duimnael|Een van die geboue by die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Krygsgeskiedenis Die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Krygsgeskiedenis is in Saxonwold, 'n voorstad van Johannesburg, in die Gautengprovinsie van Suid-Afrika geleë. Die doel van die museum is om vertoonstukke in te sluit uit die geskiedenis van alle konflikte waarby Suid-Afrika betrokke was. Die lugvaartvertoonstukke in die museum kan in verskillende temas ingedeel word. Daar is byvoorbeeld Duitse vliegtuie, vliegtuie wat deur die Britte geskenk is, vliegtuie van die Tweede Wêreldoorlog en moderne vliegtuie. Dan is daar verskillende items, insluitende ’n vliegtuigromp in die kinderspeelpark, ’n Link-nabootser en vliegtuigenjins.

Die name van die museum Die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Krygsgeskiedenis (SANMKG) is op 29 Augustus 1947 amptelik deur die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, Jan Smuts, geopen met die doel om die geskiedenis van Suid-Afrika se betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog te bewaar. In 1975 is die museum se naam van Suid-Afrikaanse Nasionale Oorlogsmuseum (so bekend tot 29 November 1974) verander en die funksie daarvan verander om alle konflikte in te sluit waarby Suid-Afrika betrokke was (vanaf 25 Maart 1975). In 1999 is die museum met die Pretoria-gebaseerde Transvaalmuseum en Nasionale Kultuurhistoriese Museum saamgesmelt om die Noordelike Vlagskipinstelling te vorm. In April 2010 is Ditsong amptelik as die Ditsong-museums van Suid-Afrika herdoop en die SANMKG is as die Ditsong Nasionale Museum vir Krygsgeskiedenis hernoem.

Aanwysings en ligging Die SANMKG kan vanaf die De Villiers Graaff-motorweg (die M1) bereik word. Neem die Rivieraweg-afrit (Johannesburg 17) hou aan tot by die T-aansluiting, draai regs by die T-aansluiting (Rivieraweg word Eastwoldweg) en gaan na Erlswoldweg. Die museum is naby die Johannesburg-dieretuin en Zoo Lake in Saxonwold, Gauteng geleë en kan ook vanaf Jan Smutsrylaan (via Upper Park-rylaan/Erlswoldweg, die M16) bereik word.

Duitse vliegtuie Die SANMKG het ’n versameling Duitse vliegtuie, wat uit ’n Messerschmitt Bf 109E, Focke-Wulf Fw 190 en Messerschmitt Me 262 bestaan. Hierdie vliegtuie is oor die jare op verskillende plekke in die museum vertoon. Die Fw 190 en die Me 262 is op 2 Januarie 2004 onder ’n skuiling vertoon. Die versameling Duitse vliegtuie het in 2004/2005 ’n nuwe tuiste by die SANMKG betrek.

Die Bf 109E-3 was die hoofsubtipe en model waarvan die meeste in die E-reeks gebou is en het voorsiening gehad vir een 20 mm MG FF-kanon wat deur die lugskroefnaaf afgevuur kan word en twee gewere bo die enjin. Daarbenewens kon twee gewere in die vlerk gemonteer word.

Focke-Wulf Fw 190A-6/R6 (as ’n R-8 gemodifiseer) Werknummer 550214 en kode PN-LU van die Luftwaffe het in 1946 in Suid-Afrika aangekom en is van die Suid-Afrikaanse Lugmag ontvang.

Messerschmitt Me 262B-1a/U1 110305 Rooi 8 is ’n tweesitplek-nagvegvliegtuigomskepping van die tweesitplekopleidingsweergawe van die Me 262. Die vliegtuig in die museum se versameling was aan Staffel 10 van Nachjagdgeschwader 11 toegewys. Die vliegtuig is gedurende die laaste tydperk van sy operasionele gebruik vanaf ’n tydelike fasiliteit op ’n gedeelte van die Autobahn gebruik. Die huidige kamoefleerskema van die masjien is verteenwoordigend van die skema wat spesifiek ontwikkel is om dit tussen die bome langs die Autobahn te verberg.

Die Britse skenking Suid-Afrika het vliegtuie, onderdele, werkswinkelfasiliteite, loodse en so meer van Brittanje ontvang. Die Britse skenking het 22 Royal Aircraft Factory SE.5a Scout Experimental- en 48 Airco DH9-vliegtuie ingesluit. Die eerste klompie van hierdie vliegtuie is teen September 1919 na Suid-Afrika verskeep.

Royal Aircraft Factory SE.5a Scout Experimental SE.5a SALM 320 het in 1946 na die Oorlogsmuseum gegaan. Die vliegtuig was vir baie jare silwer met nasionale kentekens van oranje, wit en blou geverf, maar is later met die reeksnommer D6856 en in die kleure en merke van die Suid-Afrikaanse baasvlieënier Andrew Weatherby Beauchamp-Proctor geverf soos dit in die tydperk 8 tot 27 Augustus 1918 gebruik is.

