Ratko Mladic (Kroaties: Ratko Mladić, Serwies-Cyrillies: Ратко Младић; 12 Maart 1942 – 27 Augustus 2026) was 'n Bosnies-Serwiese militêre offisier wat die Leër van Republika Srpska (VRS) gedurende die Joego-Slawiese oorloë aangevoer het. Hy is in die volksmond die "Slagter van Bosnië" genoem, en is in 2017 deur die Internasionale Straftribunaal vir die voormalige Joego-Slawië (ICTY) skuldig bevind aan oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord. Hy het tot met sy dood in 2026 'n lewenslange vonnis vir hierdie misdade in Den Haag uitgedien.
Mladic was 'n jarelange lid van die Bond van Kommuniste van Joego-Slawië en het sy loopbaan in 1965 in die Joego-Slawiese Volksleër (JNA) begin. Hy het tydens die Joego-Slawiese oorloë op die voorgrond getree, aanvanklik as 'n hooggeplaaste offisier van die JNA en daarna as stafhoof van die Leër van Republika Srpska in die Bosniese Oorlog van 1992-1995. In Julie 1996 het die verhoorkamer van die ICTY, wat ingevolge die ICTY se Reël 61 in Mladic se afwesigheid verrig is, al die aanklagte van die oorspronklike aanklagstate bevestig. Die kamer het bevind dat daar redelike gronde was om te glo dat hy die beweerde misdade gepleeg het, en het 'n internasionale lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik. Die Serwiese en Amerikaanse regerings het €5 miljoen aangebied vir inligting wat tot Mladic se opsporing en inhegtenisneming sou lei, maar hy het byna sestien jaar lank voortvlugtig gebly – aanvanklik met die beskerming van Serwiese en Bosnies-Serwiese veiligheidsmagte en later dié van sy familie.
Mladic is in 2011 in Lazarevo in Serwië in hegtenis geneem en aan Den Haag uitgelewer. Sy inhegtenisneming is beskou as een van die voorwaardes vir Serwië om kandidaatstatus vir lidmaatskap van die Europese Unie te verkry. Sy verhoor het in 2012 formeel begin en tot 2017 geduur, toe hy deur die ICTY tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is nadat hy op tien aanklagte skuldig bevind is: een van volksmoord, vyf van misdade teen die mensdom en vier van skendings van die wette of gebruike van oorlog. Hy is op 'n verdere aanklag van volksmoord onskuldig bevind. As die hoogste militêre offisier met bevelvoerdersaanspreeklikheid is Mladic deur die ICTY verantwoordelik gehou vir sowel die beleg van Sarajevo as die slagting van Srebrenica.
Vroeë lewe en militêre loopbaan Mladic is op 12 Maart 1942 in Bozanovici naby Kalinovik gebore, destyds deel van die Onafhanklike Staat Kroasië.
Sy vader, Neda (1909-1945), was 'n lid van die Joego-Slawiese Partisane. Sy moeder, Stana (gebore Lalovic; 1919-2003), het haar drie kinders – dogter Milica (gebore 1940) en seuns Ratko en Milivoje (1944-2001) – alleen grootgemaak ná die dood van haar man in 1945 tydens die Tweede Wêreldoorlog. Bosnië en Herzegowina was destyds deel van die Onafhanklike Staat Kroasië, 'n fascistiese marionetstaat wat tussen 1941 en 1945 deur die Kroatiese Ustase gelei is en deur Nazi-Duitsland en fascistiese Italië ingestel is nadat hulle die Koninkryk Joego-Slawië in 1941 binnegeval en verdeel het. Mladic se vader Neda is in 1945 – op Mladic se derde verjaardag – gedood terwyl hy 'n Partisaan-aanval op die tuisdorpie van Ustase-leier Ante Pavelic gelei het.Adam Lebor, Milosevic: A Biography, p. 4.
Nadat hy laerskool voltooi het, het Mladic in Sarajevo as blikslaer vir die maatskappy PRETIS gewerk. Hy het in 1961 by die Militêre Nywerheidskool in Zemun ingeskryf. Daarna het hy die KOV-militêre akademie en vervolgens die offisiersakademie bygewoon. Ná sy studies op 27 September 1965 het Mladic sy loopbaan in die Joego-Slawiese Volksleër begin. In dieselfde jaar het hy by die Bond van Kommuniste van Joego-Slawië aangesluit en lid gebly totdat die party in 1990 uitmekaar geval het. Mladic is aanvanklik na Masedonië gestuur en het in die daaropvolgende dekades deur die range gevorder deur agtereenvolgens 'n peloton, 'n pantserbataljon en 'n brigade te beveel.
