Die Inkas se ryk, amptelik bekend as Tawantinsuyu (Quechua vir "die vier dele saam"), was die grootste ryk in die voor-Columbiese Amerika. Die administratiewe, politieke en militêre middelpunt daarvan was die stad Cusco in die Andes van wat vandag Peru is. Die Inkabeskawing het vroeg in die 13de eeu uit die Peruaanse hoogland ontstaan, en tussen 1438 en 1533 het die Inkas 'n groot deel van westelike Suid-Amerika deur verowering sowel as vreedsame inlywing by hul ryk gevoeg. Op sy grootste het dit die huidige Peru met westelike Ecuador, westelike en suid-sentrale Bolivië, die noordweste van Argentinië, die suidelikste punt van Colombia en 'n groot deel van Chili verenig. Die amptelike taal was Quechua.
Die Inkaryk was besonders daarin dat dit sonder baie van die kenmerke bestaan het wat met beskawings in die Ou Wêreld verbind word. Die antropoloog Gordon McEwan het geskryf dat die Inkas "een van die grootste keiserlike state in die menslike geskiedenis" kon bou sonder die wiel, sonder trekdiere, sonder kennis van yster of staal en sonder eers 'n skryfstelsel. Van die opvallendste kenmerke van die ryk was sy monumentale argitektuur – veral die klipwerk – die uitgebreide padnetwerk (die Qhapaq Ñan) wat tot in alle hoeke van die ryk gereik het, fyn geweefde tekstiel, die gebruik van geknoopte toue (quipu) vir rekordhouding, landboukundige vernuwing in 'n moeilike omgewing, en die organisasie van sy mense en hul arbeid.
Die ryk het grotendeels sonder geld en sonder markte gefunksioneer. Die uitruil van goedere en dienste is eerder op wedersydigheid gebaseer, tussen individue sowel as tussen individue, groepe en die Inkaheersers. "Belasting" het uit 'n arbeidsverpligting teenoor die ryk bestaan, en die heersers – wat teoreties al die produksiemiddele besit het – het in ruil toegang tot grond en goedere verleen en kos en drank by feeste vir hul onderdane verskaf.
Die Inkabeskawing het 'n glorietyd beleef wat geduur het van 1438 tot 1532. Die Inka-ryk is vernietig deur die Spaanse conquistadores onder leiding van Francisco Pizarro. Die Inka-ryk het op sy hoogtepunt rofweg die huidige lande Peru, Bolivië, Ecuador, die suide van Colombia en die noorde van Argentinië en Chili beslaan. Baie van die geboue in die Peruaanse stad Cusco is gebou op die oorblyfsels van Inka-geboue, aangesien Cusco eens die hoofstad van die ryk was. Een van die bekendste ruïnestede van die Inkas is Machu Picchu in Peru.
Dit was egter eers in 1531 dat kapt. Francisco Pizarro, pas aangestelde verteenwoordiger van koning Karel V van Spanje, met 180 manskappe en 27 perde in drie skepe vertrek het om die bergagtige en goed verdedigde land Peru, die land van die Inkas, binne te dring. Die term Inka word vandag gebruik om die Indiaanse stamme en kultuur te beskryf wat die Spanjaarde in Peru, Ecuador, Bolivia en Noord-Chili aangetref het.
Die ekspedisie het op 13 Mei 1532 naby Tumbes geland. Die Inkas was in daardie stadium pas klaar met 'n uitputtende burgeroorlog. Atahualpa, wat die oorlog gewen het, was nou die Inka, of aangewese keiser, maar hy het nie die mag van die vreemde aanvallers besef nie. Die Spanjaarde het min weerstand ondervind totdat hulle die stad Cajamarca (Kajamarka) bereik het.
Hier is hulle deur 50 000 Inka-krygsmanne omsingel. 'n Ontmoeting is tussen Pizarro en Atahualpa gereël. Maar die Spanjaarde, gewapen met gewere, het die Inkas onverwags aangeval, 2 000 inboorlingwagte - wat ongewapen opgedaag het om nie aanstoot te gee nie - doodgeskiet en Atahualpa gevange geneem. In daaropvolgende vyf jaar het die Spanjaarde die hele antieke ryk van die Inkas beset. Skatte ter waarde van miljoene rande het in die hande van die Spaanse oorwinnaars (bekend as die conquistadores), die Spaanse kerk en die Spaanse koning geval.