Nadat die Royal Aircraft Factory SE.5a Scout Experimental in die museum aanvanklik silwer geverf was, is dit gerestoureer en is nou solied aan die een kant en deursigtig aan die ander kant en het die reeksnommer D6856. Dit verteenwoordig die enigste Wolseley-geboude vliegtuig wat deur Andrew Beauchamp-Proctor gevlieg is en het die kleure en merke van 84 Eskader van die Royal Flying Corps.

Die Airco/De Havilland DH9 Die DH9’s wat aan Suid-Afrika verskaf is, was die standaard dagbomwerperweergawe wat met AS Puma-enjins van 230 perdekrag toegerus was en het vir die eerste paar jaar hulle Britse Koninklike Lugmag-reeksnommers opgehad totdat ’n SALM-stelsel in 1923 bekend gestel is. Net vier DH9’s is teen die einde van 1921 gemonteer en is hoofsaaklik gebruik om ervaring op te doen. Nog vliegtuie is in 1922 gemonteer. Later is die vliegtuie met handgewerkte kameras vir lugopmetingswerk gebruik, en in Januarie 1925 het 10 vliegtuie ’n eksperimentele lugposdiens tussen Kaapstad en Durban bedryf. Die DH9’s is tot 1937 gebruik, toe Wapitis en die Hartbees hulle funksie oorgeneem het. Voormalige Britse Koninklike Lugmag-vliegtuie met D-nommers het reeksnommers in die blok 101 tot 119 ontvang en dié met H-nommers het reeksnommers in die blok 121 tot 150 ontvang. Die vliegtuie is deur Cubitt Beperk (101 tot 119) en die Alliance Aeroplane-maatskappy (121 tot 150) gebou.

In SALM-diens het die DH9’s nommers in die reeks 101 tot 150 gehad en is tot 1937 gebruik. Volgens Brent 2005 is sommige van hierdie vliegtuie in Desember 1937 te koop aangebied en het plaaslike burgerlike registrasies ontvang. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is DH9’s ZS-AOE en ZS-AOI as onderskeidelik reeksnommers 2001 en 2005 vir SALM-diens ingespan. Later is beskadigde of verouderde vliegtuie aan verskillende grondskole uitgereik en as instruksielugrame gebruik om aan vakleerlinge die geleentheid te bied om opleiding op werklike vliegtuie te ontvang. IS-nommers is aan Kategorie B-lugrame toegeken (dit wil sê vliegtuie wat waarskynlik nie weer sou vlieg nie). DH9’s 2001 en 2005 het die instruksielugrame IS 7 en IS 8 geword. Die DH9 wat in die museum uitgestal word, is moontlik een van hierdie twee vliegtuie.

Vliegtuie van die Tweede Wêreldoorlog Museum-vliegtuie in hierdie kategorie behels ’n Supermarine Spitfire Mk VIIIC, Hawker Hurricane Mk IIC (Tropiese weergawe), Hawker Hartbees, De Havilland DH98 Mosquito Mk IX, Messerschmitt Bf-109F2 Trop en ’n Douglas Dakota.

Hawker Hartbees Die Hawker Hartbees was ’n variant van die Hawker Audax, wat as ’n leërondersteuningsvliegtuig ontwerp is en in 1934 ingevolge die SALM-uitbreidingsprogram bestel is. Die Hartbees is, net soos die Westland Wapiti voor dit, ingevolge ’n lisensie in Suid-Afrika gebou. Die eerste vier vliegtuie is in Engeland vervaardig. Hierdie vier vliegtuie is in Oktober 1935 na Suid-Afrika verskeep. Nadat hulle in Kaapstad gemonteer is, is hulle getoetsvlieg en die eerste twee het op 22 Oktober 1935 na Pretoria gevlieg. Nog 65 vliegtuie is ingevolge ’n lisensie in Suid-Afrika gebou. Die Hartbees-vliegtuie het nommers in die reeks 801 tot 869 ontvang. Die eerste van die plaaslik vervaardigde vliegtuie het in Julie 1937 opgestyg. Die Hartbees is gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur 1, 11, 13, 40 en 41 Eskader bedryf.

