Die Koninklike Sterrewag aan die Kaap die Goeie Hoop was 'n sterrewag en wetenskaplike instelling in Kaapstad, Suid-Afrika. Dit is deur die Britse Raad van die Lengtegraad in 1820 gestig en die hoofgebou huisves deesdae die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag.
Die instelling was op 'n klein heuweltjie 5 km suidoos van die sentrum van Kaapstad geleë. Gedurende die daaropvolgende eeu het 'n voorstad in die gebied van die Observatorium gevorm en is na aanleiding daarvan Observatory genoem. Die sterrewag het weens die stad se ligte mettertyd sy effektiwiteit begin verloor, tog het verskeie teleskope tot in die 1990's in gebruik gebly. Hierdie teleskope word deesdae selde gebruik, behalwe vir publieke skakeling en bewusmaking. Alan Cousins was die laaste ernstige waarnemer wat vanaf die Kaapse Koninklike Sterrewag se terrein gewerk het. Dit is in Desember 2018 tot 'n Nasionale Erfenisterrein verklaar en was deel van 'n gevallestudie deur die Internasionale Raad vir Monumente en Terreine (ICOMOS) vir 'n Wêrelderfenisterrein. alt=Die McClean teleskoopgebou en koepel.|duimnael|309x309px|Die McClean teleskoopgebou en koepel.
Geskiedenis regs|duimnael| Die Sterrewag in 1857. regs|duimnael| Plan van die Koninklike Sterrewag-gebou, omstreeks 1840. Die geskiedenis van die Koninklike Sterrewag was reeds die onderwerp van verskeie werke. Die voorstel vir die bou van 'n sterrewag in Suid Afrika het heel waarskynlik sy ontstaan by dieselfde groep wat die Royal Astronomical Society in die Verenigde Koninkryk gestig het. Die amptelike stigting van die Koninklike Sterrewag, Kaap die Goeie Hoop, het op 20 Oktober 1820 plaasgevind deur 'n bevel van Koning George IV van die Verenigde Koninkryk. Gedurende die 19de eeu is die Sterrewag beskou as die belangrikste verwysingsbron vir wetenskaplike sake aan die Kaapkolonie. Dit het 'n aparte entiteit gebly tot 1972 toe dit met die Republiek-sterrewag van Johannesburg saamgesmelt het om die huidige Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag te vorm. Dit het gedien as die bewaarplek vir standaardgewigte en -mate van die Kolonie en was verantwoordelik vir tydhouding en geodetiese opmeting. Die Sterrewag besit ook 'n lang reeks meteorologiese rekords. 'n Magnetiese observatorium is in 1841 gebou, maar het gedurende die daaropvolgende dekade afgebrand.
Die Sterrewag het hoofsaaklik op astrometrie gefokus en is verantwoordelik vir die publikasie van verskeie katalogusse van sterposisies en ander navorsing.
In die 20ste eeu het dit ook na astrofisika gekyk, maar teen die vyftigerjare het Kaapstad se stadsligte die waarneming van dowwe sterre en hemelliggame só bemoeilik dat 'n nuwe terrein in die veel donkerder, droë Karoo gesoek moes word. 'n Amptelike ooreenkoms met betrekking to die verskuiwing is op 23 September 1970 bekragtig.
Die Koninklike Sterrewag was verantwoordelik vir 'n hele aantal belangrike gebeurtenisse in die geskiedenis van sterrekunde. Die tweede koninklike Sterrekundige aan die Kaap, Thomas Henderson en sy assistent, Luitenant William Meadows, het die eerste waarnemings gemaak wat tot 'n geloofwaardige sterparallaks gelei het, naamlik van Alpha Centauri. Hy moes egter die erkenning as die ontdekker van sterparallaks aan Friedrich Wilhelm Bessel afstaan, aangesien Bessel sy latere waarnemings van 61 Cygni gepubliseer het voor Henderson sy waarneming gepubliseer het.
Omstreeks 1840 het Thomas Maclear die metings van die omstrede meridiaan van Nicolas-Louis de La Caille bevestig. Dit het getoon het dat La Caille se geodetiese metings korrek was, hoewel berge sy bepalings van die breedtegraad beïnvloed het. Volume 1; Volume 2.
