'n Toutologie (afkomstig van die Griekse woord ταυτολογία, d.w.s. tauto logos, wat dieselfde woord beteken) of stapelvorm is die benadrukking van 'n woord met 'n ander woord waarvan die betekenis so goed as dieselfde is. Anders gestel is dit die opeenstapeling van woorde met dieselfde betekenis, wat gevolglik oorbodige herhaling behels.
Toutologie kom meer dikwels voor as 'n taalfout as 'n stylfiguur, maar in eersgenoemde geval is daar sprake van versteende gebruik. Baie vaste uitdrukkings is dan ook toutologieë. Ook kan 'n toutologie soms meewerk om 'n gevoel te versterk. Dit word nie as foutief beskou wanneer dit só aangewend word nie.
By 'n pleonasme is die twee woorde nie sinonieme nie, maar word die betekenis van die een woord by die ander ingesluit, byvoorbeeld met "dood verdrink".
Korrekte toutologie Min of meer versteende (korrekte) toutologieë is onder meer: graftombe brokstuk gratis en vir niks een en dieselfde leuens en bedrog lis en bedrog geheel en al vas en seker gewis en waaragtig nooit of te nimmer vir ewig en altyd oor en uit uitklaar
Foutiewe toutologie Voorbeelde van (steeds) onversteende uitdrukkings, en daarom aanduibaar as foutief, sou die volgende insluit: kabeltou netjies en versorg alreeds nooit niks vuil en smerig bly en verheug vrolik en bly identies dieselfde eensaam en alleen maar en egter (Byvoorbeeld: "... maar ons merk egter niks op nie.") want en immers (Byvoorbeeld: "Ek neem 'n drankie, want ek is immers dors.")
Verwysings
Kategorie:Taalkunde
hu:Tautológia#Nyelvtudományi és irodalmi tautológia