Op 31 Januarie 1989 is Mladic bevorder tot hoof van die opleidingsafdeling van die Derde Militêre Distrik van Skopje. Op 14 Januarie 1991 is hy weer bevorder, tot adjunkbevelvoerder in Pristina.
Rol in die Joego-Slawiese oorloë In Junie 1991 is Mladic bevorder tot adjunkbevelvoerder van die Pristina-korps in die Sosialistiese Outonome Provinsie Kosovo, in 'n tyd van groot spanning tussen die Serwiërs van Kosovo en Kosovo se Albanese meerderheidsbevolking. In daardie jaar het Mladic bevel oor die 9de Korps gekry en hierdie formasie teen Kroatiese magte in Knin, die hoofstad van die selfverklaarde Republiek van die Serwiese Krajina, aangevoer.
Op 4 Oktober 1991 is Mladic tot generaal-majoor bevorder. Die JNA-magte onder sy bevel het aan die Kroatiese Onafhanklikheidsoorlog deelgeneem, veral tydens Operasie Kus-91, 'n poging om Dalmasië van die res van Kroasië af te sny, wat op 'n dooiepunt uitgeloop het (die Kroate het die hele kuslyn naby Zadar en Sibenik behou, en die Serwiese Krajina het sy gebied in die binneland uitgebrei). Onder die ander vroeë operasies het Mladic Milan Martic se burgermag in die beleg van Kijevo van 1991 en in die slag van Zadar bygestaan.
Op 24 April 1992 is Mladic tot die rang van luitenant-kolonel-generaal bevorder. Op 2 Mei 1992, een maand ná Bosnië en Herzegowina se onafhanklikheidsverklaring, het Mladic en sy generaals die stad Sarajevo geblokkeer deur alle verkeer in en uit die stad, sowel as die water- en elektrisiteitstoevoer, af te sny. Dít was die begin van die vierjarige beleg van Sarajevo, die langste beleg van 'n stad in die geskiedenis van moderne oorlogvoering. Die stad is met granate en skerpskuttervuur bestook. Op 9 Mei 1992 het hy die pos van stafhoof/adjunkbevelvoerder van die hoofkwartier van die Tweede Militêre Distrik van die JNA in Sarajevo aanvaar. Die volgende dag het Mladic bevel oor die hoofkwartier van die Tweede Militêre Distrik van die JNA oorgeneem. Op 12 Mei 1992 het die Bosnies-Serwiese parlement, in reaksie op Bosnië se afskeiding van Joego-Slawië, gestem om die Leër van Republika Srpska (afgekort VRS) te stig. Terselfdertyd is Mladic aangestel as bevelvoerder van die hoofstaf van die VRS, 'n pos wat hy tot Desember 1996 beklee het. Tydens die 16de sitting van die Bosnies-Serwiese vergadering op 12 Mei 1992 het Radovan Karadzic sy "ses strategiese doelwitte" aangekondig, waaronder "Afbakening van die staat as apart van die ander twee nasionale gemeenskappe", "'n Korridor tussen Semberija en Krajina" en "Vestiging van 'n korridor in die vallei van die Drinarivier, en die uitwissing van die Drinarivier as 'n grens tussen die Serwiese state." Mladic het toe gesê:
In Mei 1992, ná die onttrekking van JNA-magte uit Bosnië, het die Tweede Militêre Distrik van die JNA die kern van die hoofstaf van die VRS geword. Op 24 Junie 1994 is hy bevorder tot die rang van kolonel-generaal oor ongeveer 80 000 soldate wat in die gebied gestasioneer was.
