Mirror Trading International (MTI), wat deur die Suid-Afrikaanse Hooggeregshof 'n piramideskema verklaar is, was 'n kriptogeldhandelsplatform wat outomatiese handelsdienste met aansienlike opbrengste belowe het.
Die brein agter MTI was Johann Steynberg, wat beweer het dat 'n bot met kunsmatige intelligensie vir die maatskappy se handelsbedrywighede gebruik word. MTI is aan streng ondersoek onderwerp en het regsuitdagings in die gesig gestaar, veral van Suid-Afrikaanse owerhede, wat beweer het dat dit as 'n bedrieglike skema bedryf word.
Die ontrafeling van MTI het tot die uiteindelike ineenstorting daarvan gelei, asook tot die inhegtenisneming van sleutelfigure en aansienlike finansiële verliese vir baie beleggers.
Die skema het 100 000 mense uit 140 lande betrek. Internasionale deskundiges het MTI as een van die grootste kriptoskelmstreke ooit beskryf en dit is ná sy ineenstorting aan die einde van 2020 as die grootste kriptoskema nóg bestempel. Volgens Chainalysis het MTI tot een van die grootste kriptobedrogskemas van 2020 gegroei.
Agtergrond en werkswyse MTI is in 2019 in Suid-Afrika as 'n outomatiese bitcoinhandelsplatform bekendgestel wat aansienlike opbrengste deur middel van 'n handelsbot aan beleggers aangebied het. Die maatskappy het in April 2019 begin handel dryf. Volgens MTI se webwerf was Johann Steynberg van Polokwane die uitvoerende hoof en stigter; die hoofkantoor was in Stellenbosch met satellietkantore in Randburg en die Strand. Steynberg, wat in Desember 2020 37 jaar oud was, was ook die maatskappy se enigste direkteur.
Lede van die publiek is genooi om op MTI se webwerwe te registreer en hul bitcoin uit hul eie beursies na MTI se bitcoin-beursies te skuif. Volgens die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het Steynberg volle beheer oor dié beursies gehad en is die bitcoin daarna na MTI se buitelandsevaluta- oftewel forex-platform FXChoice oorgeplaas. MTI het sy lede later versoek om hul onderskeie FXChoice-rekeninge af te koppel en hul bitcoin na 'n saamgevoegde rekening te skuif.
Beleggers is 'n opbrengs van tot 10% per maand belowe en moes hul bydraes in bitcoin maak. Lidmaatskap van MTI het in 2020 aansienlik toegeneem, veral as gevolg van sy netwerkbemarkingsmodel. Die maatskappy het 'n aggressiewe multivlakbemarkingsveldtog gebruik wat 10% kommissie betaal het aan bestaande kliënte wat nuwe beleggers werf. MTI se webwerf het dié van 'n professionele onderneming gelyk, wat daartoe bygedra het dat beleggers die skema vertrou het.
Die maatskappy het volgehou dat dit uitsluitlik van 'n bot met kunsmatige intelligensie gebruik maak. Volgens MTI se bemarkingshoof, Cheri Ward, was dié bot die maatskappy se eksklusiewe handelsgeheim waaraan die hele sakemodel gekoppel was, en het MTI daarom gedoen wat hy kon om sy intellektuele eiendom te beskerm.
Waarskuwings en ondersoek Waarskuwings deur reguleerders Die FSCA het in Augustus 2020 gewaarsku dat MTI nie gelisensieer is om finansiële dienste te lewer nie en ook nie om so 'n lisensie aansoek gedoen het nie. Die owerheid het gesê MTI beweer dat hy meer as R2,9 miljard van kliënte in handelsrekeninge het, maar dat dit nie finaal bevestig kon word dat die fondse bestaan nie, en dat die opbrengste wat MTI belowe "vergesog en onrealisties" lyk. Finansiële reguleerders in Texas en Kanada het ook alarm gemaak oor MTI se sakepraktyke en dit as 'n piramideskema beskryf wat misleidende bewerings oor sy opbrengste gemaak het. Daar is toe reeds maande lank uit verskeie oorde beweer dat MTI niks anders as 'n piramideskema bedryf nie, en beleggers is wêreldwyd gemaan om hul beleggings te onttrek.
Datalek van September 2020 In September 2020 is kwesbaarhede in MTI se webwerf deur die kubergroep Anonymous ZA blootgelê. Die groep het die maatskappy se volledige transaksiegeskiedenis gegryp en op die internet vrygestel. Die name, gebruikersname, e-posadresse, bitcoin-saldo's en verdienstes wat aan elke rekening gekoppel was, is deur die kuberkrakers gesien, en 'n afskrif van die data soos dit op 14 September van toepassing was, is op 'n donkerwebwerf genaamd MTILeaks gepubliseer.