Hawker Hurricane Voor, gedurende en ná die Tweede Wêreldoorlog het verskillende SALM-eenhede verskillende modelle van die Hurricane bedryf. Hurricane IIB’s, IIC’s en IV’s het SALM-nommers in die reeks 5201 tot 5355 gehad. Die museum se voorbeeld is die tropiese weergawe van die Mk IIC en het die SALM-reeksnommer 5285 (oud-LD619). Die kleurskema van die masjien kan beskryf word as donker aardbruin, donkergroen en asuurblou met ’n rooi naafdop asook ’n blou, wit en oranje vlag op die stertvin soos in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is. Die nasionale kenteken is van die Tipe C1 op die romp (goud, blou, wit en oranje) en die Tipe C onder die vlerk (blou, wit en oranje). Hierdie vliegtuig het oënskynlik as AX-E met die A-vlug van 11 Operasionele Opleidingseenheid gedien. Die basiese kleurskema van die vliegtuig is korrek, maar die goud van die Tipe C1- nasionale kenteken behoort geel te wees en daar behoort geel opleidingstroke om die agterste deel van die romp en vlerke te wees asook kodeletters op ’n geel agtergrond op die romp en die naafdop behoort wit te wees.

De Havilland Mosquito Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het 60 Eskader die De Havilland DH98 Mosquito gebruik. Die eenheid se hooftaak was fotografiese dekking van die Duitse gevegslinies. Die vliegtuig in die museum se versameling is ’n fotoverkenningsweergawe van die PR IX met die reeksnommer LR480 en die naam Lovely Lady. Die fotoverkenningsweergawe van die PR IX is in die tweede helfte van 1943 gebou. LR480 het 75 uur in totaal gevlieg toe dit aan die SALM se 60 Eskader toegeken is. Ene kolonel Glynn Davies is in Desember 1944 na die Unie van Suid-Afrika teruggepos. Hy het die idee gehad om ’n nuwe rekord vir die vlug van Kaïro na Pretoria op te stel. LR480 is vir sy terugvlug aan hom toegewys sodat hy kon probeer om die rekord te verbeter. By sy aankoms in Kaïro het kolonel Davies se bevelvoerende offisier, brigadier Peter Hingeston by hom aangesluit. Die rekordpoging het ’n rampspoedige einde gehad as gevolg van ’n te kort landingstrook by Que Que (in die voormalige Suid-Rhodesië). Die beskadigde Mosquito is na Thornhill-stasie geneem, en dit het 20 maande geneem om die skade te herstel. Gedurende hierdie tyd is ’n ander 60 Eskader Mosquito wat aan die einde van vyandelikhede na Suid-Afrika teruggekeer het, beskadig terwyl dit by Kumalo (Bulawayo) geland het. Die stertvlerk van LR480 is gebruik om daardie vliegtuig te herstel en die beskadigde stertvlerk is herstel en op LR480 gemonteer. Aangesien geen PRU-blou verf by Thornhill beskikbaar was nie, is die beskadigde dele silwer geverf. ’n Bemanning bestaande uit kaptein PJ Stofberg en luitenant Knottenbelt het LR480 op 26 Augustus 1946 getoetsvlieg en dit die volgende dag teruggevlieg na Suid-Afrika. By aankoms in Pretoria is die vliegtuig by 15 Lugdepot gestoor. Nommer LR480 is in 1948 aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Oorlogsmuseum gegee en word tans in die museum uitgestal.

Messerschmitt Bf 109F-2/Trop Die Messerschmitt Bf 109F-2/Trop in die museum se versameling is in 1942 by Marble Arch in die Libiese woestyn deur 7 Eskader van die SALM gebuit. Die Bf 109F het ’n nuwe vlerk met ronde punte en ’n effens groter span asook ’n intrekbare stertwiel gehad. Die F-2/Trop (spesiale lugfilter) was ’n tropiese weergawe wat vir gebruik in Noord-Afrika ontwerp is. Die masjien is in ’n woestynkleurskema geverf en is deur Jagdgeschwader 27 van III Gruppe van die Luftwaffe bedryf.

Supermarine Spitfire Supermarine Spitfire HF Mk VIII JF294 het in 1944 deel van die Unie van Suid-Afrika se Vryheidskavalkades uitgemaak en is vervolgens aan 11 Operasionele Opleidingseenheid toegewys (die reeksnommer 5501 is aan die vliegtuig gegee) voordat dit in Oktober 1945 na 7 Vleuel oorgeplaas is. Die vliegtuig is in Desember 1948 aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Oorlogsmuseum geleen en in 1955 permanent na die museum oorgeplaas.

Douglas Dakota Nadat Douglas Dakota reeksnommer 6850(2) eers in ’n moderne kleurskema geverf was, is dit in ’n kleurskema van die Tweede Wêreldoorlog oorgeverf. Die skroefvliegtuig is as ’n Douglas C-47B-20/23-DK met die konstruksienommer 15564/27099 gebou en met die USAAF-reeksnommer 43-49838 afgelewer voordat dit as KN231 aan die Britse Koninklike Lugmag (die RAF) afgelewer is. In die RAF het die masjien deel van verskillende eenhede gevorm.

Moderne vliegtuie