Nowgorod-oblast (Russies: Новгоро́дская о́бласть, Nowgorodskaja oblast) is ’n oblast (deelgebied) van Rusland. Dit lê tussen Moskou en Sint Petersburg in die Noordwestelike Federale Distrik en die hoofstad is Weliki Nowgorod.
Van die oudste Russiese stede, soos Weliki Nowgorod en Staraja Roessa, is hier geleë. Die historiese monumente van Weliki Nowgorod en die omgewing is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.
Geografie Nowgorod-oblast grens aan Leningrad-oblast in die noorde en noordweste, Wologda-oblast in die ooste, Twer-oblast in die suide en suidooste en Pskof-oblast in die suidweste.
Die westelike deel is ’n laagland om die Ilmen-meer, terwyl die oostelike deel ’n hoogland is (die noordelike uitlopers van die Waldai-heuwels). Die hoogste punt is Berg Rizjocha (296 m).
Demografie Nowgorod-oblast se bevolking is volgens die 2002-sensus 694 355, die laagste van al die oblaste in die Europese deel van Rusland. Een van die redes is dat die streek swaar getref is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Altesaam 70% van die bevolking woon in die tien stede en dorpe.
Die bevolking is redelik homogeen, met net vyf volke met meer as 2 000 mense tydens die laaste sensus. Sowat 93,92% is Russe, en die res is Oekraïners, Belarusse, Roma, Tatare en ander klein groepe.
Ekonomie Nowgorod-oblast is bekend vir sy wetenskap- en arbeidsintensiewe sektore, veral in die chemiese en die woudbedryf. Die ingenieurs-, metaalwerk-, elektronika-, chemiese, woud- en papierbedryf vervaardig amper die helfte van die streek se markbare produkte.
Die grootste nywerheidsentrums is Weliki Nowgorod, Staraja Roessa en Borowitsji.
Verwysings
Eksterne skakels
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Russiese oblaste