Kaatje Kekkelbek is ‘n fiktiewe satiriese karakter wat ‘n rol gespeel het in die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans as taal.
Kaatje Kekkelbek, or Life among the Hottentots is ‘n plat-komiese klug, ‘n alleenspraak, bestaande uit sewe versies gemeng met prosa. Dit is geskryf in ‘n mengsel van die Kaapse Nederlands en Engels van die middel van die 19de eeu.
Die satire gee voor om gesing en voorgedra te word deur ‘n rondswerwende Khoisan-meisie, ‘n gladdebek dief, skinderbek, dief en tronkvoël genaamd Kaatje Kekkelbek. Sy hekel die filantropiese dwaashede van die vroeë sendelinge (veral dr. John Philip). Met haar spot en kritiek sien sy niemand oor die hoof nie.
Hierdie skets is belangrik as voorbeeld van ‘n vroeë voorloper van Afrikaans en is geskryf deur Andrew Geddes Bain en ene Rex in die laat 1830’s. Op 5 November 1838 het die eerste openbare opvoering in Grahamstad plaasgevind. The South African Sentinel was op 4 Maart 1839 die eerste om dit in druk te laat verskyn. Sedertdien was daar verskeie opvoerings.
Lees ook Mengtaal
Bibliografie https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=55535 https://esat.sun.ac.za/index.php/Kaatje_Kekkelbek,_or_Life_Among_the_Hottentots https://mansellupham.wordpress.com/2020/09/19/kaatje-kekkelbek-or-life-among-the-hottentots-by-andrew-geddes-bain-1797-1864-featuring-verbatim-the-original-text-plus-expanded-english-text-with-explanatory-notes-by-mansell-upham/
Kategorie:Afrikaans