Die Kalahari-besproeiingskema was ‘n plan om die klimaat van die Kalahari so te verander dat die gebied in ‘n waterryke landbou- en veeteeltstreek omskep word. Verdere navorsing het dit egter bestempel as ‘n onpraktiese idee en weerkundig ‘n dobbelspel waarvan die koste waarskynlik bo die gewin sou gaan.
Plan Prof. E.H.L. Schwarz van die Rhodes-universiteit in Grahamstad het die afwateringspatrone van Afrika in die antieke tye bestudeer en ontwikkel daaruit sy idee om die ou dreineringspatrone van die vroeëre Kalahari te herstel. Hy wys daarop dat daar in die Kalahari groot standhoudende mere bestaan het waarvan die Etoshapan, die Makgadigadi-panne en die Ngamimeer oorblyfsels is. Hulle het enkele eeue gelede begin krimp toe die Kunenerivier, die Choberivier en die Zambezirivier die mere se opvanggebiede begin dreineer. Die verlies van hierdie groot wateroppervlaktes het volgens Schwarz sedert 1860 ‘n afname in die reënval oor die Kalahari-bekken tot gevolg gehad. As hierdie mere herstel kan word, meen hy, kan die al groter wordende Kalahari gerehabiliteer word tot ‘n welvarende boerderystreek. Daarvoor moes daar keerwalle in die Kunene en in die Chobe (net voor sy aansluiting by die Zambesi) gebou word. Dit sou deel van die oortollige water wat na die Atlantiese Oseaan en die Indiese Oseaan wegloop, weglei deur die droë rivierbeddings van ouds na die mere en panne. ‘n Meer van 40000 km² sou na sy berekening uit die Makgadigadipan ontwikkel. Deur verdamping van die oppervlaktewater sou die reënval oor ‘n groot deel van suidelike Afrika styg tot 250 mm per jaar. Die Kalahari sou tot ‘n lushof ontwikkel, boerderymoontlikhede sou ingrypend verbeter en nedersettings sou al langs die rivierlope ontwikkel. Water kon via die rivierlope tot so ver suid as die Moloporivier, ‘n boloop van die Oranjerivier, vloei. Op daardie tydstip sou dit die grootste besproeiingskema ter wêreld wees.
Reaksie Schwarz se voorstelle het gelei tot ‘n stortvloed van wetenskaplike sowel as algemeen-verstaanbare kommentaar en artikels. Die groot publiek en veral die boere het Schwarz se plan entoesiasties ondersteun en hom bewonder vir sy insig. Maar die meeste gleerdes het die aardrykskundige beginsels van sy plan bevraagteken. Hulle was van mening dat die voordele van die plan erg oordryf is. Daarom het die Suid-Afrikaanse owerheid in 1925 ‘n ekspedisie onder dr. A.L. du Toit na die Kalahari gestuur om die situasie ter plekke te bestudeer. Pierre van Ryneveld het ‘n eskader vliegtuie begelei om die gebied van bo-af te bestudeer. In die verslag wat naderhand gelewer is, wys die Du Toit-kommissie daarop dat verskeie aannames wat Schwarz oor die dalende reënvalsyfers, die verdwyning van die groter mere, die voorgestelde klimaatsveranderinge, die hoeveelheid surpluswater wat in die groot riviere afgevoer word, die grondhoogtes en ander aardrykskunndige kenmerke en die berekening van die koste van die beoogde skema bloot verkeerd was of nie wetenskaplik bewys kon word nie. Dus is die projek as prakties onuitvoerbaar beskryf. ‘n Verdere ondersoek in 1945 het die Du Toit-verslag gestaaf.
Betrokke persone Alexander Logie (Alex) du Toit (*Rondebosch, 14 Maart 1878 - †Pinelands, 25 Februarie 1948), geoloog Arthur William Rogers (*Bishops Hull, naby Taunton, Somerset, Engeland, 5 Junie 1872 - †Mowbray, Kaapstad, 23 Junie 1946), geoloog, staatsamptenaar Ernest Hubert Lewis Schwarz (*Sydenham, Londen, 27 Februarie 1873 - †St. Louis, Senegal, 19 Desember 1928), geoloog, geograaf, teoretikus, skrywer. Hy woon sedert 1895 in die Kaapkolonie, was bekend om sy onortdokse sieninge en onderneem met dr. A.W. Rogers die eerste stelselmatige geologiese opname van Suid-Afrika
Bibliografie Green, Lawrence G.: These wonders to behold. Experiences and discoveries of an author in search of the grain of truth in Africa’s strangest tales; and views on certain deep mysteries of Africa, solved and unsolved or never to be solved. Kaapstad: Howard Timmins, 1959 Schwarz, E.H.L.: The Kalahari or Thirstland Redemption. Kaapstad: Maskew Miller, 1920 https://journals.ametsoc.org/view/journals/bams/10/8-9/1520-0477-10_8-9_171.pdf https://www.s2a3.org.za/bio/Biograph_final.php?serial=2521
Kategorie:Meteorologie Kategorie:Landbou Kategorie:Water Kategorie:Botswana