Die datalek het glo gewys dat MTI bitcoin-deposito's van meer as R4 miljard ontvang het en dat sowat R2,9 miljard deur beleggers onttrek is. MTI sou sowat R3,1 miljard nodig gehad het om die oorblywende deposito's en verdienstes van al sy lede te dek, terwyl die beskikbare balans aansienlik minder was.
Ward het die sekuriteitsbreuk in die media bevestig, maar die akkuraatheid van die vrygestelde data betwis en volgehou dat die maatskappy nie 'n piramideskema bedryf nie. Sy het gesê die beweerde tekort aan bitcoin berus op die aanname dat MTI nie handel dryf nie, wat volgens haar nie die geval was nie, en dat die kuberaanval kwaadwillig en onwettig was. Volgens haar het MTI meer as 172 000 lede gehad wat almal tevrede was met die maatskappy se diens en ondersteuning.
Klopjagte en die FSCA se bevindings Die FSCA het opsporings- en beslagleggingsbevele bekom en aan die einde van Oktober 2020 klopjagte uitgevoer op die huise van Steynberg en MTI se bemarkingsdirekteur, Cheri Marks, sowel as op die maatskappy se kantore in Stellenbosch.
Die owerheid het MTI in Oktober 2020 in kennis gestel dat dit 'n onwettige, ongeregistreerde finansiëledienste-onderneming is. MTI het toe beweer dat hy sy handelsaktiwiteite verander het sodat dit nie meer binne die FSCA se jurisdiksie val en nie meer 'n lisensie as finansiële diensverskaffer benodig nie – 'n bewering wat die FSCA verwerp het. Die owerheid het gesê hy het geen bewyse gevind dat enige kriptohandel plaasvind soos dit aan MTI se lede gekommunikeer is nie.
Volgens die FSCA het FXChoice bewyse verskaf wat heeltemal strydig was met Steynberg se bewerings. Die handelsverklarings wat MTI se kliënte aan FXChoice voorgelê het, het by MTI ontstaan en was op demo-handelsrekeninge en nie op werklike transaksies gegrond nie. FXChoice het daarna die balans van die kripto-bates wat aan MTI verbind was op sy platform bevries. Dié bates was 'n weglaatbare bedrag in vergelyking met die totale bates wat MTI beweer het hy namens sy kliënte belê het. FXChoice het bevestig dat MTI van 29 Januarie 2020 tot 3 Junie 2020 altesaam 1 846,72 bitcoin oorgeplaas en 'n verlies van 566,68 bitcoin gely het, 'n geskatte kapitaalverlies van 30%.
MTI het hierna beweer dat lede se kripto-bates van FXChoice na 'n platform genaamd Trade300 oorgeplaas is, en dat 16 444 bitcoin op 21, 22 en 24 Julie 2020 in vier paaiemente oorgedra is. Die FSCA het egter bevind dat MTI in Julie 2020 geen bitcoin van FXChoice onttrek het nie en dat die laaste sodanige onttrekking in Augustus 2019 plaasgevind het. Die owerheid kon net een verwysing na Trade300 op die internet vind, naamlik die platform se webwerf, wat "onder konstruksie" was en waaraan slegs die naam "Joe Steyn", 'n bekende alias van Steynberg, gekoppel was. Bewyse rakende Trade300 is tydens die klopjagte op Steynberg se rekenaar gevind, wat daarop dui dat Trade300 aan hom gekoppel was.
Die FSCA het bevind dat daar geen beduidende kripto-bates op enige handelsplatform gestoor is nie en dat die meeste kriptosaldo's in Steynberg se naam en onder sy beheer verskyn het, teen bedrae ver onder die geadverteerde saldo op MTI se handelsplatform wat aan beleggers verskuldig was.
Ineenstorting Steynberg het in Desember 2020 spoorloos verdwyn kort nadat die uitbetalings aan duisende lede van die skema opgedroog het, waarna die skema heeltemal ineengestort het. Hy het glo aan die begin van Desember landuit gevlug en hom waarskynlik in Brasilië bevind. Volgens gerugte was hy êrens in Suid-Amerika, en hy was na bewering die enigste persoon met toegang tot die kriptogeld ter waarde van miljarde rande wat verdwyn het nadat beleggers dit by hom belê het. Ná sy verdwyning het MTI se bestuurspan 'n verklaring uitgereik waarin gesê is dat die maatskappy se bankbesonderhede verander is en dat hulle nie kan waarborg dat beleggings veilig is nie. In 'n verklaring wat Moneyweb gepubliseer het, het MTI aangevoer dat Steynberg nie eerlik met die bestuur, leiers en lede van die maatskappy was nie en dat die bestuurspan sy samewerking aan wetstoepassingsagentskappe gee.