Die verowering van so 'n groot gebied deur 'n handjievol fortuinsoekers is een van die merkwaardigste gebeurtenisse in die geskiedenis. Dit het met herhaalde verraad en die uitmoor van die inheemse bevolking gepaard gegaan. Dat dit so lank geduur het om die Inkas te oorwin, moet toegeskryf word aan die feit dat die ryk georganiseer was, en dat die Inka al die mag gehad het. Toe hy dus deur 'n Spaanse goewerneur en administrasie vervang is, het alles baie lank nog volgens die ou stelsel voortgegaan.
Naam Die Inkas het na hul ryk as Tawantinsuyu verwys, "die suyu van vier dele". In Quechua is tawa vier en is -ntin 'n agtervoegsel wat 'n groep aandui, sodat 'n tawantin 'n viertal is – in hierdie geval die vier suyu of streke waarvan die hoeke by die hoofstad bymekaargekom het. Die vier suyu was Chinchaysuyu in die noorde, Antisuyu in die ooste (die Amasone-oerwoud), Qullasuyu in die suide en Kuntisuyu in die weste. Die naam Tawantinsuyu was dus 'n beskrywende term wat op 'n vereniging van provinsies dui; die Spanjaarde het dit gewoonlik as Tahuatinsuyo getranskribeer.
Hoewel die woord inka vandag as "heerser" of "heer" uit Quechua vertaal word, het dit nie net na die koning van Tawantinsuyu – die Sapa Inka – verwys nie, maar ook na die Inka-adel. Dié adel was 'n klein deel van die totale bevolking, vermoedelik net 15 000 tot 40 000 mense, wat oor 'n bevolking van sowat tien miljoen geheers het. Toe die Spanjaarde in die ryk aangekom het, het hulle die naam Peru gegee aan wat die inwoners as Tawantinsuyu geken het, en die benaming "Inkaryk" kom uit die kronieke van die 16de eeu.
Geskiedenis Voorgangers Die Inkaryk was die laaste hoofstuk van duisende jare se Andes-beskawings. Twee grootskaalse ryke het die Inkas in die Andes voorafgegaan: Tiwanaku (ongeveer 300 tot 1100 n.C.), gesentreer om die Titicacameer, en Wari of Huari (ongeveer 600 tot 1100 n.C.), naby die stad Ayacucho. Die Wari het die Cusco-gebied vir sowat 400 jaar beset, en baie van die kenmerke van die Inkaryk – duisende kilometer paaie, groot administratiewe sentrums met verfynde klipwerk, terrasse teen berghange en die vervaardiging van groot hoeveelhede goedere – kom by dié vroeër, multi-etniese Andes-kulture vandaan.
Die geograaf Carl Troll het aangevoer dat die ontwikkeling van die Inkastaat in die sentrale Andes gehelp is deur toestande wat die vervaardiging van chuño toelaat, 'n stapelvoedsel wat lank gebêre kan word en gemaak word van aartappels wat by die vriestemperature van die suidelike Andes-hoogland se nagte gedroog word. Troll het ook daarop gewys dat die lama, die Inkas se pakdier, juis in dieselfde streek in sy grootste getalle voorkom: die grootste omvang van die ryk het rofweg saamgeval met die verspreiding van lamas en alpakas, die enigste groot mak diere in die voor-Spaanse Amerika.
Oorsprong en die koninkryk van Cusco Die Inkas was in die 12de eeu 'n herdersstam in die Cusco-gebied. Vroeg in die 13de eeu het hulle onder leiding van Manco Capac die klein stadstaat, die koninkryk van Cusco, gevorm, waar Manco Capac 'n tempel vir die songod, Inticancha, gebou het op die plek van die latere Coricancha. Onder die opeenvolgende heersers het hulle hul invloed buite Cusco en die Heilige Vallei in uitgebrei deur 'n reeks veldslae, huwelike en bondgenootskappe.
In 1438 het 'n verreikende uitbreiding onder bevel van die negende Sapa Inka, Pachacuti Cusi Yupanqui, begin. Sy bynaam Pachacuti beteken "die omwenteling van die wêreld" en is aan hom gegee nadat hy die Chanka-stam in die Chanka-Inka-oorlog verslaan het. Gedurende sy regering het hy en sy seun Túpac Yupanqui die grootste deel van die huidige Peru onder Inka-beheer gebring.
