Milnerpark is die deel van Johannesburg waarop die Universiteit van die Witwatersrand gevestig is.

So vroeg as 13 Maart 1895 het Paul Kruger die tweede Randse skou op hierdie terrein geopen. In 1902 het die Transvaalse regering die stuk grond op voorstel van goewerneur Alfred Milner aan die Johannesburgse stadsraad geskenk om as ontspanningsterrein te gebruik. Drie jaar later is 13 ha daarvan as tentoonstellingsterrein aan die Witwatersrandse Landbougenootskap verhuur. Later is die hele westelike deel, d.w.s. 40 ha, as skouterrein gebruik. In 1916 is 30 van die 70 ha aan die oostekant gebruik om die nuwe universiteit te bou. Van 1907 tot 1985 is daar byna elke jaar 'n skou gehou. Die bekendstes was die Ryksskou van 1936 en die Randse Paasskou waartydens H.F. Verwoerd deur David Pratt geskiet is. Nou huisves die hele terrein die Weskampus van die universiteit met sy fakulteite vir ingenieurswese, handel en regte sowel as 3 koshuise.

Trivia Ook Milnerton is na lord Alfred Milner vernoem.

Verwysings

Kategorie:Johannesburg