In 1882 het David Gill lang beligte foto's van die groot komeet van 1882 gemaak. Dit het die teenwoordigheid van sterre in die agtergrond getoon en daartoe gelei dat hy, in samewerking met JC Kapteyn van Groningen, die Kaapse Fotografiese Durchmusterung aangepak het, die eerste sterrekatalogus wat met behulp van fotografie gemaak is. Na 'n voorstel van Gill aan Admiraal AEB Mouchez van die Paryse Sterrewag, is 'n internasionale kongres om 'n fotografiese katalogus van die hele hemelruim te maak in 1887 in Parys gehou. Dit het tot die Carte du Ciel -projek gelei, wat beskou word as die voorloper van die Internasionale Astronomiese Unie. Die sone tussen deklinasies −40° en −52° is aan die Kaapse Sterrewag toegewys.
In 1897 het Frank McClean, 'n goeie vriend van Gill en die skenker van die McClean-teleskoop, die teenwoordigheid van suurstof in 'n aantal sterre ontdek. Hy het 'n prisma gebruik wat aan die Astrografiese Teleskoop geheg was.
In 1911 het JKE Halm 'n baanbrekersartikel oor sterdinamika voorgelê met die hipotese het dat die sterstrome wat deur Kapteyn ontdek is, ontstaan het uit 'n Maxwelliaanse verspreiding van stersnelhede. Hierdie artikel stel ook vir die eerste keer voor dat daar 'n verhouding tussen sterre se massa en waarneembare ligsterkte is.
H. Spencer Jones het in die latere deel van die 20ste eeu navorsing gedoen as deel van 'n internasionale projek om die sonparallaks te bepaal deur waarnemings van die dwergplaneet Eros.
Ook in die tweede helfte van die twintigste eeu het Alan Cousins baie presiese standaarde vir die Suidelike halfrond vir UBV- fotometriese stelsel opgestel, waarvolgens sterre volgens kleur in die ultraviolet tot visuele ligspektrum geklassifiseer word. Hy het ook 'n stelsel ontwikkel vir VRI- fotometrie (Visueel- Rooi- Infrarooi) wat internasionaal erken is vir die presisie daarvan.
Joseph Churms het die okkultasie van die ster SAO 158687 in 1977 waargeneem en so bevestiging verskaf vir die waarneming van die ringe van Uranus wat deur die span sterrekundiges gelei deur James L. Elliot vanaf die Kuiper-vlieënde sterrewag ontdek is.
Sterrekundiges aan die Kaap regs|duimnael| Thomas Henderson, sy Majesteit se Sterrekundige aan die Kaap, 1831–1833 Die direkteure van die Koninklike Sterrewag was bekend as Sy of Haar Majesteit se Sterrekundiges aan die Kaap. Hulle was soos volg:
Eerw. Fearon Fallows 1820–1831 Thomas Henderson 1831–1833 Sir Thomas Maclear 1833–1879 Edward James Stone 1870–1879 David Gill 1879–1907 Sydney Samuel Hough 1907–1923 Harold Spencer Jones 1923–1933 John Jackson 1933–1950 Richard Hugh Stoy 1950–1968 George Alfred Harding was bevelvoerder van 1969 tot 1971
Ander noemenswaardige personeel van oor die jare sluit ook in:
Charles Piazzi Smyth 1835–1845. Later Koninklike Sterrekundige vir Skotland. William Lewis Elkin 1881–1883. Later direkteur van die Yale-universiteit Sterrewag. Frank McClean 1895–1897. Ontdekker van suurstof in sterre. Willem de Sitter 1897–1899. Later 'n bekende kosmoloog en direkteur van die Leidse Sterrewag. Robert Thorburn Ayton Innes 1897–1903. Ontdekker van die naaste ster en later direkteur van die Unie (Republiek) Sterrewag Jakob Karl Ernst Halm 1907–1927. Ontdekker van die massa-lichtsterkte-verhouding en pionier van sterdinamika. Joan George Erardus Gijsbertus Voûte . Later stigter en direkteur van die Bosscha-sterrewag . Alan William James Cousins 1947–1971. Bekende fotometris. David Stanley Evans 1951–1968. Bekend vir die Barnes-Evans-verhouding.