Die regsfirma Ulrich Roux & Associates, wat MTI in April 2020 aangestel het, het sy dienste onttrek nadat dit onder die firma se aandag gekom het dat Steynberg nie meer in Suid-Afrika is nie en dat die oorblywende lede van die bestuurspan geen manier het om met hom in verbinding te tree nie. Die firma het bygevoeg dat MTI se lede nie hul onttrekkings ontvang soos voorheen nie, en het aangedui dat hy sy samewerking aan die FSCA se ondersoek gee.
Die FSCA het in Desember 2020 strafregtelike klagte teen MTI by die polisie aanhangig gemaak omdat die owerheid van mening was dat die maatskappy en sy senior bestuur 'n onwettige onderneming bedryf, kliënte mislei en verskeie wette oortree het. Die owerheid het destyds gesê sy ondersoek na MTI is byna voltooi.
Meer as 170 000 mense wêreldwyd het glo miljarde rande in die skema verloor. Ondersoekers het beweer dat dieselfde name in die topbestuur van verskeie "word-vinnig-ryk-skemas" voorkom, dat al sulke skemas ná 'n ruk in duie stort en dat goedgelowige beleggers dan hul pensioen- of spaargeld verloor.
Likwidasie Anton Lee, 'n sakeman van Empangeni in KwaZulu-Natal, het in Desember 2020 'n dringende aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad gebring vir die likwidasie van MTI. Volgens sy beëdigde verklaring het MTI hom US$34 708,77 – sowat R500 000 – geskuld en was die maatskappy nie in staat om die bedrag te betaal nie omdat dit geen bates besit en geen inkomste verdien het nie. Lee het lont geruik toe MTI nie 'n betaling aan hom kon maak wat hy op 1 Desember aangevra het nie. Hy het in Januarie 2020 van MTI se beleggingsmoontlikheid gehoor, aanvanklik R3 000 belê en daarna verskeie bedrae geld sowel as bitcoin belê. Hy het ook sy uitgebreide familie oorreed om te belê, sodat hul gesamentlike beleggings sowat 'n miljoen rand beloop het. 'n Ander belegger, Steven Watkins, wat R150 000 belê het en sedert 21 Desember geen onttrekkings kon maak nie, het ook 'n likwidasie-aansoek ingedien. Lee het gesê dit is jammer dat beleggers nie vooraf geweet het van MTI se bestuurspan se agtergrond en hul vorige betrokkenheid by ander soortgelyke skemas soos BTC Global nie; dié skema het op dieselfde wyse tot 'n einde gekom.
Lee se aansoek is aanvanklik deur 'n groep beleggers, die MTI Recovery Action Group, teengestaan omdat hulle meer tyd wou hê om die beste besluit vir beleggers te neem. Ná 'n Zoom-vergadering met Lee se regspan het die groep besluit om sy aansoek te steun, en regter Owen Rogers het MTI op 29 Desember 2020 onder voorlopige likwidasie geplaas. Teen daardie tyd het sowat 280 000 beleggers wêreldwyd sowat R9,45 miljard by MTI belê. Nadat in die media berig is dat beleggers hul verliese teen 1 Maart 2021 op 'n spesifieke webwerf en by 'n spesifieke likwidateur moes aanmeld, het Lee se regspan gesê sulke eise kan by enige likwidateur ingedien word.
MTI is op 30 Junie 2021 deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof onder finale likwidasie geplaas.
Voorgestelde administratiewe boete In Augustus 2021 het die FSCA MTI in kennis gestel dat hy beoog om te vra dat 'n boete van R100 miljoen op die maatskappy gelê word vir die oortreding van verskillende wette wat op die finansiële sektor van toepassing is. Die brief is gerig aan Steynberg, wat aan die hoof van die maatskappy gestaan het en vermoedelik na Suid-Amerika gevlug het, sowel as aan Clynton en Cheri Marks, Charles Ward, Monica Coetzee, Romano Samuels, Leonard Gray, Usher Bell en die likwidateurs. Die geadresseerdes het tot 6 Augustus 2021 tyd gehad om kommentaar oor die ondersoek en die voorgestelde boete in te dien, waarna die FSCA met die voorgestelde afdwinging van die regulatoriese aksie sou voortgaan.