Pachacuti het die koninkryk van Cusco in Tawantinsuyu herorganiseer: 'n sentrale regering met die Inka aan die hoof en vier provinsiale regerings met sterk leiers. Daar word gemeen dat hy Machu Picchu gebou het, hetsy as 'n familiewoning of somerverblyf, hoewel dit ook 'n landboustasie kon gewees het. Hy het spioene na streke gestuur wat hy wou inlyf en verslae oor hul politieke organisasie, militêre sterkte en rykdom ontvang, en dan boodskappe aan hul leiers gestuur waarin hy die voordele van aansluiting by sy ryk uitgestal en luukse geskenke soos hoëgehaltetekstiel aangebied het. Die meeste het die Inka-heerskappy vreedsaam aanvaar; weiering het op militêre verowering uitgeloop, waarna die plaaslike heersers tereggestel is en hul kinders na Cusco gebring is om die Inka se administrasiestelsel te leer voordat hulle na hul eie streke teruggegaan het om daar te regeer.
Uitbreiding Túpac Inca Yupanqui het in 1463 met veroweringe in die noorde begin en dit ná Pachacuti se dood in 1471 as heerser voortgesit. Sy belangrikste verowering was die koninkryk van Chimor, die Inkas se enigste ernstige mededinger aan die kus, en sy ryk het daarna noord tot in wat vandag Ecuador en Colombia is, gestrek. Sy seun Huayna Capac het 'n verdere klein stukkie grond in die noorde bygevoeg.
Volgens die tradisionele geskiedskrywing het die opmars suidwaarts ná die Slag van die Maule tot stilstand gekom, waar die Inkas op beslissende weerstand van die Mapuche gestuit het. Dié siening word deur die historikus Osvaldo Silva bevraagteken, wat eerder aanvoer dat dit die maatskaplike en politieke struktuur van die Mapuche was wat die grootste struikelblok vir keiserlike beheer was, en dat die Inkas nie dieselfde prikkels vir verowering gehad het as wanneer hulle teen meer komplekse samelewings soos die Chimú geveg het nie. Die ryk se opmars in die Amasonebekken naby die Chinchipe-rivier is in 1527 deur die Shuar gestop.
Eerste kontak, burgeroorlog en verowering Die Portugese verkenner Aleixo Garcia, 'n skipbreukeling wat in Brasilië gewoon het, was in 1524 die eerste Europeër wat bekend is met die Inkaryk in aanraking te gekom het, tydens 'n strooptog saam met 'n Guaraní-mag. Spaanse conquistadores onder Francisco Pizarro het van die huidige Panama suidwaarts verken en Inka-gebied teen 1526 bereik. Ná 'n verdere ekspedisie in 1529 het Pizarro na Spanje gereis en koninklike goedkeuring gekry om die streek te verower en die onderkoning daarvan te wees: in Julie 1529 het die koningin van Spanje 'n oktrooi onderteken wat hom as goewerneur en kaptein van alle veroweringe in Peru – of Nieu-Kastilië, soos die Spanjaarde die land nou genoem het – aangestel het.
Benewens die opvolgingsoorlog het epidemies van Europese siektes die ryk vermoedelik reeds in die 1520's getref. Die eerste daarvan het waarskynlik Huayna Capac en sy aangewese erfgenaam Ninan Cuyochi gedood, saam met 'n onbekende maar vermoedelik groot aantal ander onderdane; die vroegste geskrewe berigte oor Huayna Capac se dood stem nie volledig oor die oorsaak saam nie.
Die mag wat Pizarro tot by Cajamarca gebring het, het uit 168 man, een kanon en 27 perde bestaan, gewapen met lanse, haakbusse, staalwapenrusting en lang swaarde. Die Inkas het teenoor hulle wapens van hout, klip, koper en brons gebruik en wapenrusting van alpakavesel, wat hulle op 'n groot tegnologiese agterstand geplaas het: nie een van hul wapens kon die Spaanse staalrusting deurdring nie. Omdat daar geen perde in Peru was nie, het die Inkas ook nie taktiek teen ruitery ontwikkel nie.
Die eerste treffe tussen die Inkas en die Spanjaarde was die Slag van Puná naby die huidige Guayaquil, waarna Pizarro in Julie 1532 die stad Piura gestig het. Hernando de Soto is landwaarts gestuur en het met 'n uitnodiging teruggekeer om Atahualpa te ontmoet, wat sy broer in die burgeroorlog verslaan het en met sy leër by Cajamarca uitgerus het. By dié ontmoeting het die Spaanse tolk, broer Vincente de Valverde, die Requerimiento voorgelees, wat geëis het dat die Inka en sy ryk die heerskappy van koning Karel I van Spanje aanvaar en tot die Christendom oorgaan. Atahualpa het die boodskap van die hand gewys en hulle gevra om te vertrek, waarna die Spanjaarde hul aanval begin het.