Lys van primêre geboue 'n Volledige opname is in 2011 van die geboue by die Sterrewag gedoen. Die geboue sluit in: duimnael| McClean-gebou
Hoofgebou, in 1828 voltooi. Griekse herlewingstyl; Argitek John Rennie. Dit bevat vandag kantore en 'n noemenswaardige astronomiese biblioteek. Fotoheliograafgebou, 1849 (voorheen die 7-duim Merz-teleskoopgebou genoem). Die gebou se koepel roteer op ou kanonkoeëls. Heliometer, 1888 (nou met 'n 18-duim-spieël toegerus). Die koepel, deur die Grubb Teleskoop Maatskappy, is ontwerp om ventilasie deur die koepel te laat trek. McCleangebou en laboratorium, 1896, ontwerp deur Sir Herbert Baker, nou die Astronomiese Museum, met n hidrouliese stygende vloer. Astrografiese gebou, 1889. Koepel deur die Grubb Teleskoop Maatskappy. Omkeerbare Transitsirkel, 1905. Twee elk: Kollimatorhuis en Merkhuis. (6-duim) Tegniese Gebou (ongeveer 1987) Ouditorium, oorspronklik gebou om as 'n werkswinkel vir die herstel van optiese instrumente tydens die Tweede Wêreldoorlog te dien.
Primêre teleskope duimnael| Victoria-refraktor
4-duim fotoheliograaf, 1875, deur Dallmeyer 6-duim visuele refraktor, 1882, deur die Grubb Teleskoop Maatskappy Astrografies, 1889, 13-duim fotografiese en 10-duim gidsrefraktors deur die Grubb Teleskoop Maatskappy. Gebruik vir die Kaapse Astrografiese Sone, soos reeds genoem, en deur F. McClean gebruik vir spektroskopie. McClean- of Victoria-teleskoop, 18-duim visuele, 24-duim fotografiese en 8-duim gidsrefraktors deur die Grubb Teleskoop Maatskappy. 6-duim omkeerbare transitsirkel, 1905. Ontwerp deur Sir David Gill en gebou deur Troughton & Simms. Gebruik onder andere vir die suidelike deel van die Fundamentele Katalogus van Sterre FK4. 18-duim-reflektor deur Cox, Hargreaves en Thomson, 1955. Gids-teleskoop is 7-duim Merz. 40-duim-reflektor, 1964, deur Grubb Parsons. In 1972 is dit na Sutherland verskuif.
Astronomiese Museum Die voormalige spektroskopiese laboratorium van die McClean-teleskoop met die oorspronklike 19de-eeuse toerusting is in 1987 in 'n museum omskep. Die gebou bevat steeds die oorspronklike hidrouliese apparaat wat die vloer vir waarneming kon lig, en 'n donkerkamer wat voorbeelde van ou donkerkamertoerusting bevat. Items wat uitgestal word, sluit in teleskoopmodelle, meetapparaat, Dollond altazimuth-instrumente uit 1820 en instrumente deur Bamberg uit ongeveer 1900, rekenmasjiene, vroeë kantoortoerusting, geskiedkundige elektroniese toestelle, antieke teleskooplense, die fotografiese teleskope van Gill en 'n uurwerk-teleskoopaandrywing.
Natuurlike omgewing Die Koninklike Sterrewag se terrein is geleë in die Twee Riviere Stedelike Park vleiland. Die onderliggende rots is Malmesbury-skalie wat stukke kwartsitiese kalksteen bevat. 'n Gedeelte van die ongerepte natuur het bewaar gebly en dit bevat 'n wye verskeidenheid diere en plante. Dit is die noordelike grens van die Westelike Luiperdpadda (Bufo Pantherinus) en die enigste oorblywende natuurlike habitat van die seldsame Blouooguintjie, Moraea aristata.
Verwysings
Eksterne skakels
Webwerf van die Royal Oservatory, Cape of Good Hope, op die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap se werf Kategorie:Erfenishulpbronne in Suid-Afrika Kategorie:Koördinate op Wikidata Kategorie:Sterrekunde Kategorie:Sterrewagte