die Portugese, onbekend met die sterrehemel van die suidelike halfrond met sy Suiderkruis, moeilik rigting en posisie kon bepaal. Hierdie noutiese moeilikheid is egter uit die weg geruim toe die Neurenbergse kosmograaf Martin Behaim (1459–1806) te regter tyd 'n werktuig uitgevind het wat breedtebepaling volgens die sonshoogte moontlik gemaak het. Hierdie geleerde het self deelgeneem aan die ekspedisie wat in 1482 die mond van die Kongo ontdek het.

duimnael|200px|links|'n Standbeeld van Bartholomeus Dias by die Suid-Afrika Huis op die Londense Trafalgar-plein.