In Julie 1995 het troepe onder Mladic se bevel, terwyl hulle deur NAVO-lugaanvalle geteister is wat bedoel was om nakoming van 'n VN-ultimatum om swaar wapens uit die Sarajevo-omgewing te verwyder af te dwing, die VN- "veilige gebiede" van Srebrenica en Zepa oorrompel en beset. By Srebrenica is meer as 40 000 Bosniake wat daar veiligheid gesoek het, verdryf. Na raming is 8 300 op Mladic se bevel vermoor."UN peacekeeping in civil wars", p. 49. Besoek op 13 November 2010."The suitcase: refugee voices from...", p. 12. Besoek op 13 November 2010. Nadat Srebrenica geval het, het Mladic later voor die kamera gesê:
Op 4 Augustus 1995, met 'n groot Kroatiese militêre mag gereed om die Serwies-beheerde streek in sentraal-Kroasië aan te val, het Radovan Karadzic aangekondig dat hy Mladic uit sy pos verwyder en self persoonlik bevel oor die VRS oorneem. Karadzic het Mladic blameer vir die verlies van twee belangrike Serwiese dorpe in Wes-Bosnië wat kort tevore aan die Kroatiese leër geval het, en hy het die verlies van die dorpe as verskoning gebruik om sy verrassende veranderinge aan die bevelstruktuur aan te kondig. Mladic is tot "adviseur" gedegradeer. Hy het geweier om stilweg te vertrek en aanspraak gemaak op die steun van sowel die Bosnies-Serwiese weermag as die volk. Karadzic het gereageer deur Mladic as 'n "waansinnige" te veroordeel en te probeer om sy politieke rang te verwyder, maar Mladic se duidelike steun onder die bevolking het Karadzic genoop om sy bevel op 11 Augustus te herroep.The Hague's Most Wanted – timeline of events . Southeast European Times. (21 Julie 2008). Besoek op 13 November 2010. Sy optrede gedurende die oorlog het daartoe gelei dat baie mense hom "die Slagter van Bosnië" genoem het.
Verskeie van Mladic se gesprekke is gedurende die oorlog opgeneem:
Op 8 November 1996 het Biljana Plavsic, die president van die Bosnies-Serwiese republiek, Mladic uit sy pos ontslaan. Hy het tot November 2005 steeds 'n pensioen ontvang.
Aanklag deur die ICTY duimnael|Die gebou van die Internasionale Straftribunaal vir die voormalige Joego-Slawië in Den Haag
Op 24 Julie 1995 is Mladic deur die Internasionale Straftribunaal vir die voormalige Joego-Slawië (ICTY) aangekla van volksmoord, misdade teen die mensdom en talle oorlogsmisdade (waaronder misdade rakende die beweerde skerpskutterveldtog teen burgerlikes in Sarajevo). Op 16 November 1995 is die aanklagte uitgebrei om aanklagte van oorlogsmisdade vir die aanval op die VN-verklaarde veilige gebied van Srebrenica in Julie 1995 in te sluit.
As voortvlugtige van die ICTY is vermoed dat hy hom óf in Serwië óf in Republika Srpska skuilhou. Daar is berig dat Mladic in Maart 2000 'n sokkerwedstryd tussen China en Joego-Slawië in Belgrado bygewoon het. Hy het deur 'n VIP-ingang binnegekom en in 'n privaat losie gesit, omring deur agt gewapende lyfwagte. Daar was bewerings dat hy in 'n voorstad van Moskou gesien is, en dat hy "gereeld" Thessaloniki en Athene besoek het, wat vermoedens laat ontstaan het dat talle vals berigte gestuur is om sy spoor te verdoesel. Sommige berigte het gesê dat hy in sy oorlogstydse bunker in Han Pijesak, nie ver van Sarajevo nie, of in Montenegro skuiling gesoek het.
Vroeg in Februarie 2006 is gedeeltes van 'n Serwiese militêre intelligensieverslag aan die Serwiese koerant Politika uitgelek. Daarin is gesê dat Mladic tot 1 Junie 2002 in fasiliteite van die Leër van Republika Srpska en die Joego-Slawiese leër weggesteek is, toe die Nasionale Vergadering van Serwië 'n wet aangeneem het wat samewerking met die ICTY in Den Haag verpligtend gemaak het. Die destydse hoofgeneraal van die Joego-Slawiese leër, Nebojsa Pavkovic, het versoek dat Mladic die fasiliteit ontruim waar hy op die berg Povlen naby Valjevo verblyf gehou het, waarna die Serwiese militêre agentskappe beweer dat hulle alle spoor van hom verloor het.
Mladic het aanvanklik vryelik in Belgrado gewoon. Ná die inhegtenisneming van Slobodan Milosevic in 2001 het Mladic ondergronds gegaan, maar hy is steeds deur Serwiese veiligheidsdienste en die weermag beskerm. Serwië se versuim om Mladic voor die gereg te bring, het sy verhouding met die Europese Unie ernstig geskaad.
In 2004 het Paddy Ashdown, destyds die Hoë Verteenwoordiger van die Verenigde Nasies in Bosnië en Herzegowina, 58 amptenare uit hul poste verwyder weens vermoedens dat hulle oorlogsmisdaadverdagtes, waaronder Mladic en Karadzic, gehelp het om inhegtenisneming te ontduik. Sommige amptenare is aan reisverbode onderwerp en hul bankrekeninge is bevries. Die verbod is later ná Mladic se opsporing opgehef.